Geen paartjie stap ’n huwelik binne sonder letsels, rowe of ten minste pleisters op skaafplekke nie. Elke verhouding bestaan uit twee mense wat elk hul eie tassie uit die verlede met hul saamdra. Dat dit jou huwelik gaan affekteer, is nie altemit nie…

Soveel vroue is slagoffers van vandalisme. Dit is nie hul meubels, hul voertuie of hul huise wat beskadig word nie, maar hul harte en vertroue. Dít deur mans wat só roekeloos met hul liefde gewerk het, dat dit diep, rou wonde gelos het wat lank sukkel om heeltemal te genees. In die geval van Suid-Afrikaanse sangeres, Nedine Blom, was dit haar pa wat die wonde gelos het. Dit het tot gevolg gehad dat sy haarself op ander gebiede van die lewe seer gekneus het en selfs hier en daar nóg ’n oop wond opgedoen het. Sy én haar man, Bertie, het met stukkende plekke ’n huwelik binnegestap – haar eerste en sy tweede. Sy was onbepland swanger en eensklaps ook stiefma van twee kinders. “Ek het maanskyn, rose en romanse in gedagte gehad. Bertie, aan die ander kant, moes ’n veilige hawe vir sy kinders bewerkstellig binne die raamwerk van ’n huwelik met ’n lewensmaat wat hom vervul en ondersteun.”

Nedine het iets anders gekry as waarvoor sy gehoop het – die kinders se trauma vanweë hul pa en ma se egskeiding, Bertie se skuldgevoelens oor sy kinders se pyn en haar eie stryd om hom genoeg tyd met hulle toe te laat. Nedine het verstote gevoel. “Al hierdie aspekte het ’n geweldige invloed op ons intimiteit gehad. Eerstens omdat ek nie veilig en beskermd gevoel het in my huwelik nie en tweedens was die emosionele uitdaging op so ’n jong ouderdom (25) ontsettend erg,” vertel sy. Reeds in hul eerste huweliksjaar het hulle hul tot professionele hulp gewend. Nedine het helderheid gekry oor die situasie en moes leer om haar emosies te hanteer, terwyl Bertie moes leer hoe om grense te stel en te kommunikeer.

Dit is nou sewe jaar later en Nedine het ’n goeie verhouding met haar man en al drie hul kinders. “Dit het my lank geneem om my vertroue in ons huwelik terug te kry. Ek het besef dat hy werklik my regte huweliksmaat is en dat die tameletjie driekwart gewonne is. Ek het besluit om my visier te stel op sukses en nie mislukking nie en om my huwelik ’n tweede kans te gee. Dit het wilskrag gekos, want ’n mens se eerste reaksie as jy uit ’n geskeide huis kom, is maar om voor so ’n situasie te vlug.”

Nedine se ouers is geskei toe sy sewe jaar oud was. Haar pa was haar alles en skielik was hy weg. Die kinders het hom min gesien en later het hulle geen kontak meer gehad nie. “Die wete dat ons nie vir hom belangrik was nie, was ontsettend pynlik. Ek het die pyn vir lank met my saam gedra.” Soms kom hierdie wonde nog na die oppervlak. Bertie se liefdestaal is byvoorbeeld aanraking, terwyl sy die taal van geskenke praat en mal is oor blomme of ’n briefie op haar kussing. Wanneer Bertie nie haar taal praat nie, interpreteer sy dit vinnig as verwerping “…want ek voel hy dink nie ek is belangrik genoeg in sy lewe om aan die klein dingetjies te dink nie.” Soos baie vroue het sy ’n sterk behoefte aan erkenning, veral omdat sy, deur haar pa se afwesigheid, verwerping ervaar het. Die feit dat sy vandag in ’n bedryf werk waar gereelde verwerping deel van die pakket is, maak dit ook nie juis maklik nie. 

Waar sit die skerp hoeke?

