Gedink glow sticks is net vir kinders? Jy maak ’n fout. ’n Pakkie gloeistokkies is meer veelsydig as wat jy dink. Koop ’n pakkie by jou naaste speelgoedwinkel of alles-in-een winkel en begin speel!

  1. Wegkruipertjie of “welkom tuis”!

Maak ’n pakkie gloeistokkies aan die voordeur vas en skakel al die huis se ligte af. Skryf ’n nota daarby wat sê: “Sit joune aan en kom soek my…” Natuurlik sal hy nie ’n oomblik verspeel nie en behoort die ware pret te begin die oomblik wat hy jou kry!

  1. ’n Romantiese buitelug-ervaring!

Vir dié idee het julle ’n veilige, groot stuk grond nodig (al is dit is ietwat skaars in Suid-Afrika). As julle op ’n plaas woon of vakansie hou by die see of in ’n bos, maak seker dit is heeltemal veilig voor jy dié een aanpak. Dit moet ook liefs ’n warm aand wees. Hou vir manlief ’n skattejag. Sy “bakens” is waterbottels (elk gevul met ’n glow stick). Onder elke bottel moet sy volgende leidraad wees (saam met ’n kledingstuk wat jy op pad “verloor” het). Sy prys? Jy in jou mooiste stelletjie onderklere op ’n piekniekkombers!

  1. ’n Spesiale boodskap

Was manlief weg vir ’n lang ruk? Wil jy net iets spesiaals doen om vir hom te wys jy waardeer hom? Wil jy om verskoning vra? Of wil jy bloot net sê jy is lief vir hom? Koop ’n paar pakkies glow sticks en spel dit uit met die stokkies teen die plafon bo julle bed.

  1. Vir romantiese beligting…

Beplan jy ’n spesiale aand saam met manlief in die kooi? Wel, jy het betowerende beligting nodig wat jou nie ’n arm en ’n been gaan kos nie! Probeer dié doen-dit-jouself projek. Dit lyk magies en laat ’n mens amper dink aan jellievisse in ’n akwarium. Neem drie ou, leë glasbottels. Gebruik handskoene en ’n veiligheidsbril. Skud nou twee glow sticks en sny die punte af terwyl jy dit oor die glasbottel hou. Dit sal lyk asof daar stukkies plastiek saam met die vloeistof in val. Gaan buitentoe en keer die bottel om bo-oor ’n asblik sodat die soliede stukkies uitval. Draai nou jou glasbottel heen en weer sodat die vloeistof patrone teen die rante vorm. Siedaar – jou romantiese beligting is klaar! Dit behoort sowat ’n uur lank te hou.

  1. ’n Sexy skinny dip in die swembad

Maak ’n nagswem ekstra spesiaal en romanties deur ballonne op te blaas, ’n gloeistokkie in elke ballon te sit en dit op die water te laat dryf!

  1. Tenpin bowling!

Wag tot dit donker is. Neem 12 waterbottels, trek die etikette daarvan af en vul hulle met water en elkeen ‘n gloeistokkie binne-in. Laat staan hulle in ’n kegel-formaat onder in die tuin of in die gang. Neem nou een van die kinders se plastiek speelballe en speel ’n paar rondtes kegelbal. Vir elke rondte kan julle ’n prys op die spel sit! Dis ’n prettige date night. 

  1. Gloei in die bad

Vir dié een het jy ’n paar dinge nodig. ’n Lekker poeding met twee lepels, twee glase om uit te drink, handdoeke en lekker badgoed, gloeistokkies, lekker musiek en wyn. Die oggend van die afspraak, los vir jou maat ’n nota wat sê: “Jy laat my hart gloei. Kom geniet die aand saam met my. Die pret begin om 19:00 (of watter tyd ook al jou pas).” Voor hy kom, moet jy die volgende doen: Neem twee stokkies en draai hulle rondom die drinkglase. Kry die poeding en die badkamer gereed. Skakel die ligte af en siedaar… ’n gloeiende en smullekker date night in die bad.

  1. Gloei-in-die-donker juwele

Sê vir manlief jy wil graag ’n kompetisie hou. Stel die timer en kyk hoeveel glow sticks julle in een minuut aan jul lywe kan hang (of vasmaak). Goed, manlief het ’n bietjie van ’n voordeel (hoewel hy nie baie daarvan gaan hou as ons daarna verwys as ’n bietjie nie), maar as jy kreatief raak, behoort jy hom te klop!

  1. Spookasem-liefde

Leen ’n spookasem-masjien! Dit is deesdae heel bekostigbaar en beskikbaar by verskeie winkels. Steriliseer jul glow sticks en gebruik dit as die stokkie vir gloeiende spookasem! Julle kan nou op ’n swaai in die parkie gaan sit en mekaar spookasem voer.

  1. Spesiale herinnering

Op julle herdenking, of ’n spesiale dag wat vir julle betekenis inhou, skryf jul wense vir jul huwelik neer op ’n stukkie papier, plaas dit binne-in ’n ballon saam met ’n gloeistokkie en laat die ballon opblaas met helium. Wag tot dit heeltemal donker is voor julle saam die ballon laat opstyg en jul wens in die naglug laat wegdryf…

Addisionele bronne: www.intimateweddings.com, www.whereisthemeinmommy.blogspot.com, www.pinterest.co.za.

***

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!