Wanneer word ’n vriendskap ’n affair? En watter een is erger – wanneer jou maat jou aanlyn verkul met iemand teenoor wie sy haar hart uitstort of as jou maat gaan lepellê langs ’n vreemdeling wat in jou slaai kom krap het? Intiem ondersoek emosionele versus fisieke affairs.
Na ’n huwelik van 15 jaar het Gideon* besef hy en Antoinette* was besig om uitmekaar te dryf. “Sy het my al hoe meer in die slaapkamer begin verwerp en ek het moeg geraak daarvoor. Nie net het ek nie geliefd gevoel nie, maar daar was naderhand geen intimiteit meer tussen ons nie.”
Gideon gaan haal die kinders smiddae by die skool omdat sy werk meer buigbaar is as Antoinette s’n en dit is waar hy vir Daleen* ontmoet het. “Voor skooltyd het ons deur ons motorvensters gesels en gou het ’n hegte vriendskap ontstaan. Soms sou ons mekaar effens vroeër kry en eers gaan koffie drink. Toe hulle na ’n ander stad toe trek, het ons mekaar se geselskap begin mis en oor die Internet begin gesels – al hoe meer gereeld. Sy was ’n wonderlike vrou en het my nie veroordeel nie…”
*Dié is nie ’n ware verhaal nie, maar ’n weergawe van verskeie ware verhale en briewe wat in INTIEM se inbox beland het. Geen huwelik word gevrywaar van ’n affair nie – hetsy fisiek of emosioneel. Wees voorbereid op hoe maklik dit gebeur…
WAT IS ’N EMOSIONELE AFFAIR TEENOOR ’N FISIEKE AFFAIR?
Wanneer iemand jou vertel dat sy of haar geliefde hom of haar verkul het met ’n ander persoon, neem jy gewoonlik aan dat die persoon verwys na ’n seksuele affair. “’n Seksuele affair,” sê Mari Capati, navorsing-sielkundige en berader, “is ’n fisieke verhouding met iemand anders as jou maat. Sulke verhoudings begin nie noodwendig met seks nie, maar byvoorbeeld met geselsies en subtiele aanrakings.”
Cheating is egter nie beperk tot seks nie. Inteendeel, emosionele affairs (waar geen seks betrokke is nie) is steeds cheating. Dit is juis mense se wanbegrip oor die term wat maak dat emosionele affairs amper gevaarliker is as seksuele affairs.
“Die grense van ’n emosionele affair kan vaag wees. Die persoon hoef ook nie fisiek teenwoordig te wees nie – ’n mens kan emosionele affairs aanlyn of via WhatsApps of sosiale media-platforms hê,” sê Mari.
“Ons het almal kontak met ander mense nodig, maar wanneer jy in ’n intens emosioneel, intieme verhouding met iemand anders as jou lewensmaat betrokke begin raak, moet jy versigtig wees.”
Sodra jou gevoelens en gedagtes rondom ’n ander persoon begin draai, is jy skuldig aan ’n emosionele affair. Dit kan enige iets behels vanaf doelbewuste flirting tot die onskuldige “ek soek net ’n simpatieke oor by my oulike vriend”. Te danke aan tegnologie, is dit deesdae so maklik om ’n emosionele affair te hê dat mense nie eers aldag besef dat hulle betrokke is by een nie. Selfone en die Internet maak dit moontlik om verhoudings met mense aan te knoop sonder ’n gesig-tot-gesig ontmoeting. Dikwels lei emosionele affairs tot fisiese ontmoetings en gevolglik seks.
WATTER EEN VAN DIE TWEE IS ERGER?
Dit hang af wie jy vra. Navorsing toon dat mans seksuele cheating moeiliker verwerk, terwyl vroue ’n emosionele affair as meer skadelik sien. Victoria Milan, ’n webtuiste vir mense wat op soek is na affairs, het ’n opname onder 5 000 van hulle eie lede gedoen en die volgende gevind:
- Altesaam 72% van mans sê seksuele affairs is erger as emosionele affairs.
- Altesaam 69% van vroue dink emosionele affairs is erger as seksuele affairs.
- Altesaam 76% van vroue is bereid om hul maats te vergewe vir ’n seksuele affair alleenlik. Slegs 35% van mans sou dieselfde doen.
- Altesaam 80% van mans sal bereid wees om hulle maats te vergewe vir ’n emosionele affair alleenlik. Slegs 30% van vroue sal dieselfde doen.
INTIEM het ’n paar anonieme deelnemers gevra wat hul siening oor die saak is. Menings van vroue het gewissel van: “’n Emosionele affair is erger omdat daar gewoonlik leuens by betrokke is” tot “Albei is ewe erg omdat die dieper band tussen jou en jou man deur ’n emosionele affair vernietig word, maar ’n seksuele affair ook neerkom op verwerping.” ’n Ander deelnemer het saamgestem dat dit erger is om emosioneel verkul te word: “Dit het met my gebeur. Jy kan iemand vergewe as hy seks met iemand anders gehad het, maar nie as hy emosioneel met iemand ‘verkeer’ het nie.”