Nedine is een van baie vroue wat met die pyn van ou wonde ’n huwelik binnestap. Hierdie wonde kan enigiets insluit, van molestering as kind, verkragting, eetversteurings, egskeiding, mishandeling en meer. Natuurlik kom hierdie wonde by mans ook voor. Elmari Craig, seksuoloog en huweliksberader, sê dat sy al hoe meer in haar praktyk agterkom dat die meeste seksuele probleme herlei kan word na wonde uit die verlede. Die mees algemene wonde waarmee Elmari te doen kry, is onderdrukte seksuele trauma. Negatiewe emosies kan selfs vanaf geboorte by jou bly omdat ’n mens se selle ’n geheue het, vertel sy. “Hierdie goed kan verskriklik diep lê, veral wanneer ’n mens kyk na molestering of die manier waarop jou ouers teenoor mekaar opgetree het toe jy ’n kind was.”

“Negatiewe boodskappe kan ook wonde vorm, soos ’n kind wat op sy ouers afkom terwyl hulle seks het, of ’n dogtertjie wat ’n pak slae gekry het omdat sy aan haar vagina gevat het. Dít suggereer dat seks vuil en sonde is.”

Ook Wilmé Steenekamp, psigoterapeut, mediese dokter en seksuoloog, beweer dat sy baie dikwels hierdie tipe wonde in haar praktyk teë kom. Soms is die boodskappe verbaal, soos dat iemand, toe jy jonger was, vir jou gesê het: “Weet net dat jy nie die soort meisie is wat jou verlustig aan die seksuele nie,” of kommentaar op televisie, soos: “Kyk nou weer net daai vrou wat haarself so goedkoop maak!” Dit kan ook nie-verbale boodskappe wees soos jou ouers wat van kanale gewissel het wanneer dit duidelik geraak het dat die karakters onder die lakens gaan beland, of ’n negatiewe gesigsuitdrukking toe jy ’n vraag oor seksualiteit gevra het. “Vroue kan dikwels maar net nie maats maak met hul seksualiteit nie.”

Eugene Viljoen, kliniese sielkundige en seksuoloog, sê hy sien dikwels hoe vroue seks negatief beleef ná hul eggenoot byvoorbeeld egbreuk gepleeg het. Daar is woede en wantroue omdat die man nog nie weer haar vertroue kon herwin nie, of andersom. “Daar is ook die vrees dat, indien sy haarself weer sou blootstel, sy emosioneel weer sou seerkry.” ’n Vrou wat emosioneel gewond is, sal sukkel om seksueel te reageer. “So sal ’n vrou wat deur haar man mishandel word, dit ook intens moeilik vind om haarself op ’n seksuele basis oop te stel omdat sy haar, by die persoon waarby sy nie veilig voel nie, moet kwesbaar stel.” ’n Man wat baie drink kan ook ’n vorm van woede, of selfs moedeloosheid en depressie by sy huweliksmaat ontketen. “Aanvanklik het dit nie ’n seksuele konnotasie nie, maar baie gou word dit ’n seksuele probleem.”

Wanneer die simptome na vore tree

Eugene meen dat die basis van hierdie tipe probleem dikwels diep lê. “Ons praat van ’n klomp onderbewuste aksies wat plaasvind en inwerk op die limbiese stelsel van die brein. In die middel van jou brein is ’n paar sentrums wat verantwoordelik is vir goed soos slaap, geheue, honger, dors, jou algemene feel good-sentrum en dan ook natuurlik jou seksuele sentrum. Daar is ’n wisselwerking in jou brein en daardie areas is verantwoordelik vir seksuele opwekking en ook vir die registrering van orgasme. Enige vorm van byvoorbeeld woede, of enige onverwerkte, negatiewe, seksuele ervaring wat homself blootlê in die onderbewuste, word eindelik geïnterpreteer met negatiewe seine wat uitgestuur word na die seksuele sentrum. So, die seksuele sentrum kom nooit by ’n punt uit waar hy hom toelaat om opwekking te ervaar nie.” Eugene meen dit word ’n bose kringloop. “Elke keer wanneer daar byvoorbeeld ’n seksuele ervaring met ’n eggenoot plaasvind, is daar ’n wrewel rondom die seksuele, so jy versterk hierdie negatiewe patroon. Hoe langer dit voortduur, hoe moeiliker raak dit.” Nie net vroue nie, maar ook mans worstel met hierdie tipe probleem. “Mans wat deur hul vroue verkul is, beleef dikwels ’n vorm van minderwaardigheid. Hy dink sy penis is te klein, dat hy sy vrou nie volledig kan bevredig nie en eindelik kan dit teruggelei word na swak selfbeeld.”

