Desember is ’n mooi maand – vol beloftes van saam-wees, rus en Kersfees — totdat dit dreig om jou in te sluk. Skoolafsluitings. Werksfunksies. Familieplanne. Laaste kuiers. Kos koop, kos maak, skottelgoed was. En iewers tussen die opwinding en die take raak twee mense wat mekaar liefhet, soos skepe in die nag. Ons deel ’n huis, ’n bed, ’n familie — maar nie altyd ons aandag nie. Daar is nie tyd vir mekaar nie, vir net ons twee nie.
Navorsing van die Gottman Instituut wys dat paartjies wat dag vir dag emosioneel by mekaar inloer, meer as 80% hoër tevredenheid in hulle huwelik ervaar. En dis nie groot gebare nie — net teenwoordigheid. Net tien minute waar jy regtig luister. Waar jy mekaar se oë langer vashou as jou skerm.
Die dag toe hulle besef het: Ons is hier… maar nie saam nie
Paul en Jolanda het dit hierdie jaar gevoel. Hulle het by mekaar in die kombuis verbygeloop — sy met ’n hand vol geskenkpapier, hy met sakke kruideniersware. Hy het net lank genoeg in haar oë gekyk om te sien: sy’s moeg. Sy het gesien: hy mis haar. En toe, tussen chaos van die dag, het hy twee koppies koffie gemaak en vir haar gesê: “Kom net vir tien minute stoep toe.”
Dit was nie ’n groot gesprek nie. Dit was net twee mense wat weer stop. Wat weer sê: “Ek sien jou. Ek is hier.”
Huwelik hou nie op werk wanneer liefde verdwyn nie — maar wanneer aandag wegdryf.
Wees hierdie jaar aspris
Hierdie tyd van die jaar is vol verpligtinge, familie en planne — en dán voel dit asof ons huwelik eers ná Kersfees weer ‘n beurt gaan kry.
Maar hierdie jaar gaan anders wees: ’n jaar waar julle aspris tyd gaan maak vir mekaar. Sulke wegloop-ons-tyd-oomblikke. ’n Besluit om hierdie maand, tussen alles, klein stukkies tyd vir mekaar te maak.
Maak dit só maklik:
- Een klein treetjie vandag — kies een van hierdie vir vanaand:
Date night op die stoep wanneer die kinders slaap
• Sit saam een versiering op die Kersboom wat julle jaar simboliseer
• Vra: “Wat was jou mooiste oomblik van 2025 saam met my?” - Die dapperheid om af te skakel
Die meeste paartjies in Suid-Afrika spandeer meer as 3 ure per aand op hul fone. Maak dit minder hierdie Desember. Los die fone uit voor slaaptyd en op date night. - Aanraking genees
Wanneer die wêreld besig voel, is aanraking gewoonlik die eerste ding wat verdwyn. Maar studies wys dat 7–8 liefdevolle aanrakings per dag stres verlaag en die emosionele band versterk. Raak mekaar aspris meer aan hierdie Desember. Hou hande vas. Raak aan mekaar in die verbyloop. - Ses sekonde-soen
Minstens een van die piksoene moet ses sekondes hou — elke dag. - Tien sekonde-druk
Minstens een drukkie moet tien sekondes hou — elke dag. - Bid saam voor die dag begin
Kry koffie. Lees ’n vers saam of deel ’n gedagte vir die dag. Maak beurte om te bid. Vra die Here om julle te help om mekaar raak te sien en dat daar vrede en lag in julle huis sal wees. - Kies ’n date night
Jip — ook op vakansie. Groet die familie. Kry wegneemetes vir die kinders en beleef ’n aand net vir julle twee — van stoep tot strand. Solank dit net julle twee - Maak tyd vir intimiteit
’n Bietjie vroeër kamer toe; ’n bietjie later lê. ’n Deur wat kan sluit. Maak mekaar weer prioriteit. - Beleef iets nuut saam
’n Plek. ’n Aktiwiteit. ’n Gebeurtenis — net vir julle. - Geniet mekaar aspris
Knip oog vir mekaar. Flirt ’n bietjie. Of julle lank getroud is of nie — dit begin altyd by ’n besluit van die hart.
Die Hart van Desember
Hierdie maand vra nie vir perfek nie.
Dit vra vir ‘n kopskuif.
Dit vra vir twee mense wat nog wil.
Nog wil probeer.
Nog wil opdaag.
Nog wil liefhê — aspris.
Vra mekaar vandag: “Wat kan ons hierdie Desember doen om liefde weer ons ritme te maak?”
En dan… begin net daarmee.
Want die grootste geskenk wat julle mekaar kan gee, is ’n hart wat weer kies.
Deur Liezel van der Merwe

