Dit is onmoontlik om álles van jou maat te weet – en dis ’n goeie ding! ’n Verhouding is tog ’n dinamiese proses. Dit maak die huwelik uitdagend en beteken beslis nie dat jy moet berus by dit wat jy reeds weet nie . . .
Wanneer twee pasmaats mekaar ontmoet, is die nuutjie opwindend. Julle bly laat nagte wakker om meer oor mekaar te leer. Julle raak kinderlik opgewonde oor ooreenkomste en staan verwonderd oor julle verskille. Daarna kom die ontnugteringsfase, waarin julle leer om met daardie verskille saam te leef. En uiteindelik is daar die sekuriteit en stabiliteit wat ’n paar jaar se getroude lewe jou bied. Jou maat is tot ’n sekere mate voorspelbaar en dit bring rustigheid mee.
Ongelukkig raak ’n mens maklik só gemaklik dat jy begin om jou maat as vanselfsprekend te aanvaar. Al is jy dekades lank getroud, kan jou maat jou steeds verras. Jou doelwit moet wees om verras te word! Dis belangrik om bewustelik honger te bly vir inligting.
50 Vrydae van nuuskierigheid
In hul boek The Fifty Fridays Marriage Challenge daag Jeff en Laura Helton lesers uit om elke Vrydag ’n paar minute te bestee daaraan om een vraag te beantwoord wat daartoe sal lei dat hulle ’n oop en eerlike gesprek met mekaar sal hê. Soms sal julle saam lag. Soms sal julle dit as ’n uitdaging beleef en gedurende ander tye sal julle saam droom, meen hulle.
“Om jou huwelik bewustelik te laat groei, is ’n waardevolle belegging,” sê hulle in hul boek. Die opbrengs op die belegging bring ’n voordeel wat ver verby jou huwelik strek. Ons almal los ’n nalatenskap deur ons huwelike vir ons kinders en vriende. Ons kan kies watter tipe nalatenskap ons wil los – een wat gekenmerk word deur ’n tekort aan bewustelikheid of self aan apatie. Of ons kan ’n nalatenskap los wat gekenmerk word deur ’n bewustelike manier van verbintenis en om die jare wat voorlê te geniet sodat dit nie by ons verbygaan nie.”
Nuuskierigheid vs agterdog
Ja, nuuskierigheid is ’n baie belangrike bestanddeel van ’n gesonde huwelik, maar ons moet byvoeg dat respek vir privaatheid ook ’n groot rol speel. Om met jou maat getroud te wees, beteken wel dat jy moet nuuskierig bly oor wie hy/sy is, maar dit beteken nie dat jy geregtig is op elke privaat gedagte van daardie persoon nie. Jy mag dus jou maat uitvra, maar respekteer dit as hy/sy nie alles met jou wil deel nie. Om waarlik intimiteit met jou maat te hê, is ook om respek te hê vir sy/haar privaatheid, want as jy indruis waar jy nie genooi word nie, word die grense vernietig. Dink ook mooi oor die plek waar jou nuuskierigheid vandaan kom. Is jy nuuskierig omdat jy interessant vind? Of kom jou nuuskierigheid vanaf ’n plek van agterdog?
Oorweeg dit egter ernstig om die zero privaatheidsbeleid in jul huwelik te inkorporeer. Wat dit behels, is dat julle geen geheime vir mekaar het nie. En dat liefde en vertroue die basis vorm van jul hele verhouding. Dit beteken geen wagwoorde en geen geheime vir mekaar nie. As dit daar is, sal jou nuuskierigheid kom vanaf ’n gesonde plek en sal jou maat dit verwelkom sonder om te voel hy/sy moet hulself verdedig.
Só bly jy nuuskierig oor jou maat!
Hoe kan jy die nuuskierigheid lewendig hou? INTIEM daag jou uit om hierdie uitdagings te voltooi – een elke maand. Julle het net tot die laaste dag van die maand vir elke uitdaging, so tref vroegtydig reëlings om dit te laat gebeur.
- Deel jul drome. Neem ’n stuk papier en skryf vyf lewensdrome neer. Skryf besonderhede neer soos: “Ek wil graag die Sewe Wonders van die Wêreld sien voor my 50ste verjaardag en ek hoop ons sal die kinders kan saamneem om dit te beleef.” Jy weet dalk wat jou maat se grootste droom is, maar het geen idee wat vyfde op sy lysie is nie.
- Leer meer oor mekaar se stokperdjies. Jy ken die gebruik om ’n kind saam met jou werk toe te neem sodat die kind meer kan leer oor jou beroep. Wel, dink aan dié uitdaging as ’n “Neem jou maat na jou hobby toe”-dag. Julle kan albei se stokperdjies op een dag/aand beleef of julle moet twee afsonderlike dae hiervoor afstaan. Neem jou maat saam met jou gholfbaan toe en maak haar touwys. Vat manlief saam na jou pottebakkersles toe en wys hom ’n tegniek of twee. Só kry jy ’n kykie in jou maat se lewe én jy gee jou maat kans om iets met jou te deel wat jy nie weet nie.
- Speel die kenmekaar-speletjie. Maak twee kopieë van ’n lang lys met vrae, soos: Wat is jou maat se gunsteling kleur? Watter musiek kan hy/sy nie uitstaan nie? As hy/sy ’n ander beroep kon volg, wat sou dit wees? Wie beny hy/sy? Wie is sy/haar rolmodel? Sit een aand met die vraelys en ’n bottel wyn, en vul die vraelys in. Gaan dit ná die tyd deur en bespreek jul antwoorde met mekaar.
- Die drie minute aan tafel. Dit is ’n ritueel waaraan die hele gesin kan deelneem, maar jy en manlief moet die voortou neem. Julle kry elkeen drie minute om ’n hoogtepunt en ’n laagtepunt van jul dag te deel. Julle mag maksimum een minuut wy aan die laagtepunt en maksimum twee minute wy aan die hoogtepunt (positiwiteit wen altyd!). As jou drie minute verby is, is dit die volgende een se beurt. Maar as almal klaar gedeel het, kan julle verder uitvra oor mekaar se hoogte- en laagtepunte.
- Draai die horlosie terug. Skryf die volgende temas elk op ’n stukkie papier: My grootste vernedering as tiener / my lekkerste herinnering aan my oupa en ouma / ’n pret-herinnering aan die kattekwaad wat ek en my sibbe aangejaag het / my eerste, beste maatjie / my heel eerste soen. Vou die papiertjies toe en gooi dit in ’n hoed. Elkeen kry nou die kans om een van die papiertjies te trek, waarna elk van julle hierdie herinnering moet deel.
- Tien vrae aan skoonma! Maak dit ’n lekker aktiwiteit wanneer die skoonfamilie weer kom kuier. Jy kry tien minute om jou skoonpa of skoonma tien vrae oor jou maat te vra, wat sy natuurlik ook in daardie tydsraamwerk moet beantwoord. Probeer egter om dit positief te hou en moenie tyd mors op vrae soos “Tot wanneer het Gideon doek gedra?” nie. Die res van die gesin kan julle time en almal behoort lekker te lag vir die opwinding en die vrae en antwoorde wat onder druk gegee word!
Om nuuskierig te wees oor jou maat, wys dat jy in hom/haar belangstel. Dit help skep aan daardie nalatenskap waarvan Jeff en Laura in hul boek praat, en dit sal maak dat jy en manlief nie eendag, oor 20 jaar, een van daardie paartjies is wat regoor mekaar in die restaurant sit met niks om te sê nie. Bly nuuskierig en bly gelukkig getroud!
Addisionele bronne: www.sheknows.com.