Min getroude pare se liefde en huwelik word nie een of ander tyd deur ’n krisis getoets nie. Maar waarheen wend jy jou as egpaar? Het jy en manlief professionele hulp nodig of kan julle by jul dominee se deur om hulp aanklop. Is sy raad genoeg om jul wankelende bootjie deur die stormwaters te lei?

Promosie

“Jy moet maar te dankbaar wees as sy meneer paraat voor jou kom staan!” Marlene* onthou nog goed haar dominee se woorde. Sy oplossing vir hul sukkelende huwelik van vyf jaar was dat sy te afsydig is en haar man fisies afskeep. Maar tussen die pot aan die kook hou, ’n koliek baba en besige huishouding, het kommunikasie en die pret in hul verhouding deur die krake verdwyn. Werner* het hom al meer aan hul verhouding onttrek, met ’n buite-egtelike verhouding begin en ’n jaar gelede het hulle in die skeihof beland.

Marlene sukkel vandag steeds om die stukke op te tel. Sy glo dit kon dalk anders gewees het as sy en Werner die nodige leiding gekry het om die stukke van hul verbrokkelde huwelik op te tel. Seks is as ’n kitsoplossing aangebied, maar dit was op die ou end nie genoeg om hulle bymekaar te hou nie. Marlene het met die lang pad na herstel begin, en besef nou eers wat haar aandeel in hul mislukte huwelik was. Sy wens sy en Werner het destyds eerder by ’n professionele berader gaan hulp soek toe daar nog ’n kans op herstel was.

Waarheen met ons probleem?

Promosie

Dit is ’n kwessie waarmee baie paartjies spook. Moet ek na my dominee met my probleme gaan of moet ek ’n professionele terapeut nader? Ds. Colin Smith van die Netwerk vir Lewe Sentrum in Centurion sê dis belangrik om in gedagte te hou dat dominees nie ’n one size fits all kan wees nie. “Hoewel daar in ’n predikant se opleiding aandag aan berading gegee word, verskil elkeen se gawe, passie en sterk punte van ’n ander s’n. Dit sal onbillik wees om van elke predikant te verwag om dieselfde passie ten opsigte van berading as sodanig te deel.”
Dr Wilmé Steenekamp, ’n sielkundige, stem saam. “Ek dink baie dominees doen noodgedwonge berading omdat gemeentelede dikwels vir raad en antwoorde na hulle toe kom, maar dit is nie noodwendig hul area van bekwaamheid nie.” In só ’n geval behoort ’n predikant egter eerlik te wees en die persoon na ’n professionele persoon te verwys.

So, wat is die verskil tussen berading en terapie? Wilmé sê dis nogal ’n grys area. Selfs ’n gesprek met ’n vriendin kan terapeuties wees. “Sielkundige terapie is waarskynlik meer gestruktureerde, getoetste terapie, terwyl berading eerder fokus op luister en raad gee.” Colin voeg by dat berading meer soos ’n gesprek binne ’n bepaalde tydraamwerk is. Die paartjie se probleem word ook volgens Bybelse beginsels hanteer. Formele terapie is meer ’n proses wat deur ’n professionele persoon begelei word en waar sekere sake met verloop van tyd deurgewerk word om spesifieke uitkomste te bereik.

Hoe kies ek ’n berader?

Wetgewing is onlangs ingestel om beraders te verplig om by die Mediese Raad te registreer. Só ’n persoon moet oor ’n kwalifikasie gelykstaande aan ’n honneursgraad beskik, ’n eksamen by die Mediese Raad aflê en aan verskeie etiese reëls voldoen om registrasie te behou. Dit is belangrik om uit te vind of ’n spesifieke persoon wel opgelei is en die nodige kennis het om byvoorbeeld verhoudings probleme te hanteer. Doen navrae en wees spesifiek oor jul probleem.
Hoe weet jy watter berader om te kies? Jy moet by die persoon aanklank vind. Mettertyd word daar ’n vertrouensverhouding opgebou. Dit gebeur egter nie noodwendig in die eerste sessie nie. Wees krities en kyk of die predikant of terapeut ondervinding van jou spesifieke probleem het. Colin sê berading is gewoonlik handig wanneer dit by verhouding sake en geestelike vrae kom, terwyl terapie meer by ernstiger psigiese of sielkundige probleme hoort. Daar is egter predikante en pastore wat nie opgewasse is om sekere verhoudings probleme te hanteer nie.

Berading is ’n baie persoonlike proses. Wilmé sê hoe meer kompleks jou situasie is, hoe meer vaardig moet jou hulpverlener wees. ’n Goeie berader (of dominee) is volgens Colin ’n reisgenoot wat saam met jou soek na die stukkies hoop van jou eie menswees en storie. “Ek dink mens moet vir jouself vra: Het ek ’n nuwe perspektief nodig? Is ek stuck in my situasie? Is ek besig om dieselfde storie oor en oor in my gedagtes af te speel sonder om enige nuwe perspektief daarop te kry?” As daar nie vordering tydens die sessies is nie, gaan na iemand anders toe. Colin beklemtoon egter dat berading nie ’n stukkie magic is wat alles regmaak nie. As albei partye nie bereid is om na mekaar te luister en die ander een se belange eerste te stel nie, kan daar nie ’n wen-wen uitkoms wees nie.

