Ons is dikwels geneig om die lewe onnodig te kompliseer. Keer terug na wat regtig saak maak en kyk hoe jou huwelik floreer!
Hierdie maand kyk ons daarna om te declutter. Tyd om te ontgif en weg te smyt wat jou lewe en huwelik oorvol en beknop maak. Wanneer ’n mens trou, betree jy die huwelik met jou eie bagasie. Saam hoop julle dan ook gedeelde bagasie op – en ons praat hier nie slegs van konkrete koffers nie! Nee, emosionele bagasie het die potensiaal om soveel ruimte in jou lewe op te neem dat jy naderhand nie meer dít wat jy regtig na smag en nodig het, kan bykom nie.
Daar is deesdae talle kenners wat ’n bestaan maak daaruit om ander mense te help om hul lewens te organiseer en in te rig. En ja, daar is mense wat bereid is om hiervoor te betaal omdat hulle bloot oorweldig voel deur hul eie gemors en hul onvermoë om daarvan ontslae te raak. Dié maand help ons jou om deur die clutter te delf sodat jy dít kan bereik wat waarlik saak maak.
’n Ekstra tien minute
Minimalisme is gelyk aan eenvoud, gemak en vryheid op sy beste, meen www.resillientapp.com. “Dit gaan nie daaroor om ontslae te raak van alles wat jy besit nie, maar om van die onnodige dinge in jou lewe ontslae te raak sodat jy gelos word met jou ware self – eerlik, beskeie en eenvoudig.”
Die webtuiste clementinedaily meen een van die dinge waarteen jy moet waak, is om jou kalender oorvol te maak en een van die wenke wat hulle bied, is om “kussings” van tyd in jou kalender in te werk. Dit beteken dat jy hier en daar ’n ekstra tien minute aan weerskante van jou afspraak skeduleer om jou vry te maak van die dolle gejaag, en om oomblikke, minute en selfs ure te hê om asem te skep, saam met jou maat deur te bring en aan te pas, sou dinge nie volgens plan verloop nie.
Hoe fel jy oordeel?
Raak ontslae van dinge wat jou nie op hierdie stadium van jou lewe dien nie. Dit klink dalk hard, maar dink mooi oor daardie romp wat jy bêre vir eendag op ’n reëndag of die snaakse kombuistoestel wat agter in jou kas lê omdat jy dink jy sal eendag wel groente in snaakse vorms wil sny (maar nie nou nie!).
Dieselfde geld vir negatiewe, giftige verhoudings. Probeer die verlede en die potensiaal van die toekoms buite rekening laat, en fokus op wat nóú vir jou werk. Raak ontslae van die res . . .
Op jou bord: 33 bestanddele, drie maande
Om eenvoud na jou eetgewoontes toe deur te trek, oorweeg ’n kapsule-kombuis uitdaging (soortgelyk daaraan om ’n kapsule-klerekas te skep). Courtney Carver, skepper van die webtuiste www.bemorewithless.com, het met dié konsep vorendag gekom.
Dit werk só: Kies 33 bestanddele (dit moet kos en drankies insluit). Wat nié ingesluit hoef te wees nie, is geurmiddels en souse – alles wat jul kos smaaklik maak. Julle moet vir drie maande lank met hierdie 33 bestanddele kos maak. Maak julle lys super-gesond en kies ook een skuldige plesiertjie wat julle wil leer uitskakel (soos suiker of alkohol). Julle kan deel van die Facebook-groep word vir inspirasie, of julle kan jul eie soortgelyke uitdaging skep en dit volg.
Wyse woorde . . .
“Kompleksiteit is jou vyand. Enige dwaas kan iets kompleks maak. Dit is moeilik om dinge eenvoudig te hou.” – Richard Branson
Ons sê dit weer en weer . . .
Moenie swig voor die verbruikersmentaliteit nie. Adverteerders wil jou graag oorreed dat jy alles en nog wat nodig het. Ons leef in ’n vraatsugtige, “Keeping up with the Jones”-kultuur, maar jy en jou maat kan waarlik die vryheid beleef wat minimalisme aan jou kan bied, deur sterk te staan teen hierdie invloede.
Ignoreer spesiale aanbiedinge, koepons, “gratis” geskenke, lojaliteitsprogramme en allerhande ander lokvalle sodat jy kan aanskaf of koop wat en wanneer jy nodig het, sonder dat julle enigsins beïnvloed word deur die illusie van ’n winskoop.
MITE en WAARHEID
Mite: As ek my klerekas beperk, sal my klere vervelig wees.
Waarheid: Minder klere laat jou toe om te belê in hoë-gehalte items wat goed pas en gekoördineer kan word. Dan maak dit nie saak wat jy uithaal nie, jy sal altyd fantasties lyk. Skep dus ’n kapsule-klerekas en gee dit woema met verskillende bykomstighede. (becomingminimialist.com)
Herinner jouself
“‘Clutter’ word beskryf as enigiets wat ongebruik, onopgelos en ongeorganiseerd is. Dis beslis nie net tasbare besittings nie, maar ook ou idees en slegte gewoontes. ‘Clutter’ is enigiets wat nie die ‘beter jy’ ondersteun nie.” – Eleanor Brown
Vyf stappe: Erken die waarde van wit spasie
Slowyourhome.com gee die volgende stappe vir hoe om wit spasie in jou huis te skep:
- Kies een oppervlak (dit kan ’n muur, rak, kaggelrak of bedkassie wees).
- Verwyder alles vanaf/vanuit daardie spasie.
- Versprei of skenk die items – of gooi dit weg.
- Leef met daardie oop ruimte vir ’n week voordat jy een enkele item terugplaas.
- Maak seker daardie item is betekenisvol of beeldskoon. En waardeer dit.
Minimaliseer ’n geraas só
As julle ouers van jong kinders is, kan té veel klanke maklik jou energie tap. ’n Mens het nie nodig om net visuele items te minimaliseer nie, maar ook die klanke wat jou uitput. Die webtuiste lifehealth.org sê dat matte in ’n vertrek ’n groot verskil kan maak aan die geraas in dié vertrek. Raserige bure? Plaas meubels of ’n boekrak vol boeke teen die muur wat julle van mekaar skei om die klank te help uitdoof.
Beperk jou verpligtinge vir ’n beter huwelik
Leer hoe om nee te sê. Té veel verpligtinge kan jou huwelik smoor. Om jou dagboek effens skoon te maak, is die sleutel tot ’n gelukkige huwelik.
Deur Annelize Steyn