Om vir 30 dae elke dag seks te hê, klink miskien vir die meeste sterflinge van die Adamsgeslag na ’n droom wat bewaarheid word, maar ’n mens moet mooi dink voordat jy jouself op onbekende terrein begewe. Hier volg die voor- en nadele van ’n 30 dae-seksuitdaging.

Om 30 dae na mekaar seks te hê, is ’n wonderlike geleentheid vir ’n paartjie om saam ’n doelwit vir die slaapkamer te stel, mits hulle dit nie té ernstig opneem nie. INTIEM het interessante resultate met vorige 30-dae seksuitdagings gehad.

Volgens Cindy*, ’n bemarkingspesialis van Pretoria, is dit die lekkerste uitdaging wat sy nie kon voltooi nie. “Ek en my man is avontuurlustig van nature en het vooraf ooreengekom dat ons voluit sou gaan, maar dat ons mekaar nie sou verkwalik as ons dit nie regkry nie. Dit het ons liefdeslewe baie opgekikker, maar paartjies moet oppas om te veel druk op mekaar te plaas,” sê sy.

Volgens James en Cloë* van Benoni was die uitdaging aanvanklik kinderspeletjies, maar op dag 14 het hulle ’n slaggat getref, maar steeds volhard. “Dit was baie moeilik. Dit het ons kreatiwiteit en deursettingsvermoë tot die uiterste beproef. Ek dink omdat ons nie kinders het nie en baie seksueel aktief was voor die uitdaging, was dit vir ons makliker,” sê Cloë.

Promosie

Wat sê die kenners?

Dit is prettig, maar is dit vir almal bedoel? “Ek sal nooit ’n paartjie aanraai om vir 30 dae na mekaar seks te hê nie. Dit plaas baie druk op beide partye om te presteer. Niemand is ooit 30 dae na mekaar lus vir seks nie. Dit beteken een van die twee gaan gereeld seks hê, al is hy of sy nie regtig in die bui nie. Of dat, wanneer die een moeg is of siek is, die druk verhoog. Só kan die man dalk erektiele disfunksie hê omdat daar te veel druk is, wat dan tot prestasie-angs en psigogene erektiele disfunksie kan lei.”

“Wanneer die vrou nie heeltemal in die bui is nie, kan sy sukkel om opgewek te raak. Dit kan orgasme bemoeilik en selfs pyn veroorsaak, wat dan ’n bose kringloop kan veroorsaak wat op terapeutiese vlak aangespreek moet word,” sê dr Elmari Mulder Craig, ’n bekende kliniese seksuoloog en verhoudingsterapeut.

Maak tyd vir mekaar

Volgens dr Mulder Craig moet eerder op ’n gereelde grondslag spesiale alleentyd as paartjie beplan word. “Dis tyd wat nie noodwendig net sekspenetrasie behels nie, maar waarin die paartjie verhoudingstyd en intimiteit op ’n emosionele, sensuele en seksuele vlak skep. Kies eerder om elke dag aan mekaar te raak, te soen en mekaar te masseer, en soos dinge spontaan en natuurlik gebeur, dit toe te laat om te ontvou. Dis egter wel belangrik om oor ’n mens se verwagtinge te praat,” sê sy.

“Dit is regtig gevaarlik om resepte en uitdagings uit te deel waar dit die seksuele aangaan. ’n Mens kan eerder daarop fokus om vir ’n maand minstens drie keer per week sensueel te wees. Dis belangrik om stap vir stap ’n plan uit te werk – soos wat first base vir julle is, wat second base is en tot by penetrasie. Die idee is om oor julle behoeftes te kommunikeer. Om te gee en te ontvang, dus rolle om te ruil van wie gee en wie ontvang, en om mekaar se lywe opnuut te ontdek,” sê dr Mulder Craig.

Moenie bekommer oor ’n nommer nie

“Daar is net soveel programme soos wat daar diëte is. Net soos kitsdiëte, werk kitsseks-idees nie eintlik nie. Waarom is almal altyd so behep met nommers? Die gemiddelde Sandton-paartjie (’n besige familie met kinders) het elke tiende dag seks. So as jy meer as drie keer ’n maand seks het, gaan dinge eintlik goed,” sê prof Elna Mcintosh, ’n seksuoloog.

“Enige dieet werk as ’n mens daarby hou, maar sommige ‘diëte’ kan ’n mens nie volhou nie en dan gaan dinge gewoonlik erger daarna. Daar is min mense met seksprobleme wat by my deur aanklop. Seks is die simptoom, maar nie die ‘siekte’ nie,” sê sy.

Wat sê Jan Alleman?

Volgens Johan*, ’n boudoir-fotograaf van Johannesburg, is die uitdaging onrealisties. “Ek praat uit persoonlike ervaring. Met werk, kinders en ekstra werk is dit bitter moeilik om energie en tyd te maak vir enige fisiese kontak. Ek help soveel as moontlik in die huis, doen drie werke en reis daagliks baie.

“Dis net om kop bo water te hou. Ek dink as daar dalk ’n ander benadering is, sal dit meer sin maak. Iets soos: ‘Leer jou maat ken binne 30 dae.’ Dit is beslis doenbaar. Om elke dag tien minute daaraan te bestee om te kommunikeer, weer ’n verbintenis te vind en net eenvoudig weer mekaar te leer ken, flirt en selfs net voorspel met die doel om passievolle omgang te kan hê. Al die posts oor gesonde seks en selfs van die kommentaar op Facebook dui vir my daarop dat paartjies brand vir intimiteit, maar nie weet hoe om te connect nie,” sê Johan.

“Natuurlik moet ’n mens dit sien as ’n pret-uitdaging en nie as ’n lewe-en-dood kompetisie nie. Dit raak gevaarlik wanneer maats onrealistiese verwagtinge van mekaar het of druk op mekaar plaas om die uitdaging te voltooi wanneer albei nie op dieselfde golflengte is nie,” sê Annelize Steyn, redakteur van INTIEM.

“Die reaksie op ons eerste 30-dae seksuitdaging was positief. Hoewel baie mense gesukkel het om die uitdaging te voltooi, was dit ’n prettige aktiwiteit wat paartjies saam kon aanpak. Die uitdaging het ook ’n paar ‘vrypasse’ ingesluit, wat jy kon gebruik op dae wanneer dit werklik moeilik was om deur te druk. Baie paartjies het gesê dit het hulle weer bewustelik op intimiteit laat fokus,” vertel sy.

“Die lewe gebeur dikwels net met ’n paartjie en dit raak maklik om seks heel onder aan die prioriteitslysie te plaas. Die uitdaging kan só ’n paartjie weer bewus maak van mekaar en van die belangrikheid van intimiteit in ’n huwelik.”

Daar is soveel seksuitdagings as wat daar menings oor die onderwerp is. Dit klink miskien na ’n stelling wat al holrug gery is, maar kommunikasie is die sleutel tot sukses. Praat oor wat intimiteit vir jou as persoon beteken, en moenie aanneem dat alle mans en vrouens weens stereotipering oor dieselfde kam geskeer kan word nie.

Die goue reël is: Hê pret, gesels daaroor en durf ’n uitdaging aan wat jou en jou maat se lewenstyl pas. En as die lewe inmeng in jul doelwit, sien dit as ’n natuurlike verloop van omstandighede en nie as ’n mislukking nie.

*Skuilname is gebruik.

Artikel deur Ettienne van Rensburg 

Artikel geborg deur Matildas