Daar is huwelike wat floreer. Daar is huwelike wat misluk. En dan is daar die in-betweeners… Huwelike wat nie werk nie, maar ook nie in die skeihof beland nie.
Die teologiese betekenis van die uitdrukking “in limbo” in die Katolieke leringe is die Hiernamaals, maar nie soos ons dit ken nie. Daar word gemeen dat vóór Jesus aan die kruis vir ons sondes gesterf het (en sondes dus nog nie vergeef was nie), die hemel steeds “gesluit” was en heilige gestorwenes “in limbo” gewag het vir die koms van Christus. “In limbo” is dus beskou as die “voorportaal” van die hemel en ook die plek waarheen ongeredde, maar tog onskuldige, babas en kinders sou gaan.
Vandag ken ons die begrip “in limbo” as ’n situasie wat onopgelos is en wat nie lyk asof dit baie gou opgelos gaan word nie. ’n Tussenin-situasie…
Lees jy die Macquarie Woordeboek se verduideliking, sien jy egter: “’n Plek waar mense of dinge beskou word as verplaas wanneer dit eenkant geskuif word, vergeet word…” En nog erger: ’n Tronk. Ook dié woordeboek beskryf dit as ’n situasie wat geken word aan onsekerheid, asof daar gewag word vir ’n besluit om geneem te word.
’N HUWELIK “IN LIMBO”
Ashley en Quintin is sewe jaar getroud. Die afgelope twee jaar hang sy klere in die spaarkamerkas. “Dis omdat Pappa snork,” word daar vir die kinders vertel en die res van die wêreld dink hulle is die perfekte paartjie.
Lisa en Johan leef in dieselfde huis, deel rekeninge en maak kinders groot, maar het mekaar 18 maande laas ’n soen gegee (om van seks nie te praat nie!). Die huwelik is tans… wel, ’n gerieflike arrangement.
En Sonja is sielsongelukkig in haar huwelik en dood van binne. Wouter ook. Hulle erken dat daar nie meer liefde tussen hulle heers nie… maar Sonja het geen tersiêre opleiding nie en weet nie hoe sy finansieel in die wêreld daar buite sal regkom nie. Wouter weet nie hoe hy sonder Sonja sal klaarkom, wat die huishouding bestuur, nie. Hulle het geen begeerte om vir huweliksberading te gaan nie… en nog minder om te skei.
Die “ongeskeides”, noem kenners deesdae huwelike “in limbo”. Sulke paartjies is emosioneel van mekaar geskei, maar nie op papier nie. Diegene wat só ’n huwelik het, leef saam soos kamermaats. Hulle groet mekaar beleefd en elkeen doen sy eie ding – sonder enige regsfooie en twis. Hulle is “deeltyds getroud”. Vir sommige paartjies is dit ter wille van die kinders, vir ander is dit finansieel gerieflik en ander sien net nie kans om die “geskeide paartjie” te wees nie. Só hou hulle ’n agterdeur oop… niks is finaal nie en dis heel gerieflik.
IS DIT DIE OPLOSSING?
Sielkundige Dorothy Rowe meen die groeiende hoeveelheid huwelike “in limbo” en halfhartige separations is ’n siekte van die moderne samelewing. “Mense is net ’n bietjie te gemaklik. In hul agterkoppe voel hulle hulle kan steeds alles hê. Maar basies kan jy nie.” Dis ’n vermydingstaktiek, meen dié wat weet.
Volgens dr Wendy Walsh, sielkundige en outeur, is daar drie kategorieë paartjies wat “in limbo” bly. Eerstens: Welgestelde paartjies wat finansieel daaronder sal ly indien hulle skei. Tweedens: Paartjies wat hul kinders vanuit verskillende huise grootmaak terwyl mediese en lewensversekeringspolisse in plek bly, en derdens: ’n Groep draadsitters wat intimiteit en emosionele toewyding vrees (as jy getroud bly sonder enige emosionele toewyding, word dit nooit weer in die toekoms van jou verwag nie).
Natuurlik is dié ’n verloorsituasie, meen sy. En selfs finansieel is dit nie die ideaal nie. ’n Paartjie se finansies is steeds ineengestrengel en die ander een bly deels verantwoordelik sou een finansieel floreer óf krepeer. “Vir my, die vrou wat empatie, compassion en konneksie preek, gaan daar veel meer aan psigologies as slegs finansiële gerief. Ek sal my huis sit op die feit dat in baie gevalle van ‘ongeskeides’ een lewensmaat steeds in die geheim na die ander verlang, en selfs ’n bietjie attachment aan ’n draadjie gee hoop vir daardie verlange,” meen sy.
