Die een ding wat diskonneksie by paartjies bring op ‘n baie gereelde basis, is die feit dat hulle mekaar nie hoor nie. Dit is asof die woorde tussen die twee persone op ‘n wonderbaarlike manier verander en baie keer skoon ander betekenis kry. As paartjies nie weet hoe om hierdie probleem, of laat ek eerder sê uitdaging, aan te spreek nie, kan so ‘n paartjie al verder van mekaar af dryf. Hoe dan gemaak om mekaar te hoor?
Die probleem kom baie keer in by die hele konsep van EEN. Wanneer ons die dag trou, is ons bewus daarvan dat ons een word. Die konsep van een, is egter iets wat baie abstrak is en eintlik is dit ‘n uiters bedreigende nommer, want as ek een word met iemand anders, beteken dit dat daar dinge prysgegee moet word. Dit is soos die grappie wat die ou dominee vertel het waar hy gesê het: “Ja, ‘n huwelikspaartjie word een, en dan baklei hulle ‘n leeftyd lank oor watter een van die twee hulle word.”
Dit klink na ‘n grappie en ons kan lekker daaroor lag, maar ongelukkig is dit ook die waarheid in baie huishoudings.
Harville en Helen Hendricks wat die hele Imago konsep begin het, het egter aangedui ons word wel een, maar ons bly nooit op dieselfde eiland nie. Daar is egter ‘n bruggie wat die twee eilande verbind. So as my maat vir my sê dat hy of sy met my oor iets wil praat, dan stap ek oor die bruggie na sy of haar eiland toe.
Dit is egter belangrik om te verstaan dat my en my maat se eilande heeltemal verskil. Op my eiland staan die palmbome in rye en die kokosneute val in hope. En dit werk vir my. Op my vrou se eiland staan die palmbome waar hulle wil en die kokosneute val waar hulle wil en so nou en dan is daar ook ‘n kokosneut of twee met vlerkies aan.
Die uiteinde is dat ons twee eilande 100% verskil.
So hoe werk die eilande? Wel, as my maat my vra om iets met my te bespreek, dan vra hy of sy my om oor te kom na hulle eiland, hulle realiteit. So ek stap dan oor die bruggie en gaan lê besoek af op ‘n ander eiland. Die gevolg hiervan is dat ek heeltemal verward kan voel as ek daar kom. Die plek stres my heeltemal uit. Ek voel ongemaklik daar en wat ek sien maak net geensins vir my sin nie. My “default” is nou om, terwyl my maat met my praat, sy of haar palmbome in rye te begin plant en hulle kokosneute in hope te begin stapel. Ek doen dit met die beste intensie in die wêreld, want volgens my is ek besig om hom of haar te help en sy of haar realiteit
of eiland ‘n beter plek te maak.
My maat ervaar egter niks van dit nie. Hulle ervaring is dat ek met ‘n staatsgreep besig is. Hulle voel die volgende: onveilig, dat ek nie luister nie, dat ek nie waarde heg aan wat gesê word nie en op die lange duur, as ek met hierdie manier van optrede teenoor hom/haar aanhou, sal hulle ervaar dat hulle nie vir my waarde het nie.
Ek is dus ‘n bedreiging vir my maat en die natuurlike reaksie van enige persoon wat bedreig word is om te verdedig. Dit kan aanval of onttrekking beteken, of in sommige gevalle beide. Die gevolg is egter dat my maat op sy of haar eiland mure en loopgrawe bou om hulself te beskerm. Ek is ‘n gevaar vir my maat, want ek respekteer hulle realiteit en eiland glad nie.
Onthou nou ook: as ek my maat oornooi na my eiland, dan gebeur dieselfde aan my kant.
Die gevolg hiervan is dus dat paartjies net eenvoudig uit mekaar dryf, die see tussen die eilande word baie onstuimig en hulle voel glad nie meer veilig om oor die brug te stap na mekaar toe nie. Dan sit ‘n mens met ‘n situasie waar twee mense uiters alleen kan wees in ‘n huwelik.