’n Holistiese aanslag is die beste

’n Sielkundige van Kimberley, Charlene Lauff, spesialiseer in verhoudingsterapie. Sy beklemtoon dat ’n mens breër na die probleem moet kyk. Dit behoort nie ’n either/or-situasie te wees nie. Terwyl die predikant die geestelike aspek van die probleem moet hanteer, behoort die sielkundige na die kliniese probleem te kyk. As jy byvoorbeeld op seksuele gebied met jou man sukkel omdat jy as kind moes hoor hoe verkeerd seks is, kan jou dominee jou help om deur jou skuldgevoelens te werk, terwyl ’n seksterapeut prakties kan bydrae om jul huwelik weer op dreef te kry. Geen kundige kan in isolasie werk nie. Charlene sê die onderskeie professies vul mekaar aan en elkeen moet sy rol speel om sukses te bereik.

Pastoor Hansie Smit van STEP Ministries in Pretoria stem saam. Hy voeg by dat baie probleme ’n geestelike aspek het. As ’n man byvoorbeeld sy vrou verkul het, is daar sterk skuldgevoelens teenoor God, homself en sy vrou. Die sonde-aspek is die kerk se terrein waar mense moet versoen. Mense wat met ’n krisis worstel, wil weet waar is God in die prentjie en of Hy hulle kan help. “Maar ek kan nie ’n sielkundige vervang nie, dieselfde geld vir sielkundiges. Al die partye wat kan, moet help om die skade te genees. Daar moet ’n multi-dissiplinêre benadering gevolg word. Elkeen is ’n spesialis op sy eie gebied, niemand dek die hele veld nie. Daar moet holisties na ’n probleem gekyk word.”

In watter opsig kan berading wel help en wat kan ek verwag?

Berading is ’n saam luister na jou eie storie – ’n ontdekking van nuwe moontlikhede en ander perspektiewe op jou eie reis. Colin sê die proses behels saam luister, saam gesels en saam deel word van ’n nuwe storie. Wilmé voeg by dat berading kan help om interaksies en julle eie gedrag beter te verstaan. Jy verstaan byvoorbeeld vir die eerste keer dat jy konflik in jou eie verhouding vermy omdat jy nooit jou ouers sien baklei het nie. Hierdie reis van selfontdekking kan jou help om jou eie verhouding beter te verstaan. Dikwels is jou dominee die ideale persoon omdat hy jou reeds goed ken.

Wilmé sê die reis gaan meer as een sessie insluit. Mense en verhoudings is kompleks! Daar is ’n rede hoekom jy en manlief na vyf jaar nie meer met mekaar praat nie. Dit het nie oornag gebeur nie! “Die reis gaan baie oor introspeksie, luister, leer en verstaan. Julle moet egter ook deernis met mekaar hê.” Gewoonlik moet mense ook hard werk aan kommunikasievaardighede. Dit kom nie so natuurlik as wat ons dink nie!

Watter probleme is vir watter terapie geskik?

As julle as paartjie seksuele probleme ervaar, sou dit sinvol wees om ’n terapeut te kies wat vaardig is in verhoudings-, individuele en seksterapie. Wilmé sê wat sielkundige terapeutiese metodes betref, moet die berader en die kliënt bepaal of die terapie vir die spesifieke persoon en probleem werk. “Dis ’n dinamiese proses en baie soorte terapie is dikwels nodig om verskillende fasette van ’n probleem aan te spreek. As jou man jou byvoorbeeld emosioneel afknou, is dit goed om ’n sielkundige te sien wat in verhoudingsterapie spesialiseer, terwyl jou predikant die godsdienstige element daarvan kan hanteer. Hoe behoort ’n man sy vrou volgens die Bybel te hanteer?” Charlene beklemtoon dat ’n spanpoging op die ou end baie meer suksesvol is en dat ’n probleem nie in isolasie hanteer moet word nie.

Wanneer kan berading jou huwelik beskadig?

Daar is nie kitsoplossings en vinnige antwoorde nie. Terapie, hetsy by ’n predikant of professionele terapeut, gebeur oor tyd. Albei van julle moet ook ernstig wees om ’n oplossing te vind. Maar ’n belangrike skakel in die proses is die regte terapeut. Volgens Wilme moet jy uitkyk vir vertroue, opregtheid en groei. Charlene voeg by dat ’n persoon wat buite sy spesialiteit raamwerk optree, skade kan aanrig. ’n Persoon wat nie opgelei is om disfunksionele kommunikasie style en persoonlikheidstipes raak te sien nie, kan ’n paartjie van die wal af in die sloot help. Soms is medikasie vir depressie ook nodig en die probleem kan vererger as ’n persoon nie betyds behandel word nie.
Beraders Gustav en Elna Muller meen dat wanneer albei partye bereid is om aan hul huwelik te werk en saam vir berading gaan, hulle ’n suksessyfer van 90% in hul praktyk ervaar! Moet dus nie moed opgee nie – daar ís hoop, mits jy by die regte hulpbron uitkom.

Waar kan ek hulp kry?

’n Mens is baie keer geneig om teen finansies vas te kyk. As jou dominee jou nie kan help nie, kan jy by die Raad vir Maatskaplike Werkers om hulp aanklop. Hulle behoort jou na ’n terapeut in jou omgewing te verwys. Of skakel die Mediese Raad vir ’n terapeut wat op ’n sekere gebied spesialiseer.

Dr Wilme Steenekamp: +64 20 4136 2695 (Australie); wilme5555@gmail.com
Elmari Mulder Craig (seksuoloog, huweliksberader, psigoterapeut): 082 5563042; elmaricraig@gmail.com
Pastoor Hansie Smit: 083 457 5049
Netwerk vir Lewe Sentrum (berading): 012 663 1610
NG Welsyn: 018 297 3928
Gustav en Elna Muller (huweliksberaders): www.keys4marriage.co.za 083 454 9622

Artikel deur Ilette Coetzer