Julle is ouers ja, maar julle is ook ’n paartjie wie se intieme verhouding nie skipbreuk behoort te ly met die koms van kinders nie. Ons gee jou leiding rakende privaatheid en ’n paar ander vrae waaroor jy wonder . . .

Promosie

As die kleintjies eers daar is, raak seks inderdaad ’n uitdaging! Jy wil nie graag wegglip nie, maar jy en jou maat het die alleentyd bitter nodig. Só hoe leer jy jou kinders meer oor privaatheid? Wat is toelaatbaar as dit kom by vry? En watter reëls geld vir naaktheid?

Dr Elna Rudolph, ’n mediese dokter, seksuoloog en kliniese hoof van My Sexual Health, gee raad.

Hoeveel mag ons voor die kinders vry?

Promosie

ELNA: Dit is onwettig om kinders aan seks bloot te stel. Seks se definisie is baie wyer as wat ’n mens dink. Openlike seksuele gedrag voor kinders is nie aanvaarbaar nie. Natuurlik is ’n passievolle soen tussen twee mense wat mekaar lief het ’n pragtige ding om te sien en ’n wonderlike voorbeeld vir jou kinders, maar meer as dit hoort in die slaapkamer (of ’n ander deel van die huis as die kinders reeds slaap!).

Kinders met vreemde seksuele gedrag by die skool het dit die meeste van die tyd by die huis gesien. Dit is ongelooflik hoeveel ek in kontak kom met grootmense wat as kind “per ongeluk” aan pornografie blootgestel is.

Deesdae lê daar darem nie meer soveel boeke rond nie, maar kinders gebruik hul ouers se slimfone en rekenaars. Dit is regtig ’n tragedie as ’n kind op só ’n manier aan pornografie blootgestel word – dit kan hulle lewenslank skaad! Wees baie versigtig.

Hoe maak ons die slaapkamerdeur toe?

ELNA: Met ’n sleutel! Jou kinders moet van baie kleins af leer dat as die deur toe is, Mamma en Pappa alleen wil wees (en as hulle kamers se deure toe is, beteken dit dieselfde en moet dit gerespekteer word!). Hulle moet weet dat hulle enige tyd kan klop as daar ’n dringende probleem is, maar anders moet hulle wag totdat die deur oopgaan.

Los dus die deur oop as julle nie besig is nie, maar as julle aantrek, saam bad, net ’n bietjie wil vry, ’n quicky wil hê of lekker lank wil liefde maak, moet die deur altyd GESLUIT wees.

Ek sien ook gereeld grootmense wat getraumatiseer is omdat hulle as kinders hul ouers tydens die liefdesdaad betrap het. Dit is veral meer ontstellend vir kinders as een van die twee mense nie hulle biologiese ouers is nie, maar iemand anders (soos in die geval van egskeiding en tweede huwelike).

’n Mens het ’n tweeledige verantwoordelikheid: Eerstens om jou kinders daarteen te beskerm. En tweedens het jy ook ’n verantwoordelikheid teenoor jou verhouding om behoorlike privaatheid te skep waarin julle die vryheid kan hê om onbevange intiem te kan wees.

Hoe stel ons grense van privaatheid in ons huis?

ELNA: Ek dink die vorige antwoord beantwoord die grootste deel van hierdie vraag. Die beginsel is om kinders te leer dat almal in die huis ’n reg tot privaatheid het en dat dit gerespekteer moet word.

Die een mens se reg mag egter nie só gebruik word dat dit ander mense van hul regte ontneem nie. As Boetie byvoorbeeld alleen wil wees in die TV-kamer en dit maak dat die hele gesin nie kan TV kyk nie, kan hy nie daardie reg toepas nie, maar as hy in sy kamer alleen wil wees, moet ander dit respekteer.

As kinders ’n kamer deel, moet hulle ook beurte maak om alleen in die kamer te mag wees – dit is baie belangrik dat kinders voel hulle het ’n reg tot privaatheid. ’n Toe deur beteken “Klop” en “Nee, jy kan nie inkom nie” beteken nee! Kinders behoort egter ter wille van veiligheid nie hul deure te sluit nie, maar hulle sal dit nie so graag wil doen as jy nie inbars wanneer hul deur toe is nie.

Wanneer moet ek en my kind ophou saam bad?

ELNA: Daar is nie ’n vaste reël nie. ’n Ma en ’n dogter, of ’n pa en ’n seun, kan baie langer saam bad as andersom. Kinders raak gewoonlik bewus van en geïnteresseerd in die genitalieë van mense van die teenoorgestelde geslag vanaf die ouderdom van twee.

Van daardie ouderdom af kan daar ’n oormatige belangstelling in die teenoorgestelde geslag se geslagsdele wees – wat tot ongemaklike situasies kan lei. Ouers sal gewoonlik self agterkom dat dit ongemaklik raak en ophou daarmee.

Dit verskil van huishouding tot huishouding, maar ek dink nie kinders wat ouer is as vyf jaar behoort nog saam met ’n ouer van die teenoorgestelde geslag te bad nie. Daar is natuurlik kulture en gesinne waar kinders aanhou om hulle ouers kaal te sien, maar in ons gewone, konserwatiewe Westerse kultuur, waar privaatheid ’n groot rol speel, is dit nie die gebruik om mense van die teenoorgestelde geslag kaal te sien nie.

Wanneer moet Boetie en Sussie ophou saam bad?

ELNA: ’n Mens moet vir ’n kind van baie kleins af leer dat hy of sy ’n reg het tot privaatheid. Sodra die kind verkies om alleen te bad, moet ’n mens dit toelaat. Hulle ontwikkel daardie sin vir privaatheid gewoonlik rondom die ouderdom van vier of vyf. Sommige kinders is gewoond daaraan om saam met ’n boetie of sussie te bad en hou baie langer daarmee aan.

Solank hulle gemaklik is daarmee, is dit reg, maar sodra een van hulle begin om vroeë veranderinge van puberteit te ervaar, moet ’n mens hulle aanmoedig om eerder alleen te bad (ook sonder hul ma en pa by!). Dit bevestig dat hul lyfies hulle eie is en nie iets is wat ’n mens met ander mense deel nie – totdat ’n mens groot genoeg is om dit te doen.