Ek het die wonderlikste eggenoot wat ek ooit voor kon vra, hy dink presies áltyd net soos ek!

Promosie

Regtig…?

Enigeen wat getroud is, sal saamstem dat hierdie belaaide stelling ‘n versinsel van die waarheid is…’n romantiese illusie wat ver van die “regte” wêreld verwyder is. Ja, sekerlik mag jy en jou eggenoot díkwels dieselfde dink, maar om te glo dat jul áltyd, in álle opsigte eenders dink, is ongelukkig ontbloot van alle waarheid.

Nou, moet ons dan nie, soos wat die Woord sê, ‘een van sin en gedagte’ wees nie? Vir seker ja; maar kom ons kyk so bietjie na een of twee perspektiewe van hoé gesonde kommunikasie lyk.

Promosie

Wat ek graag deel, is nie náástenby ‘n kommunikatiewe tesis nie, en nóg minder is dit enigsins ‘n poging tot ‘n akademiese referaat vir gesonde kommunikasie. As ‘n eenvoudige, maar eerlike blik oor my, en my Elize, se beperkte 20 jaar huweliks-en lewenservaring, hoop ek egter dat iets daarvan sal kan bedien tot iemand.

Nog vars in my geheue flits die wonderlike romantiese aanname terug, asof dit gister was…

‘Uitéindelik het ék iemand gekry – of sal ek eerder sê – het die Hére my iemand gegee – om dit nou mooi te vergeestelik – wat my hart behoorlik verstaan!’

‘Dankie Vader dat U vir die belangrike ek, iemand gegee het wat mý verstaan en liefhet, soos wat ek is. Iemand vir wie ek net kan kyk, en sy weet presiés wat ek dink!’

O weë, wat ‘n wonderlike droom-wêreld om in te leef! Ek is tot so wónderlike nugterheid gebring deur my besonderse vrou se treffende, reguit kommunikasie – wat my – op sóveel mooi en effektiewe maniere – iets van die lig laat sien het rondom wat kommunikasie behoort te wees.

En hoe ouer ons word, hoe meer leer ons die absolute waarheid dat ons nie die luuksheid van tyd tot ons beskikking het nie… elke oomblik is wérklik ‘n gawe uit God se hand.

Mag ek blatant eerlik wees? Ten koste van die ontbloting van my eie tekortkominge… maar hopelik ten voordeel van iemand wat hier mag lees, of luister?

Dit het my 20 jaar van getroude lewe geneem om te besef dat ek eintlik wíl hoor wat ék wil hoor; en dat – wanneer ek nie hoor wat ék wil hoor nie – ek maklik in die versoeking kom om te wil klippe optel en na ander gooi.

“Ek weet jy glo dat jy dink jy verstaan wat ek gesê het, maar ek is nie seker dat jy begryp dat wat jy gehoor het, nie is wat ek bedoel het nie.” Wat ‘n mondvol, maar tog só die waarheid, is dit nie? Daar is ‘n welbekende Engelse spreekwoord – wat ek so effens wil aanpas ter wille van goeie smaak – wat lui; ‘Assumption is the mother of all foul-ups’

Die hartseer is, dat dit nie saak maak hoe groot of klein ‘n aanname mag wees nie, dit ons in ons huwelike onnodiglik kommunikasie-pyne, hartseer, tyd, energie, en dikwels ook geld, kan kos.

Hoe verhoed ek aannames en kommunikeer ek beter?

Die Woord het vir ons wonderlike riglyne hieroor; hier is net so paar om ons te inspireer;

1. Soek na insig en begrip, maak seker jy verstáán wat bedoel word deur ‘n stelling (Spreuke 4:7)

Die Skrif is duidelik hieroor; indien ek, of jy, nie na begrip soek nie, is ons dwaas (Spreuke 18:2), en dit is mos nie wie ons is nie!

2. Moenie op jou eie insigte staatmaak nie (Spreuke 3:5), wees vinnig om te luister vir jou huweliksmaat (Jakobus 1:19)

Is dit nie so dat ons bykans elke keer wanneer ons nét op ons eie idees en planne staatmaak – sonder om dit te toets teen ander nie – in die moeilikeid beland nie? Ek kan getuig daarvan! God het met ‘n doel vir ons eggenote gegee, om ons te help om ‘op die pad te bly’ as’t ware. Ons het mekaar nodig! Luister vir jou huweliksmaat… nog beter, wees vínnig om vir hom/haar te luister! Dit mag dalk net jou lewe red, letterlik, en figuurlik.

3. Vind insig en begrip in die vrees van die Here, as die begin van wysheid, en in Sy Woord (Spreuke 1:7, Spreuke 9:10 en Psalm 119:130)

God se Woord is die bloudruk, en bevat ál die riglyne wat ons nodig het. Om sonder Hom en Sy Woord te probeer lewe is ‘n resep vir mislukking – glo my, ek weet, ek was daar… ek het die T-hemde om dit te bewys.

4. Wees lief vir die Here en Sy woord, en dan sal níks jou aanstoot gee nie, nie eens misverstande nie! (Psalm 119:165)

God se Woord is soos ‘n liefdes-magneet!Wanneer ek myself daarin verdiep, dan kan ek mos nie anders as om self ‘n magneet van Sy liefde te raak nie. Dit wat positief is trek ek aan, in liefde; maar dit wat negatief is, stoot ek weg, dit is, die negatiwiteit van aanstoot, teleurstelling, hartseer, haat, afguns, jaloesie ens.

Ons Vader het vir jou, en jou huwelik, ‘n kommunikasie handleiding beskikbaar gemaak, om jou te help om op koers te bly

Kies vandag aktief om jouself en jou huwelik te verdiep in Hom en Sy Woord, en jy sal vind hoe dit jou tot ‘n lewe van uitermatige seën en voorspoed lei! Die Here het jou lief, Hy het Sy lewe vir jou en jou huwelik gegee! Hy het gekom sodat jy en jou maat lewe, en lewe in oorvloed mag beleef. Dit is die hart van die Vader, wat ek bo alles, met groot deernis aan jou wil kommunikeer.

Jy en jou huwelik, is nié ‘n mislukking nie…

Al mag ons mekaar soms “mis” deur slegte kommunikasie, vanweë ons uitermatige besige lewens, is dit nie die einde nie. Kom ons leer daaruit, en kom ons verander dit! Maak tyd om met mekaar te kommunikeer en mekaar ‘raak te praat’ deur;

– Insig en begrip te soek in wat jou maat sê.
– Nie op jou eie insigte alleen staat te maak nie, maar vir mekaar te luister.
– Insig en begrip in die Here en Sy Woord te vind, en
– Lief te wees vir God en Sy Woord

Artikel deur Charles van Onselen