Vergeet vir hierdie seisoen wat die Europese lande doen, want hul modes kan jou net verwar en onnodige geld kos. Hulle het lang winters en ons het lang somers, en dit gaan nie verander nie.

Promosie

Die winter is op ons, en gemak is ons voorland wanneer die koue winde waai. Ons woon in ’n pragtige land waar “winter” soms beteken dat ons net nog ’n laag klere moet aantrek, en vir die somer: Dat ons nie meer ’n jas hoef te dra nie. Een konstante gebruik is egter dat sekere kledingstukke die hele jaar lank gedra kan word . . . nagklere.

Ons klim vroeër in ons pajamas, gooi ’n japon bo-oor en eet graag ’n ekstra bordjie sop vir warmte, maar dit bring daardie ekstra kilo of twee vinnig nader. Ons hoef nie te hiberneer vir so lank as wat die Europeërs doen nie. Ons hoef net vir ’n baie kort rukkie deur te druk na die volgende seisoen en met hierdie tipe toewyding is jy vinnig gereed vir die lente.

Die son bring tydelike verligting in die winter en sorg vir onmiddellike energie in die lente, maar met die draai van die seisoene word die dae weer langer en die nagte korter – en kort voor lank is dit weer tyd vir die helder kleure wat deur die modesiklus beloof word. Dit is met groot opgewondenheid en sekerheid dat die lentebloeisels binnekort vroliker klerekaste gaan optower.

Promosie

Hier is drie dinge wat jy moet doen vir die koue dae en nagte wat nog voorlê . . . drie dinge wat jou modieus en stylvol laat bly sonder om ’n totale nuwe klerekas aan te skaf vir die kort, koue seisoene van Suid-Afrika:

• Dra verlede jaar se jas wanneer dit koud is (ongeag of dit vaal en “reeds gesien” is), en helder dit op met ’n kleurvolle serpie en bykomstighede.
• Dra verlede jaar se skoene. Dis gemaklik en uitgetrap, maar sorg dat jou grimering ’n tikkie kleur in het.
• Dra verlede jaar se handsak, maar sorg dat jou juwele silwerskoon is en jou naels perfek gemanikuur is.

Ek sou ook graag met my pajamas wou uitgaan na die plaaslike winkels, maar ongelukkig is dit ’n prentjie wat ek nie
graag wil hê enigeen moet sien nie. Sommige mense doen dit en daar is selfs ’n wêreldwye neiging om dit mode te maak, maar ek verkies om met groot toewyding en deursettingsvermoë eerder die meer stylvolle ding te doen.

Dagklere is nie aandklere nie en nagklere is nie vir die publieke oog nie. Dit is vir jou binnekamer . . .

Volg my gerus op sosiale media, Facebook, Twitter en LinkedIn by @simonrademan.
(012) 460 5106
www.simonrademan.co.za
www.thestylebible.co.za

Simon Rademan, skrywer van The Style Bible, is ’n meester met aand- en troudrag, en deel 2018 se mode- en stylneigings eksklusief met Intiem.

Krediete vir foto:
Modelle: Marelies Coetzee (blond) en Louisa Steyn (donker hare)
(Beide geklee deur Simon Rademan)