Was julle op ’n oorsese wittebrood?

Promosie

Neem jul vliegtuigkaartjie, laat dit vergroot en druk op materiaal om ’n kussing mee te maak. Op dié manier word julle altyd herinner aan daardie spesiale reis wat vir julle soveel beteken het. (dormtrends.tumblr.com)

Raak date nights ’n nagmerrie?

Die date night-fles is ’n projek wat jy vir jul huwelik kan maak of vir vriende kan gee as trou- of huweliksherdenking-geskenk. Dis goedkoop om te maak en baie romanties. Neem een Consol-bottel en koop ’n pakkie roomysstokkies (dit moet van die breë soort wees), dit is verkrygbaar by die meeste kuns- en stokperdjiewinkels. Spuitverf nou die stokkies met drie verskillende kleure – rooi, donkerpienk en ligpienk. Elke kleur verteenwoordig ’n ander soort afspraak. Die rooi stokkies verteenwoordig duur afsprake wat baie beplanning verg, soos bed en ontbyt, ’n aand by die Staatsteater of ’n naweek weg. Die donkerpienk stokkies is goedkoper en verg ’n bietjie beplanning, soos wegneemetes en bordspeletjies, puzzle– en pizza-aand of popcorn en ’n chick flick. Die ligpienk stokkies verteenwoordig dinge wat weg van die huis af gedoen kan word, maar goedkoper is en minder beplanning verg, soos ’n inryfliek, ’n nagereg-date, tenpin bowling of window shopping. Skryf die betekenis van elke kleur neer op die bottel se etiket. Nou kan julle voor elke afspraak net ’n stokkie trek en die besluit word vír julle geneem. (lifeinthegreenhouse.com)

Promosie

Maak ’n tydkapsule!

Los die uiteet en normale dinge en maak ’n tydkapsule vir jul huwelik. Wanneer julle ’n spesiale herdenking vier, neem ’n glasbottel of staalhouer en plaas dinge daarin wat op daardie oomblik vir julle twee spesiale betekenis inhou. Daar moet definitief ’n mooi foto in wees waarvan julle nie ’n ander afdruk het nie (om dit ekstra spesiaal te maak). So ook dalk ’n stukkie van elk van jul kinders se klere, ’n huissleutel en fliekkaartjies van ’n mooi fliek wat julle onlangs gesien het. Skryf ook ’n mooi liefdesbrief vir mekaar. En onthou om die spesifieke dag se koerantvoorblad in die boksie te sit. Soek nou ’n spesiale plek om jul tydkapsule te gaan begrawe. As julle glo die kans is goed dat julle oor twee dekades nog hier gaan bly, begrawe dit in die tuin, andersins op ’n plek wat vir julle albei spesiale betekenis inhou. Neem nou die besluit om op jul 50ste herdenking die kapsule te gaan uitgrawe. Hoe spesiaal gaan dit nie wees as julle die houer oopmaak nie . . .

Kry danslesse – by die huis!

Deesdae wemel die Internet van gratis tutorials, en op YouTube kan jy lesse kry vir bykans enigiets. Wat van ’n YouTube date night? Besluit wat julle wil leer: Dit kan enigiets wees – van hoe om saam crème brulee te maak tot hoe om ’n ballroom-dans te bemeester.

’n Kombuis-uitdaging…

Is julle Masterchef-fans? Dan sal julle van dié een hou! Gaan supermark toe en neem ’n blinddoek saam. Kry ’n trollie of ’n mandjie. Elkeen van julle kry nou ’n beurt om die blinddoek te dra. As jy jou blinddoek aan het, moet jou maat jou lei na enige gang toe en help dat jy nie alles omstamp nie. Elkeen kry nou kans om drie items van die rak af te haal met die blinddoek aan! By die huis moet julle saam ’n gourmet gereg probeer kook uit dít wat julle onwetend gekies het.

Sprei die liefde

Onthou jy daardie fliek Pay it forward? As julle gelukkig voel en in euforia, hoekom versprei julle nie jul liefde deur iets goeds te doen vir iemand anders nie? Vind uit waar is jou naaste liefdadigheidsorganisasie en gaan help uit by ’n sopkombuis, gaan maak ’n groentetuin in ’n township of gaan soek ’n paar geskenke uit vir ’n weeshuis. Julle sal goed voel oor julself en ook nader aan mekaar.

 

’n Resep vir woema in die slaapkamer

Die outeur van Sensual Foodie meen dié drankie is goed vir jou gesondheid en jou libido…

Klapper-waatlemoen elixir

½ sakkie ys (geur dit met lemmetjie indien moontlik)
Kokoswater van een heel kokosneut (oopgemaak en verkoel)
½ klein waatlemoen, koud en opgesny
Die sap van een uitgedrukte lemmetjie
Een Asiese peer (jy kry dit by groentewinkels wat eksotiese vrugte aanhou)
½ verkoelde komkommer
¼ koppie verkoelde aalwynsap (te kry by gesondheidswinkels)
Versoet met een eetlepel versoeter (opsioneel).

Meng al die bestanddele saam en gooi in ’n koue glas.

 

Deur Annelize Steyn