Jy weet presies hoe om met jou brombeer huis te hou, maar as sy maag vir jou begin grom, sit jy met ’n heel ander petalje! En hoe gemaak as joune begin terug grom? Spysverteringsprobleme kan onnodige spanning op jou sekslewe plaas, wat julle allermins nodig het.
Dit is laataand en jy en manlief loer stout vir mekaar oor die koffietafel in die woonkamer. Julle weet ’n laataandsessie in die slaapkamer gaan baie meer pret wees as wat die sci-fi blockbuster is wat julle tans laat giggel (in plaas daarvan om julle na jul asems te laat snak!). Jy staan op en gaan kniel by manlief voor jy skoenlappersoene op sy bobene begin plant . . . en dan hoor jy dit: ’n Eienaardige geroggel. Is dit jy of is dit hy? Jy is nie seker nie, maar een ding is seker. Een van julle se spysverteringstelsel is van plan om vanaand jul romantiese planne soos ’n stout kind in die wiele te ry!
Spysverteringsprobleme is baie algemeen en beïnvloed miljoene mense daagliks. En ja, glo dit of nie – die meeste slagoffers is vroue! Kenners meen dit is omdat ons hormone wipplank ry en ander omdat vroue meer sensitief vir kos is as mans. Hoe gemaak met die pretbederwers in jou maag?
Hardlywigheid is nie pret nie. Jy voel opgeblase, onaantreklik en allermins lus vir seks. (Dit is boonop nie ’n rede wat jy graag met manlief wil deel nie.) Voorkom hardlywigheid deur te sorg dat jou dieet genoeg vesel en magnesium bevat. Sluit dus byvoorbeeld genoeg spinasie, broccoli en amandels by jou dieet in. As jy een van diegene is wie se spysvertering halt roep op ’n vreemde plek, gebruik vooraf getrou jou vitamien- of veselaanvulling en as jy vir drie dae lank geen aksie kry nie, gebruik ’n ligte lakseermiddel, vlassaad-olie of mineraalolie (een tot drie eetlepels op ’n leë maag voor slaaptyd, gevolg deur ’n glas water). Jy kan ook die volgende boereraat probeer: Kook ’n paar pruimedante in ’n bietjie water en sluk dit af!
Hoe gemaak as die teenoorgestelde situasie jou tref en jy moet hardloop vir die badkamer? Diarree is geeneen se maat nie – veral nie op wittebrood of ’n romantiese vakansie nie! Ongelukkig is dit só dat jou kanse om diarree te kry by ’n eksotiese bestemming soveel groter is! Beskerm jou hierteen deur jou hande gereeld te was, slegs gebottelde water te drink, die straatstalletjies eers mooi te bekyk voor jy hulle ondersteun, ys te vermy wat met kraanwater gemaak is, en slegs groente en vrugte te eet wat gekook of geskil kan word.
Jy kan egter net so ’n slegte gogga optel op ’n tuisbly-vakansie. Beperk suikervrye kos en drankies (dit kan ’n lakserende uitwerking op sommige mense se spysverteringstelsels hê). Beperk ook kafeïen en moenie te veel stres nie. As dit jou wel tref, beveel sommige kenners aan dat jy die BRAT-dieet volg (’n dieet bestaande uit piesangs (bananas), rys (rice), appelsous (apple sauce) en roosterbrood (toast), en vra jou apteker vir ’n middel teen diarree.
As jy ly aan ’n geïrriteerde kolon (prikkelbare dermsindroom of IBS), sal jy krampe, maagpyn, opgeblasenheid, gas, diarree én hardlywigheid ervaar. Dit is ’n chroniese toestand wat oor die lang termyn bestuur moet word. Terwyl sommige mense hierdie toestand met hul dieet, leefstyl en lae stresvlakke kan bestuur, het ander medikasie en terapie nodig. Niemand is heeltemal seker wat dit veroorsaak nie, maar dit beteken dat die kontraksies wat nodig is om kos te vervoer deur jou spysverteringskanaal sterker en langer of stadiger en swakker is as normaalweg.
Daar is egter sekere dinge wat IBS kan vererger. ’n Allergie of onverdraagsaamheid vir sekere kossoorte is een oorsaak en sommige mense is sensitief vir onder meer een van die volgende: Sjokolade, speserye, vet, kool, melk, gaskoeldrank. Stres kan dit ook vererger, hoewel dit nie sommer IBS veroorsaak nie. Vroue ervaar ook dikwels dat die toestand erger is rondom hul maandstonde, weens hormoonskommelinge.
IBS is ’n toestand wat eerder deur jou dokter bestuur moet word. Jy kan self die simptome verlig deur kossoorte ryk aan gas te verminder. Jy kan ook jou spysverteringstelsel toets deur te kyk hoe jou lyf reageer as jy kossoorte soos gaskoeldrank en sekere groentesoorte uitskakel. Jy kan ook eksperimenteer deur gluten uit te skakel, maar dit is ’n kontroversiële aanbeveling waaroor kenners verskil.
Tien stappe tot ’n gesonde spysverteringstelsel
- Eet ’n veselryke dieet met onverwerkte kossoorte, ’n dieet ryk in bone, neute, sade, volgrane, vrugte en groente.
- Eet gefermenteerde kossoorte soos jogurt en sauerkraut.
- Beperk suiker, verwerkte kos, dierevette en diereproteïene.
- Vermy die gebruik van antibiotika, suurblokkers en anti-inflammatoriese middels, wat jou spysverteringstelsel kan verswak.
- Gebruik daagliks ’n probiotika. Dit is vriendelike flora wat jou spysverteringstelsel kan verbeter om inflammasie en allergieë teen te werk.
- Verlaag jou stresvlakke.
- Eet op gereelde tye, volgens ’n vasgestelde skedule. Probeer ook om aan tafel te sit vir ontbyt, middagete, aandete en peuselhappies ongeveer dieselfde tyd elke dag.
- Drink genoeg water. Dit is noodsaaklik vir ’n gesonde spysverteringstelsel. Water in jou spysverteringstelsel help om vette en oplosbare vesel op te los sodat dit makliker uitgeskei kan word.
- Skakel slegte gewoontes, soos oormatige nikotien, kafeïen en alkohol, wat lei tot maagsere en sooibrand, uit.
- Oefen gereeld. Gereelde oefening help kos om deur die spysverteringstelsel te beweeg en dit verlig hardlywigheid.
www.mayoclinic.com, www.womansday.com, www.drhyman.com, www.chriskresser.com, www.everydayhealth.com.