Daar moet ‘n manier wees hoe hierdie eilande tot ‘n paartjie se voordeel kan werk. Die eerste is om die ou Grieke se standpunt te verstaan in vergelyking met die Jode s’n. Die ou Grieke het gesê: “To have knowledge is to have power”, met ander woorde, as ek iets van jou weet of iets nuuts van jou uitvind, dan kan ek dit teen jou gebruik of jou manipuleer tot my eie voordeel. Die Jode het egter gesê: “To have knowledge is to stand in awe”. Wees dus net in verwondering oor die nuwe wat jy uitvind of leer.
Die geheim is dus om jou eie eiland en die verstaan van die lewe op jou eie eiland te los as jou maat jou oornooi na hul eiland toe. As jy daar kom moet jy net in verwondering wees oor hoe anders die plek is. As ons in verwondering oor dinge is, sal ons ook vrae vra oor hoe dinge werk. Die belangrike is dat dit nie in hierdie proses gaan oor om saam te stem nie, maar om jou maat se realiteit of eiland beter te kan verstaan.
Dus vra jy vrae oor wat jou maat aan jou kommunikeer, maak seker dat jy nie jou eie opinie en opmerkings saam met jou neem nie. Moet nie tussen die lyne begin lees nie. Maak seker dat jy jou maat reg hoor deur te vra: “Hoor ek jou reg, is dit wat jy vir my sê?” Dan ook: “Vertel my meer van wat jy sê.” Die belangrike is dat as jy op jou maat se eiland is, dan is wat ook al daar aangaan aan die orde van die dag en lei dit die gesprek. Soos wat jou maat dinge sê of dinge kwytraak wat jy nie verstaan nie, vra hom of haar om dit beter aan jou te verduidelik, sodat jy beter kan verstaan, nie om dit later teen jou maat te gebruik nie.
As hierdie proses gevolg word, sal huweliksmaats voel dat hulle eie werklikheid en realiteit waarde toevoeg tot die verhouding. Maats sal ook bereid wees om die onderwerpe wat bespreek word baie dieper uit te pak.
Ons kan die onderwerpe wat ons met mekaar bespreek vergelyk met ‘n ysberg. Gesprekke gaan meeste van die tyd net oor die gedeelte wat bo die water uitsteek. Maats is nie bereid om mekaar onder die water na die res van die onderwerp te neem as hulle nie veilig voel nie. So as huweliksmaats bedreig voel, sal hulle oppervlakkig kommunikeer en hoop dat hulle maat die res van die onderwerp op hulle eie sal kan uitpak. Die gevolg is egter dat paartjies dit nie doen nie en mekaar se realiteite verkeerd verstaan en interpreteer, omdat daar nie ingeligte gesprekke daaroor is nie.
Ons oplossing is dus: Hou gereeld ‘n eilandvakansie in julle huwelik. Maak seker dat julle mekaar se eilande en realiteite respekteer. Doen moeite om meer van mekaar se eilande uit te vind. Julle hoef nie saam te stem nie, probeer net verstaan wat jou maat sê en ervaar.
As ‘n paartjie dit regkry, dan begin hulle verhouding dimensie kry, dan besef huweliksmaats dat die waarde wat hulle in hulleself het en die waarde van hoe hulle dinge sien en ervaar, bydra tot ‘n prentjie waar albei van hulle gemaklik is en voel dat hulle waarde toevoeg. So ‘n plek is vir ‘n huwelikspaartjie baie veilig en besonders gemaklik. In sulke omstandighede kan ‘n paartjie net groei.
Ons wil graag afsluit met die volgende twee aanhalings:
“The biggest communication problem is that we do not listen to understand, we listen to reply.” Unknown “Communication must be HOT: That’s Honest, Open and Two-way.” Dan Oswald
Artikel deur Kobus en Linda Pauw van Connection Impact