Debbie Mandel, BellaOnline se stresbestuurder-redakteur, skryf op hul webtuiste: “’n Nie-egskeiding kom met verskuilde kostes en beroof jou van gesondheid en geluk. Jou passievolle lewe verander in klip, jy dra ’n masker en jy kry nie die gesondheidsvoordele van ’n goeie huwelik wat jou immuunstelsel ’n hupstoot gee en jou kardiovaskulêre stelsel verbeter nie. Jy voel dikwels vasgevang en gespanne omdat jy vir soveel minder settle.”
MAAR HOE GEMAAK AS JY HIER IS?
Hoewel dit na die maklike uitweg lyk, moet paartjies hulself nie flous nie, meen kenners. Natuurlik moet ’n paartjie in dié situasie aksie neem en die gewenste aksie sou wees om die huwelik te probeer red. Niemand verdien ’n huwelik “in limbo” nie. Dis ongelukkig ’n gekompliseerde situasie en hoe jy jou huwelik red, hang af van die rede waarom julle besluit het om “ongeskeides” te word.
KÉN DIE GEVAARTEKENS:
Sit regop en neem dadelik aksie as jy die volgende gevaartekens gereeld in jou huwelik raaksien:
- Dit voel asof julle niks meer in gemeen het nie. Spandeer julle ure saam (by die huis, sosiale geleenthede en dies meer), maar het een van daardie paartjies geword wat in ’n restaurant oorkant mekaar sit, elk besig met sy eie selfoon sonder om ’n woord te sê?
- Jy hoor heel laaste… Voel dit skielik asof jou maat alles met almal om jou deel, maar nooit met jou nie? Hy gesels nie meer met jou oor sy loopbaan, drome of dit wat hom pla nie.
- Daar is ’n verandering in jou maat se voorkoms. Soos wat paartjies gewoond raak aan mekaar, verdwyn daardie begeerte om altyd perfek te lyk, maar as daar ’n skielike dramatiese verandering in jou maat se voorkoms is, gee hy/sy dalk nie veel meer om nie.
- Skielik is daar altyd iets anders. As dit voel asof julle mekaar begin vermy en daar altyd iets belangriker is om te doen as om tyd saam te spandeer, is die probleem veel dieper.
- Julle baklei oor dieselfde dinge. Julle argumente klink soos ’n grammofoonplaat wat speel. Altyd dieselfde roetine, altyd dieselfde woorde. En nooit ’n oplossing nie. As dít die geval is, staan jou huwelik stil of dis besig om ’n stille dood te sterf.
- Die intimiteit is weg. As daar ’n merkbare afname is in jul intimiteit, het julle probleme. Intimiteit is daardie gom wat julle saambind. En as daar geen fisieke intimiteit is nie, kan emosionele intimiteit ook nie floreer nie.
KEER SÓ DAT JOU HUWELIK KWYN…
- Waardeer jou maat.
Leef in dankbaarheid en vermy dit ten alle koste om jou maat as vanselfsprekend te aanvaar. Sien die klein dingetjies raak.
- Breek die roetine.
’n Huwelik verval dikwels “in limbo” as gevolg van roetine en verveling. Maak vanaand spek en eiers vir aandete. Glo julle in laatmiddag-knypies? Maak manlief wakker met ’n verrassing! Doen alles in jou vermoë om verveling in jou huwelik teen te werk.
- Doen iets saam.
Of dit nou is om soggens saam te gaan draf of om saam vir kooklesse te gaan. Dit versterk die intimiteit en maak kommunikasie onvermydelik.
- Raak aan mekaar.
Dit voel dalk geforseerd, maar fisieke kontak (nie-seksuele kontak) sal ook ’n warmte tussen julle vestig, wat bydra tot intimiteit.
- Vra jouself elke oggend: “Hoe kan ek my maat se dag lekkerder of beter maak?”
Soms is dit in die klein dingetjies – ’n glimlag, ’n briefie, ’n stoute aanmerking of ’n mooi SMS wat ’n reuse verskil kan maak en ’n huwelik uit ’n so-so groef kan hou…
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.mamamia.com, www.huffintonpost.com, wwwdrwendywalsh.com, www.well.blogs.nytimes.com, www.divorcesupport.com