Mites of wanpersepsies kan groot skade aanrig! En as jý nie jou kind van die regte inligting voorsien nie, wie weet wat kan gebeur?

Promosie

’n 14-jarige is swanger en baie geskok, want haar nefie het vir haar vertel dat ’n mens nie kan swanger word as jy met familie seks het nie. ’n Paar jaar gelede het president Jacob Zuma verkondig dat hy ’n stort neem na onbeskermde seks. Een keer met ’n veldtog teen onbeskermde seks, het ’n beampte van die Departement van Gesondheid kondome aan brosjures vasgekram en dit versprei.

In ’n onlangse studie van Stanford Universiteit se mediese skool, het ’n navorser gevind dat bykans die helfte van Internet-webtuistes onakkurate inligting oor seks verskaf.

Indien prominente figure, selfs familie en die Internet se inligting oor seks aan ons kinders besaai is met onakkurate feite, hoe nou gemaak? Waar begin ek om my kind die korrekte inligting te leer? Wat weet hy/sy reeds? Is dit te laat om nou te begin? Hoe herstel ek die invloed van valse inligting?

Promosie
  • Begin vroeg. Leer vir jou kind van ’n vroeë ouderdom af die korrekte name vir die geslagsdele. Dit help hom/haar nie alleen om gemaklik te wees met sy/haar eie seksualiteit nie, maar bemagtig hom/haar ook om te praat oor sy/haar liggaam en seks en na jou toe te kom vir die regte inligting.
  • Luister na jou kind. Jou kind se reaksies op die inligting wat jy deel, is baie belangrik en sal vir jou ’n aanduiding wees van wat hy/sy reeds weet en waaroor hy/sy dink en wonder.
  • Hoor by hom/haar wat hy/sy reeds weet. Jy mag verras, geskok of aangenaam verbaas wees oor wat jou kind reeds weet. Jy het nou ook ’n kans om onakkurate inligting te korrigeer.
  • Jou reaksie bepaal baie. Indien jou reaksie jou kind laat sleg en dom voel oor die verkeerde feite, sal hy/sy waarskynlik minder geneig wees om volgende keer vir jou te kom vra. Indien jou reaksie wys dat jy geskok is en jou kind laat skaam voel oor die dinge waaroor hy/sy wonder, sal hy/sy volgende keer eerder ander bronne (ook onbetroubare bronne) raadpleeg.
  • Wees natuurlik. Wanneer jou kind onverwags vir jou ’n vraag vra waarop jy nie voorbereid was nie, is dit goed om te sê: “Laat my ’n bietjie dink daaroor, want dit is ’n baie goeie vraag.” Sorg dat jy later dan wel terugkom met ’n antwoord.
  • Hoor of jou kind meer wil weet. Volg jou antwoord op met: “Beantwoord dit jou vraag?”
  • Jy hoef nie al die antwoorde op jou kind se vrae te ken nie. Hoe jy reageer, is baie belangriker as wat jy weet. As jy die boodskap kan oordra dat geen onderwerp verbode is om oor vrae te vra en te bespreek nie, is die kanse baie groter dat hy/sy eerder na jou toe sal kom vir die regte inligting.

Baie van die gesprekke wat ons met ons kinders oor seks het, is baie beperkend en fokus op al die gevare en alles wat kan verkeerd gaan. Dit is uiters belangrik om hierdie inligting aan ons kinders oor te dra. Fokus egter ook op meer as net seks en die gevare.

Gesprekke oor seks wat sentreer rondom beperkings en skuldgevoelens, het dikwels die teenoorgestelde resultate tot gevolg as wat welmenende ouers bedoel. Hugh Hefner, die stigter van Playboy, wie se ouers onderwysers was, het sy kinderjare as konserwatief en godsdienstig beskryf en tog het hy ’n loopbaan uit pornografie gemaak.

Hoeveel van ons gesels met ons kinders oor verhoudings? Hoeveel van ons wat voor ’n egskeiding staan of in ’n ongelukkige verhouding is, wens nie ons het meer leiding van ons ouers ontvang nie? Ek het onlangs ’n kleuter op die speelgrond vir sy ma hoor vra of liewe Jesus vir hom die regte vrou sal gee. Ons kinders wonder oor verhoudings en liefde van ’n vroeë ouderdom af.

Gesels dus ook oor die volgende onderwerpe met jou kleuter en tiener:

  • Wat is liefde en die verskillende vorme van liefde? Hoe voel dit om verlief te wees? Wat is die verskil tussen lief wees vir iemand en om verlief te wees op iemand?
  • Wat is ’n gesonde verhouding en wat is ’n ongesonde verhouding?
  • Watter vaardighede is nodig om ’n gesonde verhouding te skep?
  • Wat kan jy jou kinders leer uit jou eie ervaring met jou eie verhoudings? Suksesse en mislukkings bied albei goue lesse.
  • Gesels met jou kind oor waardes en etiese vraagstukke in verhoudings.

’n Oop en eerlike verhouding met jou kind sal meebring dat julle onduidelikhede kan uitklaar en dat jou kind, toegerus met die regte inligting, verantwoordelike keuses rakende seks sal maak.

 

Deur Clarette Lubbe