Ook Elmari meen dat ’n wond baie rimpelings maak, soos gevoelens van minderwaardigheid, ’n onvermoë om te vertrou of gevoelens van verwerping. “Dan maak vroue hulself toe en sê: “Ek gaan nie toelaat dat enigiemand te na aan my kom nie. Dit het ’n diepgaande invloed op die seksuele omdat albei op sielsvlak moet kan oopmaak vir ’n vervullende sekslewe. Daardie vroue kan net nie ‘laat gaan’ nie.” Sy meen ook dat baie wonde in ’n lewenspatroon omsit. Kobus van der Merwe, ’n verhoudingsterapeut en Imago-kenner sê: “As kind moet jy só versorg word dat jy in jou uniekheid spesiaal is. Daar moet egter gesonde grense ontwikkel. ’n Sterk tema wat deurlopend voorkom by mense wat verwond is, het baie te doen met intimiteit, waarvan seksualiteit deel is. ’n Verwonde persoon wat nog nie genees het nie, dink: ‘As ek my ware self wys, gaan jy my verwerp.’ Sulke mense hou hul afstand en sukkel om intieme verhoudings met hul maats te hê,” vertel hy.

Wat is die effek daarvan?

Ou wonde kom dikwels na vore in die vorm van lae libido, vertel Elmari. “En vroue wat hul seksualiteit ontken, voel nie deel van die seksuele ervaring nie. Hul liggame is op die een plek en hul gees op ’n ander plek. Dit is wanneer daar so-te-sê ’n skeiding is tussen jou siel en jou lyf en wanneer ’n man sê sy vrou neem nie aktief deel aan die seksdaad nie, maar ‘lê daar soos ‘n lyk’.” Ook vroue wat liggaams-onsekerhede het en voel dat hulle onder geen omstandighede kaal voor hul mans kan wees nie, worstel dikwels met wonde uit die verlede. “Dan is daar natuurlik anorgasmiese vroue (vroue wat sukkel om ’n orgasme te bereik), en wonde wat na vore kom in die vorm van vaginisme en pyn.

Ook Wilmé sê: “Hierdie vroue het ’n lae seksdrang of het seks maar geniet dit nooit. Hulle kan ook ervaar dat hulle sukkel om regtig met oorgawe lief te hê of intiem te verkeer.” Soms kom hulle agter dat hulle passiewe aggressie ontoepaslik is en wys hulle dit nie direk nie, maar deur seks te weier of stilstuipe te kry, vertel sy. “Die effek kan dramaties wees en dit is so tragies. Vroue kan vir lank ’n onbevredigde sekslewe lei as gevolg van ou wonde. Hulle hou hulself terug, kan seks nie volkome geniet nie, blameer hul maats onnodig en kan nie ’n orgasme bereik nie.” Eugene meen dat wonde ook op vreemde tye na vore kan kom. “Soms is gewonde vroue juis húlle wat flankeer en terg maar sodra die verhouding dieper raak en haar drang tot voortplanting bevredig is, veral wanneer sy seks net gebruik het om die verhouding mee te versterk, is dit asof die aanvanklike trauma wat op seksuele vlak impakteer, weer na vore tree. Dit is juis hierdie vroue wat sukkel om ’n orgasme te bereik,” vertel hy.

