Dis heerlik om sonder voorbehoud te bestee en jou later eers oor die skade te bekommer, maar as julle oud genoeg is om te kon trou, is julle waarskynlik ook oud genoeg om te besef dat ’n begroting ’n noodsaaklikheid is.

Promosie

Geldsake is nou nie juis een van die mees romantiese onderwerpe nie, maar dis baie belangrik om met jou maat aan te raak omdat misverstande in dié verband groot huweliksprobleme tot gevolg kan hê. Dis juis een van die groot oorsake van egskeiding!

As julle dit dus nog nie gedoen het nie, is dit tyd om ’n afspraak te maak om jul finansies te bespreek. Maak daarvan ’n lekker geleentheid waarna julle kan uitsien (onthou die pizza en die wyn!). Onthou ook dat daar opvolg-afsprake soos dié gaan wees waarin julle kan seker maak julle bly op koers. Dit is dus ’n goeie plan om sommer hiervan ’n weeklikse/maandelikse ritueel te maak.

Oorweeg jul huidige omstandighede en kyk eerlik na ’n maand se uitgawes. Wees openlik, maar nie veroordelend nie, wanneer julle jul uitgawes bespreek. Waar is daar ruimte vir verbetering? Kyk ook na jul omstandighede en dít wat in hierdie stadium baie van jul inkomste opslurp (is daar ’n baba in die huis?).

Promosie

Bespreek nou jul lewensdoelwitte en wat julle finansieel sal moet doen om dit te bereik. Wil julle binnekort na ’n ander, groter huis toe trek? Sal julle op wegbreeknaweke moet sny om dit te kan bekostig?

Oorweeg julle verskillende bestedingstyle? Is jy ’n bespaarder of ’n besteder? Koop jy na lang oorweging of op impuls? Leer ken die verskil tussen behoeftes en begeertes, meen dr Taffy Wagner, ’n gesertifiseerde opvoedingkundige en outeur van Bride and Groom’s Money Talk FAQ.

Span jul verskille in tot julle voordeel! Miskien is jy goed met hoofrekene, maar vroutjie is beter daarmee om administrasie op datum te hou. Jy neem dalk vinnige besluite, maar jou vrou sukkel om tot op die punt van besluitneming te kom. Span elkeen se talente in tot voordeel van jul begroting, sê Kathleen Gurney en Ginita Wall in Love & Money: 150 Financial Tips for Couples.

Livingonadime.com sê: vir julle om jul finansies op die regte manier te hanteer, daar heelwat kompromieë getref sal moet word. Julle finansiële prioriteite sal waarskynlik verskil en julle sal planne moet bedink wat vir julle albei gaan werk. Wees bereid om te gee en te neem.

Onthou ook dat julle nie die vrag van finansies alleen hoef te dra nie. Daar is mense wat gekwalifiseerd is om ’n mens se geldsake vir jou te help bestuur. Roep die hulp van ’n finansiële beplanner in of gebruik oulike webtuistes, tydskrifte en blogs. Daar is ook oulike toeps (soos Wallet, Spendbook, Budget, My Budget Book en Spending Tracker) op jou selfoon wat jou kan help om by jou begroting te hou!