Omdat baie mans nie emosioneel betrokke by die seksdaad is nie, meen sommige deelnemers dat ’n emosionele affair dalk erger is en een van die mans wat gepols is, het erken: “’n Emosionele affair is erger omdat seks betekenisloos kan wees.”
Gerda Kriel, ’n kliniese sielkundige van Kaapstad, verduidelik: “’n Seksuele affair word as meer ‘amptelik’ beskou, maar emosionele ontrouheid bedreig ook die integriteit van ’n huwelik. In beide gevalle word vertroue en intimiteit geraak, wat eindelose skade veroorsaak.”
KAN ’N HUWELIK HERSTEL NÁ ’N AFFAIR?
Volgens Gerda hang die herstel van vertroue in die verhouding af van individuele faktore, byvoorbeeld hoe lank die affair geduur het, of daar vantevore ’n vertrouensbreuk was en veral ook of beide maats toegewy is tot die herstel. “Dit is noodsaaklik vir die maat wat die affair gehad het, om sy/haar misstap te erken en sáám te werk daaraan om weer die vertroue te herstel. Vergifnis is ’n belangrike eerste stap in hierdie rigting,” sê Gerda.
“Sommige huwelike herstel ná ’n seksuele affair, en ander herstel glad nie ná ’n emosionele affair nie. Dit hang af of beide huweliksmaats toegewy is tot die huwelik. Herstel is ’n tydsame proses, moet dit nie afjaag nie. Paartjies wat sukkel met hierdie proses, moet huweliksterapie oorweeg,” is Gerda se raad.
Volgens Erika Nell, ’n kliniese sielkundige van Pretoria-Oos, sal die potensiaal vir die herwinning van vertroue en die tydsduur wat dit sal neem afhang van die vlak van emosionele skade wat berokken is. Sy stem saam dat professionele hulp broodnodig is. “Soos die vlak van emosionele impak en skade eskaleer, sal die herstelproses ook moeiliker wees. Dus sal dit verskil van paartjie tot paartjie, maar oor die algemeen sal ’n mens vind dat ná ’n seksuele affair dieselfde blinde vertroue verby is, maar as die paartjie doeltreffend deur só ’n proses werk, kan hulle dan ’n ander vorm van vertroue bekom. Dit beteken dat die paartjie nie verdoem is nie, aangesien emosionele nabyheid steeds bekom kan word.”
As albei partye bereid en gewillig is, kan hulle met hulp weer nabyheid en vervulling in hul verhouding kry en soortgelyke situasies in die toekoms minimaliseer.
VOORKOM SÓ ‘N AFFAIR, MEEN KENNERS
“Stel mekaar eerste, bó ander verpligtinge. Wees sensitief vir mekaar se behoeftes, emosioneel en seksueel. Beide geslagte loop ewe veel risiko om in ’n affair betrokke te raak. Wanneer jy enige gevaarligte in ’n platoniese vriendskap met iemand van die ander geslag begin sien, vlug! Moet jouself nie in versoeking plaas nie, al voel jy dat jy dit kan weerstaan,” waarsku Gerda. Erika se raad is dat huweliksmaats eerstens sensitief moet wees vir hul eie sowel as hul maats se behoeftes sodat hulle dit kan identifiseer, en dan daaroor kan kommunikeer en doeltreffend daaroor kan onderhandel sodat die behoeftes aktief vervul kan word. “Neem ook voortdurend deel aan aktiwiteite en meedeling op ’n onvoorwaardelike en empatiese manier, om nabyheid en intimiteit te verseker. Om die fase van die verhouding in ag te neem sodat paartjies optimaal hul verhouding gedurende hierdie fase kan verryk, is ook waardevol, aangesien behoeftes voortdurend anders geprioritiseer word,” sê Erika.
HOEKOM GEBEUR AFFAIRS?
Navorsing deur ’n webtuiste vir enkellopendes (Elite Singles) het die volgende redes vir affairs in hulle navorsing ontdek:
- Wraak oor my maat my verkul het – 11% vroue, 7% mans.
- Ek was verlief op die ander persoon – 27% vroue, 12% mans.
- Ek was verveeld met my verhouding – 35% vroue, 25% mans.
- Ek wou seks hê met iemand anders as my maat – 16% vroue, 28% mans.
- Dit het net gebeur – 32% vroue, 55% mans.
Deur INTIEM Redaksiespan
Addisionele bronne: www.yourtango.com, www.divorcesupport.about.com, www.huffingtonpost.com.
*Skuilname is gebruik