Talle kere het ‘n ontstelde man of vrou my al kom vertel dat hulle nie meer met hulle huweliksmaats kommunikeer nie. Wat hulle bedoel is dat hulle nie meer die tyd neem om hulle planne en vrese, hulle vreugdes en frustrasies, te deel nie.

Promosie

‘n Ruk gelede het Helga in my studeerkamer gesit en huil, omdat sy na nege jaar nie meer tot haar man kon deurdring nie. Elke keer wat sy by hom gepleit het ‘om sake uit te praat’, het hy haar belowe om dit te doen, ‘maar nie nou nie – later’. Tog het hierdie paartjie in hul vroeëre huweliksjare soveel met mekaar gedeel – nou kommunikeer hulle egter net hulle frustrasie, weersin en beskuldigings. Hulle ondervinding is tipies van ‘n groot aantal huwelike. Om die een of ander rede begin die hoë vlak van kommunikasie wat die hofmakery gekenmerk het, kwyn – vir sommige paartjies vinniger as vir ander.

Vir die meeste paartjies word hul hofmakery gekenmerk deur ‘n hoë vlak van kommunikasie. As dit nie so was nie, sou die verhouding vroeg-vroeg ten einde geloop het, of glad nie begin het nie. Die hofmakery is ‘n tyd van opwinding en verwondering namate twee individue mekaar in hulle diepste wese begin leer ken. Elkeen van ons word in ‘n sekere sin alleen groot – ons hou ons diepste gevoelens vir onsself. Wanneer ons egter iemand ontmoet aan wie ons ons innerlike self kan onthul, met wie ons ons diepste emosies kan deel, aan wie ons ons harte kan toevertrou, word dit een van die verruklikste en opwindendste ervarings van ons hele lewe. Dit is die romanse wat digters besing, waaroor skrywers fantaseer en wat sangers in vervoering bring – dit is die kern van ‘n intieme verhouding.

Waarom die afname?

Promosie

As hierdie soort kommunikasie so betekenisvol is, so opbouend en so stimulerend, waarom is daar dan met verloop van tyd ‘n afname? En ek wil dit beklemtoon dat daar altyd ‘n natuurlike daling sal wees in die vlak van kommunikasie, tensy ‘n paartjie aktiewe stappe neem om hulle kommunikasie op ‘n hoë vlak te handhaaf.

  1. Familiariteit

Een van die hoofredes vir die daling is die probleem van familiariteit. Ons aanvaar dat ons ons huweliksmaat ken – dat daar niks meer oorbly om te ontdek nie. Derhalwe doen ons geen moeite meer om mekaar verder te leer ken nie. Tog is dit ‘n absolute wanbegrip. Ons sal nooit ons huweliksmaats ten volle ken en verstaan nie. Elke individu het emosionele dieptes wat onpeilbaar is – en wat voortdurend verander.

  1. Die tydsprobleem

Nog ‘n rede vir die afname in kommunikasie, is die gebrek aan tyd. Gedurende die hofmakery het die meeste mense nie veel verantwoordelikhede nie, en gevolglik het hulle meer tyd tot hulle beskikking. Namate ons egter ouer word, skyn ons lewens te ontaard in’n eindelose gejaag. Ek verbaas my altyd daaroor dat ons dikwels meer tyd het om met kollegas en bure te kommunikeer, as met ons eie huweliksmaats. Dit dui daarop dat ons die tyd wel kan vind indien ons regtig wil.

  1. Konflik is nog ‘n boosdoener

Die derde rede vir die daling in die vlak van kommunikasie, is die wyse waarop konflik hanteer word. Dié wat konflik vermy, gee selde of ooit uiting aan hulle gevoelens, en luister ook nie juis graag nie. Die ingee-benadering impliseer dat ons ook nie ons menings en begeertes stel nie, terwyl die sterk kompeterende element wat deur die wen/verloor benadering geskep word, enige intieme mededeling uitsluit. Selfs die bedingingsbenadering maak mense versigtig om hulself nie te veel bloot te stel nie, aangesien dit hulle bedingingsposisie kan benadeel. Dit is slegs die wen-wen benadering wat bevorderlik is vir intieme kommuniksie op ‘n hoë vlak.

