Dit is baie jammer dat iets so wonderlik soos seks dikwels ’n mantel van skuldgevoelens en skaamte moet dra. Die Bybelboek Hooglied het baie kosbare waarhede wat jou kan help om die vreugde van seks in die huwelik aan te gryp.
Dié Bybelboek is ’n “gedig” van liefde tussen ’n man en ’n vrou, hoewel dit ook God se liefde tussen Hom en die mens kan beskryf. Seks is een van die mooiste dinge wat God gemaak het. Dit is allermins iets waaroor ’n mens skaam hoef te wees, maar dan moet seks met die nodige respek hanteer word en moet ’n mens waak teen ’n kommersiële beeld van seks.
Hier is ’n paar waarhede uit die kosbare liefdesverhaal in Hooglied wat jy kan toepas op jou huwelik.
Die eerste ontmoeting
Hooglied 1:2-2:7 beskryf die eerste ontmoeting tussen man en vrou. Dit verwoord iets van ’n verlange en ’n konstante hunkering na jou geliefde. Hunker jy nog daagliks na jou huweliksmaat soos in daardie eerste dae? Dink terug aan daardie tyd toe jy nie kon wág nie vir die volgende boodskap, oproep of daardie eerste skram aanrakings wat soos aardbewings deur die dorre Karoo deur jou gewoed het. Herinner jouself doelbewus om weer daardie eerste opgewondenheid oor jou maat te hê. Herleef weer daardie eerste opwindende sekservarings van jul huwelik. Raak prakties: Flankeer ’n bietjie met mekaar, gaan weer op ’n date en beleef mekaar asof dit die eerste keer is.
Voorbereiding vir die huwelik
Hooglied 2:8-3:5 beskryf die voorbereiding vir die huwelik. Soos die verhouding tussen man en vrou in hierdie gedeelte ontwikkel, het die romantiese liefde tussen die bruidegom en sy bruid ook gegroei. Hierdie vurige liefde was nie net iets wat hul harte geraak het nie, maar ook hul siel en liggaam. Vers 4 sê: “Ek het hom vasgegryp en nie laat los nie.” Seks binne die grense van die huwelik is vervullend en opbouend vir siel én liggaam. Dit is iets wat nie net jou hart nie, maar jou hele wese in besit neem. Dit skep intimiteit en ’n band wat deurtrek na die manier hoe julle met mekaar praat, die manier hoe julle optree, hoe julle mekaar bederf en veral ook hoe julle na mekaar kyk.
Die huweliksklokke
Die huweliksklokke word in Hooglied 3:6-5:1 beskryf. Die bruidegom vind vreugde in die skoonheid van sy bruid. Hy besing die skoonheid van die vroulike liggaam met groot verwondering. Die bruidegom beskryf die liefkosings tussen hom en sy bruid as “beter as wyn” en haar tong wat soos “heuning en dikmelk” proe. Dié pragtige beskrywings versinnebeeld die man se hoë agting en respek vir sy bruid. Vir beide man en vrou is dit belangrik om te onthou om altyd, selfs ná baie jare van getroude lewe, jou maat se lof te besing. Bou mekaar op in jul intieme lewe met die manier hoe julle oor mekaar se liggame praat. As jy weet dat jou maat jou bewonder en bemin, sal dit wonderlike vrugte afwerp in jul sekslewe. Doen moeite om voor, tydens en ná seks mooi woorde vir jou geliefde te sê. Belê in mekaar se selfbeeld. Na-aap die Hooglied-skrywer deur jul verwondering aan mekaar te verwoord.
Ware liefde vrees verwydering
In die huwelik is man en vrou een, soos beskryf word in Hooglied 5:2-6:3. Dié gedeelte beskryf ook die vrou se liefde en verwondering vir haar man. Dit is vanselfsprekend dat dit baie gesond en goed kan wees om sekere dinge in die huwelik apart te doen, maar die saamwees in jul huwelik moet ook gekoester word. Jul sekslewe kan slegs floreer as julle daaraan werk. Dit gaan nie verbeter deurdat julle net daaraan dink nie. Die liefdespel vra algehele toewyding en tyd van beide van julle. Skuif doelbewus sekere afsprake in jul dagboeke uit om jul huwelik en veral ook seks ’n prioriteit te maak. Spandeer tyd saam met mekaar, veral ook tyd waar die kinders julle nie kan onderbreek nie.
Tot oor die ore verlief
Daar is min dinge so mooi soos ’n verliefde paartjie. Daardie klein dingetjies, soos om steeds hande vas te hou of ’n man wat steeds vir sy vrou die deur oopmaak, is spesiaal. In Hooglied 6:4-8:4 word hierdie dolverlief-fase beskryf. Jy gaan beslis nie vanself net verlief bly in jou huwelik nie. Daar is werkstres, kinders en finansies wat almal aan die verliefdheid knaag. ’n Huwelik beteken dat twee mense elke dag opnuut hul verbintenis aan mekaar moet bevestig. Waak daarteen dat julle aan mekaar gewoond raak. Kyk telkens met nuwe en sagte oë na mekaar. Kies mekaar elke dag en bewys daardie liefde aan mekaar.
Tot die dood ons skei
Die laaste gedeelte in Hooglied 8:5-14 beskryf die liefde tussen die paartjie tot die dood hulle skei. Jare gelede was egskeiding iets wat baie min voorgekom het, maar in vandag se tyd is dit baie algemeen. Elke persoon se huwelik is uniek, maar jy en jou huweliksmaat móét vir mekaar baklei. Julle kan nie net jul huwelik weggooi bloot omdat julle dink dit is stukkend nie. Huweliksmaats moet by mekaar staan, mekaar ophelp en vashou in moeilike tye. Moenie toelaat dat ander dinge, soos tegnologie en werk, jul huwelik bedreig nie. Wees lief vir jou maat. Onthou jul huweliksbeloftes, hernu dit selfs aan mekaar.
Wees my beminde
Stel aan jou maat die volgende voor: Lees vir die volgende paar weke elke aand ’n gedeelte van Hooglied vanaf vers 1 hardop aan mekaar voor. Sê vir mekaar wat julle uit die gedeelte “hoor” en hoe julle dit van toepassing op jul huwelik en sekslewe kan maak. Maak self van jul huwelik ’n Hooglied!
Deur Lize Groenewald
Addisionele bronne: Die Bybel in Praktyk.