Net soveel soos wat ’n mens nie mag sê jy eksperimenteer wanneer jy in die huwelik tree nie, net só is die waarheid tog dat elke huwelik ’n eksperiment is. Twee verskillende individue beproef verskillende maniere om dié eksperiment te laat werk en sommige kry die wenformule gouer as ander!
Omdat soveel mense beweer dat liefde ’n “gevoel” is, onderskat ’n mens dikwels die wetenskap agter verhoudings. Sekere dinge slaag keer op keer as gevolg van dieselfde reaksie en ander dinge misluk herhaaldelik as gevolg van ’n ander reaksie. Ons het ’n bietjie gaan kyk na die wetenskap agter ’n huwelik wat werk!
FEIT #1: Navorsing toon dat gedeelde ervarings goed is vir elke huwelik.
Kuier om ’n koppie koffie (of drie) tot die kafeïen julle hare laat regop staan en julle soos chipmunks praat. Met die klem op práát! Beleef ’n plek waar julle nog nooit was nie en hou manlief se hand styf vas terwyl hy op die vliegtuig hiperventileer. Of kook saam – al behels “kook” in jul ervaring die rooster van ’n toebroodjie – jy mág dit maar ’n gourmet sandwich noem.
FEIT#2: Daardie “lag saam tot ons omval”-oomblikke is noodsaaklik.
Humor is ’n noodsaaklike bestanddeel van elke suksesvolle huwelik en een studie het dit bewys – paartjies wat gevra is om ’n oomblik te herroep waar hulle saam gelag het, het gerapporteer dat hulle meer bevredig is as dié wat gevra is om positiewe oomblikke in hul huwelik te herroep.
FEIT#3: Deur dinge positief te hou, kan julle jul huwelik ’n hupstoot gee.
5:1 versus 0,8:1: Gelukkige paartjies het vyf positiewe interaksies vir elke negatiewe een. Paartjies wat in die skeihof beland het, het maar 0,8 positiewe interaksies gehad vir elke negatiewe een! Paartjies wat positief dink, het ’n 94% groter kans om ’n gelukkige toekoms saam te hê as ander.
FEIT #4: Moet nooit die krag van vriendskap onderskat nie.
Navorsing het bewys dat die bepalende faktor as dit kom by geluk ten opsigte van seks, romanse en passie afhang van die gehalte van ’n paartjie se vriendskap.
FEIT #5: Gehaltetyd kan die verskil tussen slaag en misluk beteken.
Gelukkige paartjies spandeer vyf ure meer per week aan saamwees en gesels as ander.
FEIT #6: Dit is só nodig om tyd te maak vir seks!
Die gelukkigste paartjies het twee tot drie keer per week seks. Jou kanse om gelukkig te wees, is 55% groter as julle ’n paar keer per week seks het! As julle minstens een keer per week seks het, is julle 44% meer geneig tot positiewe gevoelens as jul eweknieë wat minder tyd tussen die lakens deurbring.
FEIT #7: Om jou maat se sukses te vier, is die sleutel tot geluk.
Jou maat kom by die huis en verklaar dat hy vandag die bevordering gekry het waarvoor hy al tien jaar lank werk! Wat doen en sê jy?
- “Liefie, dit is fantasties! Ek is só trots op jou. Kom vertel my alles!” terwyl jy hom ’n stywe druk gee.
- Jy weet dit al oomblikke nadat hy die nuus gekry het, maar jy shop gou klaar, dan sal jy hom SMS. Intussen trap jy eers die winkels plat – jy het groot planne met die huis noudat hy sakke vol geld gaan verdien.
- Jy snork en sê: “Dis hoog tyd. Nou gaan jy seker met die high society uithang en vir Kiepie inruil vir ’n jong model. Waag dit net en ek trek jou kaal uit – dan sit jy weer met niks!”
Ons hoop van harte jy omkring nommer een, want navorsing toon dat een van die sterkste faktore as dit kom by ’n suksesvolle huwelik is hoe jy jou maat se sukses vier. Gelukkige paartjies toon entoesiasme vir mekaar se sukses, hulle vra vrae, hulle wens hul maat geluk en herleef die oomblik saam met hul maat.
FEIT #8: Die geheim lê daarin om reg te baklei.
As dit kom by die bokshandskoene . . .
. . . baklei ongelukkige paartjies só: Deur te kritiseer, afkeurend te wees, hul oë te rol, verdedigend op te tree, mekaar sleg te sê en “af te skakel”.
. . . baklei gelukkige paartjies só: Hulle gebruik humor, wys toenadering en tree toegeeflik op.
FEIT #9: Die eerste twee jaar speel ’n belangrike rol.
Gemiddeld gee die eerste twee jaar van getroude lewe vir paartjies ’n groot huwelik-hupstoot, waarna die vlakke van geluk terugkeer na wat dit voorheen was.
FEIT #10: Daar wag weer groter geluk sodra die kinders ouer is.
Kinders grootmaak bly ’n uitdaging in huwelike! Volgens navorsing is die ongelukkigste pare dié wie se kinders in die kleuterskool is. Hul huweliksgeluk begin weer toeneem namate die jongste kind ouer raak. Dus is dit die moeite werd om vas te byt!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bron: www.happify.com.