Struikelblokke tot intieme kommunikasie

As dit waar is dat soveel van mislukte huwelike toe te skryf is aan ‘n gebrek aan intieme komunikasie, hoekom doen ons nie almal iets aan die saak nie? Hoekom doen ons nie almal die moeite om met ons huweliksmaats op ‘n vlak te kommunikeer wat ons verhouding sal versterk nie? Die probleem is: Al sou ons die moeite doen en die tyd daarvoor inruim, en sodoende negatiewe konflikhantering vermy, ons nog voor ‘n aantal sielkundige struikelblokke te staan sou kom wat dit moeilik maak om uiting te gee aan ons diepste emosies. Só identifiseer jy dit en neem aktiewe stappe daarteen:

  1. Trots. Mans vind dit moeilik om hul emosionele swakhede teenoor hul vroue te erken. Van mans word verwag om altyd die beeld van bekwaamheid voor te hou en enige emosionele swakheid word vertolk as ‘n ernstige tekortkoming in hul manlikheid. En tog, wanneer ons ons eie swakhede openbaar, maak ons die deur oop vir ander om ook hulle innerlike woelinge met ons te deel.
  2. Kwesbaarheid. Wanneer ons ons diepste verlangen, vrese en ambisies met iemand anders deel, is ons self baie kwesbaar. Hulle mag ons uitlag of bespot, of ons gevoelens uiters gering ag. Die meeste van ons se vrees is om verwerp te word. John Powell het een van sy boeke getitel: Why am I afraid to tell you who I am? En een persoon het daarop reageer met: “Ék is bang om jou te vertel wie ek is, omdat jy miskien nie daarvan sal hou nie en dis al wat ek het.” Tog kan ons nie persoonlike groei ervaar sonder om die risiko te loop wat persoonlike blootstelling meebring nie.
  3. Vrees om my maat te ontstel. Ons weerhou onsself van ware kommunikasie, omdat ons bang is dat ons daardeur ons maats sal ontstel of seermaak. Ons dink dat dit prysenswaardig is om ‘in stilte te ly’. Om stil te bly omdat ons nie ons maats wil belas met ons probleme nie, is egter nie ‘n liefdesdaad nie – dit is ‘n selfsugtige optrede wat slegs die verhouding kan benadeel. Die antwoord is nie om stil te bly nie, maar om saam te leer hoe om die opmerkings wat moontlik ons huweliksmaats sal ontstel of seermaak, doeltreffend te verwerk.
  4. Selfgerigtheid. Nog ‘n belangrike struikelblok tot intieme kommunikasie is die selfgerigtheid van een of altwee huweliksmaats – waar hulle hulleself slegs op hul eie belange en behoeftes toespits. Ons kan so behep wees met ons eie gemoedere, ons eie emosies, ons eie idees, ons eie planne, dat ons niks oor het om aan ons maats te gee nie. Selfgerigtheid is niks anders as emosionele onvolwassenheid nie – en dit het niks met ouderdom te doen nie.

Kan ons verander?

Nie een van hierdie struikelblokke is onoorkomlik nie, hoe ernstig hulle ook al mag wees. Niemand is permanent vasgevang deur sy verlede nie, al was die ervarings ook van watter aard. Die vraag waarvoor ons te staan kom, is nie ‘kan ek verander?’ nie, maar ‘wil ek verander?’ Die verandering van ons gedrag – en veral die kommunikasiepatroon tussen ons en ons huweliksmaats – sal baie moeite, geduld en moed verg. Moeite, omdat dit nie vanself sal gebeur nie – daar moet aan gewerk word. Geduld, omdat ons nie ten volle sal slaag met die eerste poging nie – ons sal moet probeer, probeer, en weer probeer. Moed, omdat verandering emosionele ongerief sal meebring.

Die versoeking is sterk om niks te doen nie – om dinge maar te laat gaan soos in die verlede. Maar die prys wat ons oor die lang termyn vir so ‘n houding sal moet betaal, kan nie bereken word nie – ons weet net dat dit ‘n baie hoë prys sal wees, want sonder betekenisvolle en intieme kommunikasie kan ons eenvoudig nie as individue groei en ontwikkel nie – ons kan slegs wegkwyn. Ons mag weelde, status en sogenaamde sukses behaal en nogtans nie ons volle menslike potensiaal ontwikkel nie. Die keuse lê weereens by ons.

  • Dié artikel is ‘n verkorte uittreksel uit die boek ‘Bou aan liefde vir ‘n leeftyd: Kom ons wen saam’ deur Dr Arnold Mol.

***

Indien opsoek is na meer sulke artikels en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!