Jy is al halfpad aan die slaap wanneer jy manlief se hand oor jou bobeen voel gly. Jy weet wat dít beteken en jy speel saam. Jou magie voel effens bloated, jy het jou ouma-panty aan en vandag se maskara maak dik halfmane onder jou oë – en dan skakel hy die lig aan!
“Dit gaan nie vir my werk nie,” dink jy en trek die duvet tot onder jou ken. “Hoekom sal hy die atmosfeer só wil bederf?” Jy leun selfbewus oor en skakel die lig af. “Waarom op aarde sal sy hierdie ongelooflike uitsig van my wil belemmer,” wonder hy, ietwat geïrriteerd, terwyl hy die lig weer aanskakel. En dís hoe die rusie begin.
Jy het dit al telkemale gehoor: Mans is visuele wesens. En terwyl jy jou bekommer oor jou selluliet en die uitwerking van gravitasie op jou bralose borste, drink manlief jou lyf in en word dronk van die liefde! Hy geniet dit om te sien jy reageer op dít wat hy doen en kan nie wag om te aanskou hoe jy daardie punt van ekstase bereik nie.
Maar as jy aanhou fokus op negatiewe gevoelens rakende jou lyf, hoop hy verniet, want ’n swak liggaamsbeeld belemmer jou vermoë om seks te geniet.
Die seksspeelgoed-maatskappy Adam & Eve het ’n peiling onder 1 000 Amerikaanse volwassenes gedoen om vas te stel wat hulle verkies. Amper die helfte (48%) het gesê hulle hou van verskeidenheid (soms ligte aan, soms ligte af). Altesaam 10% hou van die ligte aan en 41% verkies dit af.
Ons sê ook nie dat die ligte pal moet brand nie! (Wat is immers nou lekkerder as ’n knypie in die donker as beurtkrag ’n fliek onderbreek?) Maar probeer dit so nou en dan. Hoekom?
- Want mans is visuele wesens en dít wat hy sien, dra by tot sy hele seksuele ervaring. Jou fisieke “foutjies” is juis dít wat hy bekoorlik vind. Deur nóg ’n sintuig in die prentjie toe te laat (afgesien van aanraking), verbeter jy net die ervaring!
- Julle kan mekaar nie in die oë kyk as dit pikdonker in die kamer is nie. Om oogkontak te maak met jou maat gedurende seks, is ’n booster vir emosionele intimiteit tussen julle twee.
- Dit is ’n teken van vertroue tussen julle twee. Dink hoe broos het jy gevoel toe jou man jou die eerste keer in jou naakte glorie gesien het. Met ligte-aan seks wys jy jy is bereid om weer só broos voor hom te wees, ten spyte van al jou onsekerhede.
- Soms is seks met die ligte aan bloot prakties om te weet waar wat moet kom. In sekere posisies is ’n katelklits nogal ’n uitdaging – neem die ligte weg en jy maak dit nóg meer kompleks!
- Dit gee sy selfbeeld ’n hupstoot. Ons word só gebombardeer met die “perfekte liggaamsbeeld” dat selfs jou man waarskynlik skaam voel om kaal deur jou gesien te word. Deur hom te wys dat jy hom waarlik wil sien met die ligte aan, laat hom goed voel.
Hoe kry jy jouself daar?
- Smyt al die vooropgestelde idees uit. Ja, jy het nie ’n lyf soos Kate Moss nie, maar wie het? En wie sê in elk geval dat manlief van Kate Moss se lyf hou? Vra hom en hy gaan waarskynlik vir jou sê: “Nee wat, haar boude is te plat.” Ons word gebombardeer met lywe van modelle wat leef op drie slaaiblare en ’n halwe kersietamatie per dag. En dan word die foto’s boonop gemanipuleer ook. Moet jouself nie aan daardie onmoontlike standaarde meet nie.
- Doen wat jy kan om goed te voel. Niemand voel goed as hulle ’n pizza en ’n liter Coke verorber het nie. Deur te kyk wat jy eet en elke dag te oefen, kan jy jou liggaamsbeeld verbeter, selfs al sien jy nie ’n verskil in die spieël nie. Streef gesondheid na, nie perfeksie nie.
- Werk aan jou kop. Jou brein is jou grootste seksorgaan. Fokus op dit waarmee julle besig is en in plaas daarvan om te tob oor hoe jý in ’n sekere posisie lyk, fokus eerder op jou maat, die reuk van sy lyf, die kurwes van sy boarms en sy onweerstaanbare glimlag.
- Bêre daardie Bridget Jones-onderklere agter in die kas. Dít wat jy aanhet, kan ’n groot rol speel in hoe jy oor seks voel en hoe jy jouself sien. Daar is soveel onderklere in verskillende style en kleure . . . as jy iets kry waarin jy goed voel, gaan jy ook nie omgee as jou man jou daarin sien nie!
Nou moet ons ook darem byvoeg: As jou onsekerhede rakende jou liggaam só groot is dat jy nie kans sien vir ligte-aan seks nie en jy dwing jouself om deur te druk, gaan jy waarskynlik só selfbewus voel dat jy dit in elk geval nie geniet nie.
Die oplossing? Begin jouself stelselmatig kondisioneer deur eers ’n kersie (sommer die teeliggie-soort) aan te skakel. Dit gaan dalk eenkant in die hoekie flikker, maar dit is ’n begin. Daarna kan jy kyk of jy kans sien vir ’n paar kerse wat ’n romantiese lig aan die kamer verleen. En as jy dáárdie bruggie oorgesteek het en eers gesien het hoe jou man jou lyf geniet, ruil jul bedlampies se gloeilampe met gekleurde gloeilampe of dié soort wat sagte lig aan ’n vertrek gee. Kort voor lank gaan dit jý wees wat om middernag die lig aanskakel!
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.emandlo.com, www.yourtango.com, www.linkedin.com.