Die roete hospitaal toe

Kobus sê: “Mense wat met intimiteitskwessies worstel, moet dikwels leer hoe om nader aan hul maats te beweeg. Kommunikasie is die beginpunt.” Behalwe vir jou genesingsproses saam met jou terapeut, moet jy ook tyd aan jouself bestee. Om die wond te ontdek, sal beteken dat jy na jouself sal moet kyk en die oorsaak van die wond probeer opspoor. Om die wond skoon te maak, sal behels dat jy miskien weer sal moet “voel” hoe dit was om seer te kry. Jy moet jouself toelaat om te rou en dit kan jy doen deur tyd op jou eie deur te bring, te skryf, te sing, te bid of dit met enigiemand te deel waarmee jy gemaklik voel. “Dit is belangrik om die wond ook toe te plak om dit sodoende teen verdere skade te beskerm en dít doen jy deur empatie en vergifnis. Deur iemand te vergewe, beteken nie dat jy dít wat aan jou gedoen is, verskoonbaar was nie. Dit beteken dat jy wel begryp dat wat gebeur het, niks met jou persoonlik te doen gehad het nie, maar dat jy vasgevang was in ’n kruisvuur van daardie persoon se worsteling met sy eie probleem. Vergifnis laat jou toe om nuwe reëls daar te stel en die spel op jóú voorwaardes te speel. Dit is hier waar veranderinge plaasvind, maar as daar nie empatie teenwoordig is nie, verander die gedrag nie en die wond bly bloei…”

Deur egter daarvan te vergeet, gaan jou niks help nie. “Jy kan dit nie op jou eie oplos nie, want emosioneel lê hierdie dinge te diep,” meen Elmari. “Die ideaal is dat jy by iemand uitkom wat genoeg van die seksuele én die emosionele weet om daardie skakeling te maak, met behulp van individuele terapie.” Elmari voel ook sterk ten gunste van hipnoterapie omdat dit ’n merkwaardige verskil in haar eie lewe gemaak het. Hoewel baie Christene teen hierdie alternatiewe benadering gekant is, meen Elmari dat jy, as Christen, kan kies wie jy wil deelmaak van die genesingsproses en dat dit dan wel God is wat die genesing bring. Dit is nodig vir jou om jou trauma te hanteer sodat die negatiewe emosies nie die energie in jou liggaam blokkeer nie.

Ook Eugene sê dat dit absoluut moontlik is om wonde te laat genees deur middel van seksterapie en deur onverwerkte situasies te hanteer. “Daar is baie metodes, soos hipnoterapie, kognitiewe gedragsmodulering en die manier waarop ’n mens die probleem sou aanpak, sou wees om negatiewe gevoelens te konfronteer en jouself vir herontdekking oop te stel. Hy meen ook dat professionele hulp nodig is vir emosionele en verhoudingsprobleme. “Daar is nie spontane remissie nie. Ook nie die spontane verwydering van die probleem nie. Om werklikwaar ’n wond op ’n permanente basis te genees, moet slagoffers ’n seksuoloog gaan sien wat ondervinding het in onder meer die psigo-terapeutiese raamwerk.” Verhoudingsterapie delf nie diep genoeg nie, sê hy. Veral omdat ervaringe uit die verlede dikwels onderdruk word en soms só ver weg gebêre word dat jy nie daarby kan uitkom nie. “Ons is liggaam/psige geïntegreerde wesens, nie net fisiek of emosioneel nie…”

Wilmé stel voor dat slagoffers hulself bes moontlik moet toerus met inligting oor die kwessie. “Saam met introspeksie is professionele hulp die belangrikste omdat ’n professionele persoon objektief is, ander perspektiewe kan toon en saam met jou ’n pad kan stap om geleidelik die wonde te help genees. So ’n persoon kan jou maat ook leer hoe om jou probleem met empatie te hanteer en saam met jou die pad van genesing stap.”

Dit is belangrik om te weet dat hoewel oor-die-toonbank-medikasie en tuisbehandeling jou aanvanklik kan help om jou seerplekke te ontdek, dit nie kragtig genoeg is om jou wonde mee te behandel nie en professionele hulp is altyd belangrik. Emosionele genesing is nie maklik nie, maar om die telefoon op te tel en daardie afspraak te maak, kan jou lewe binne etlike maande handomkeer verander. Onthou, jy is in beheer en dit is nie nodig dat wonde uit jou verlede jou toekoms hoef te dikteer nie…