Kan jy jou troubeloftes onthou? Maak dit sin en is dit enigsins nog relevant in jou oë? Dit is dalk tyd om jou beloftes te hersien en ’n splinternuwe gedragskode vir jou huwelik saam te stel.
Wat is jou herinnering van jou troubeloftes? Het julle jul eie beloftes neergeskryf of, blind deur ’n waas van verliefdheid, bloot die predikant se woorde herhaal? Dalk het hy oor sy woorde gestotter en miskien het jy só gehuil dat jy joune nie kon lees nie. Hoe dit ook al sy, mettertyd vervaag daardie herinneringe. Baie mense was só opgesweep deur die oorweldiging van hul troudag dat hulle net mooi niks kan onthou nie.
Dit is dalk tyd om ’n gedragskode vir jou huwelik op te stel. ’n Gedragskode is ’n belangrike dokument in enige organisasie. Dit maak die organisasie se missie, waardes en beginsels duidelik sodat alle betrokke partye duidelik bewus is van die etiek wat in ’n organisasie heers.
Wikipedia beskryf dit as ’n stel reëls wat sosiale norme, geloofsreëls en verantwoordelikhede of behoorlike praktyke vir ’n individu uiteensit. Dit beskerm die besigheid en lig die werknemers in aangaande die organisasie se verwagtinge van hulle.
Dink aan jou huwelik as die “besigheid” en aan jou en jou maat as werknemers wat by die gedragskode moet hou om die “besigheid” te beskerm. Jy ken dalk die vae “reëls” – daardie reëls wat standaard vir elke huwelik is, soos getrouheid en respek. Maar ken jy die fynere nuanses wat jou maat soveel gelukkiger kan maak en jou huwelik soveel meer suksesvol?
Hier is ses voornemens wat jy in jul gedragskode kan vervat en wat weldra tot goeie gewoontes in jou huwelik sal lei:
1. Toewyding #1: Ons sal eerlik leef op ’n daaglikse basis sodat belydenis en vergifnis deel van ons daaglikse kultuur word. Kyk na die drie kernwoorde wat hier ’n rol speel: Eerlik, belydenis en vergifnis. Hierdie toewyding beteken eerstens dat julle deursigtig sal wees teenoor mekaar en dat daar géén plek vir geheime in jul huwelik sal wees nie (nie die een oor Sarie se affair nie en ook nie die een oor jou verhoogde kredietkaartlimiet nie). Dit beteken ook dat julle veilig genoeg sal voel om jul foute en swakhede teenoor mekaar te bely, en dat julle mekaar sal vergewe – op ’n daaglikse basis.
2. Toewyding #2: Ons sal groei binne ons huwelik verwelkom, maar seker maak ons groei nie weg van mekaar nie. Hierdie toewyding beteken dat julle mekaar genoeg ruimte sal gun om as individue te groei, maar ook as ’n eenheid. Gun jou maat daardie nuwe stokperdjie en moet self nie huiwer om geleenthede aan te gryp waar jy nuwe vriendinne kan maak nie. Pak nuwe uitdagings aan en verbreed jul horisonne as ’n paartjie.
3. Toewyding #3: Ons sal saamwerk om seker te maak ons “organisasie” spreek van liefde en vertroue. Dink aan liefde en vertroue in jou huwelik soos jou ouma se kosbaarste Royal Albert-teepot, wat jy hoog bo-op jou kas bêre en wat deur niemand anders skoongemaak mag word nie. Dis kosbaar en word met sorg hanteer, want jy weet dat as dié porseleinstuk breek, dit nie weer aanmekaargesit kan word soos voorheen nie. Vertroue laat jou en jou maat toe om alle bedreigings (intern en ekstern) te hanteer. Dit laat jou en jou maat toe om die moeilikste onderwerpe te bespreek en om mekaar se diepste en mees weerlose brokstukke met sorg te hanteer.
4. Toewyding #4: Ons sal ons verskille met sorg en versigtigheid hanteer. Dié een is baie belangrik, want in ’n oomblik van blinde woede kan baie onherstelbare skade aan ’n verhouding aangerig word. Natuurlik verskil jy en jou maat tot ’n groot mate. Ons Skepper het julle uniek geskape, só dat julle nie in elke opsig ooreenstem nie, maar dat julle mekaar kan aanvul. Maak vandag ’n voorneme om goeie konflikhantering die belangrikste prioriteit in jul huwelik te maak. As julle sukkel in dié opsig, roep die hulp van ’n gekwalifiseerde terapeut in, wat julle kan leer hoe om goeie konflikhanteringstegnieke baas te raak.
5. Toewyding #5: Ons sal elke dag in dankbaarheid teenoor mekaar leef. Om mekaar te waardeer, is ’n baie belangrike aspek van enige huwelik. Nie net omdat jou waardering teenoor jou maat ’n positiewe uitwerking op jou verhouding het nie, maar ook omdat dit beteken dat jy jou maat nie as vanselfsprekend aanvaar nie. Om elke dag met dankbaarheid na jou maat te kyk, maak jou van voor af bewus van die feit dat jy geseënd is om in hierdie huwelik te wees en dat jy hierdie kosbaarheid nie deur jou vingers kan laat glip nie.
6. Toewyding #6: Ons sal altyd saam met Hom funksioneer as ’n driedubbele tou. God moet sentraal in jou huwelik staan. Met Hom as middelpunt van jul verhouding kan julle nie verkeerd gaan nie. Maak dus seker julle dra jul huwelik daagliks aan Hom op. Bid vir jou maat en seën jou maat. Wanneer julle voor ’n moeilike keuse te staan kom, maak daarvan ’n gebedsaak en prys en dank Hom daagliks vir die voorreg om deel van mekaar se lewens te kan wees.
Dit is ’n voorbeeld van hoe jul gedragskode kan lyk, maar julle kan die inhoud aanpas na gelang van jul huwelik. Maak dit meer spesifiek as julle dit sou verkies. Tik dit op mooi papier en raam dit sodat julle elke dag daarna kan kyk en mekaar hieraan kan herinner.