Suid-Afrika het in 1976 televisie gekry. Die “ver-visie”-gedoente (“tele” van Grieks vir “ver” en die Latynse “visio” is vir “visie”) het ’n virtuele realiteit na ons gebring. Haas Das se Nuuskas was die in-ding. Maar die Internet het vanaf 1983 begin ontwikkel en gegroei tot die “wêreldwye web” of die moderne Internet teen 1990. Suid-Afrika het in 1994 sellulêre telefone gekry. In 2004 het Facebook gekom, in 2006 het Instagram gearriveer, WhatsApp het in 2010 ontstaan en so aan.
Vir die doel van dié artikel, sit die positiewe van die kuberera vir eers op ’n hopie neer. Ons weet wat dit is – kommunikasie, konneksie, inligting, ekonomiese geleenthede, tydsbesparing, genot, gemak, opvoedkundig, ondersteuning, bekostigbaar en nog vele meer.
Die gevare
Die Internet en alle sosiale media-platforms is ontwerp vir volwassenes, wat nie die sensitiwiteit en behoeftes van die ontwikkelende kind in ag geneem nie. Kinderontwikkeling hang af van die gehalte en duur van stimuli. Dit strek van neurobiologies tot emosionele, intellektuele, sosiale, spirituele en uiteindelik ook seksuele ontwikkeling.
Haas Das is se era is argaïes. Hy sou swaar kry om by te hou met dit wat die media nou bied. Die skerm kom al hoe nader. Beelde is grafies en dikwels absurd. Wat die verbeelding kan opwek, kan die kuberwêreld opdis. Sensoriese inligting en konsepte word blitsvinnig gevuur.
Hiermee kom ’n vloed van groot hoeveelhede inligting onder die vingerpunte. Die storielyn kan wissel van eenvoudig en onskuldig tot bisar en steurend.
Hierdie oormaat plaas die ontwikkelende brein onder spanning met streshormone wat oormatig vloei. Maar interaksie met die skerm stimuleer ook die afskeiding van die goedvoel-hormoon, dopamien. Dit gaan gepaard met onmiddellike behoeftebevrediging.
Hoeveel likes ek kry, bepaal hoe goed ek voel. Die nuutste skindernuus of snaakse video bepaal my genot-meter. Die vinnig kyk na ’n pornografiese video gee my my fix. En dus word die stimulasie dalk gou ’n afhanklikheid – soos alkoholisme.
Die kuberruim laat sosiale interaksie krimp na ’n dislike, ’n ping, ’n verwydering van die WhatsApp-groep. Ek hoef nie meer na my vriend te loop en met hom te praat oor iets nie. Ek blok hom. Ek is hier en daar, maar nooit werklik teenwoordig nie.
Emosies word met ’n emoji gekommunikeer. Woorde is onnodig. Om ’n traan te tik, is makliker as om ’n traan te pik. Emosieloos emosioneel. Hartseer voel is vlugtig en word met ’n vinnige video gefix.
Die realiteit is dat die oormatige interaksie van kinders met die skerm verband kan hou met depressie, spanning, angs, sosiale isolasie en ontwikkeling-agterstande. Dit kan ’n ooraktiewe veg-vlug-vries reaksie versterk. Gepaste emosionele uitdrukking en sosiale interaksie word beïnvloed, en só ook word waardestelsels gekonfronteer.
Sekerlik die belangrikste impak van die media is die afname van mens-tot-mens kontak tydens ons kinders se ontwikkeling. Oogkontak, stemtoon en die waarneming van iemand se fisiese gesig in die werklike lewe vorm die neurobiologiese basis van gesonde en betekenisvolle verhoudings met ander.
Hoe gebruik ons die media as medepligtige om kinders van menslike seksualiteit in ’n werklike verhouding te leer?
Die media op sy eie kan nooit en sal altyd ’n onverantwoordelike plaasvervanger wees vir seksuele opvoeding en leiding aan ons kinders. As hulpbron is daar ’n besliste plek! Ouers kan, en ek glo moet, die media inspan vir dié taak. Jou kind gaan dit in elk geval doen . . . met of sonder jou wete. Die hygtydskrif word nou vervang deur eenvoudig “seks” in ’n soekspasie in te tik.
Die basiese boublokke vir seksopvoeding is die volgende:
Die liggaam: Hier kan ouers die media lekker inspan vir ouderdomsgepaste visuele voorstellings, video’s en toepassings van bv. liggaamlike ontwikkeling, bevrugting, swangerskap, geboorte, voorbehoeding, seksueel oordraagbare siektes en so meer. Gebruik beelde selektief aangesien ’n visuele beeld ’n blywende indruk laat.
Emosioneel: Praat oor die emosionele genot en vervulling van seksualiteit. Ontwikkel hul emosionele intelligensie en gesels oor hoe om op sosiale platforms te kommunikeer en emosies uit te druk – nie net met emoji’s nie. Bemagtig kinders emosioneel om kwesbaarheid te bestuur en kuberslim te wees. Bespreek met emosionele sensitiwiteit hoe die kuberwêreld pseudo-genot bied, soos bv. likes najaag en hoe hulle op gepaste wyses genot kan beleef. Bespreek die risiko van afhanklikheid en onmiddellike behoeftebevrediging.
Kognitief: Hou oop, lewendige, uit-die-boks gesprekke oor seksualiteit. Moenie laat hulle skapies word nie. Leer hulle om te dink, te selekteer en te bepaal wat die gevolge van hul dade gaan wees. Bespreek onderwerpe soos afspraakverkragting, aanlyn-gevare en hoe om hulself te beskerm. Leer vir hulle kuberetiek en wat onwettig is. Hou hul kommunikasie dop en gee riglyne. Kyk na hul sosiale platforms. Monitor hul vaardighede. Teken ’n geskrewe ooreenkoms met jou kind oor die gebruik van die Internet.
Sosiaal: Sekerlik die grootste voordeel van sosiale media vir kinders is om kontak te kan hou met hul maats en om ingelig te bly. Geïsoleerde adolessente kan wel vriende maak in die kuberruimte, waar aanvaarding moontlik is al is sosiale vaardighede skraps. Moedig dit aan vir geïsoleerde kinders, maar monitor hul interaksie. Leer jou kind om ’n balans te hou tussen mens-tot-mens kontak en virtuele verhoudings. Bespreek insidente soos kuberboelies. Verduidelik dat sosiale interaksie op sosiale media nooit privaatheid verseker nie – dink voor jy tik. ’n Goeie riglyn vir jou kind is om te vra voor jy iets wil pos: “Sal my ouers, my vriende, my gunsteling-afrigter, die reg en God dit goedvind?”
Spiritualiteit en waardes: Wanneer ons kinders voor die skerms sit, leef die kuberruimte in hulle. Mahatma Ghandi se woorde inspireer, met poëtiese lisensie aangepas: “Moenie die kuberwêreld toelaat om met sy vuil voete deur jou binneste te loop nie.”
Deur Anjenita Hugo