’n Gesonde sekslewe vereis ’n bietjie minder sugar en meer spice and all things nice. Maar kan dit wat jy eet (hetsy reg of verkeerd) werklik jou va va voom in die slaapkamer beïnvloed? Beslis!
Ons weet almal dat indien jy verkeerd eet, jou perdebylyfie so rond gaan word soos dié van ’n heuningby. Dit is egter waar baie mense se kennis stop.
Jou algemene gesondheid en jou seksuele funksionering is in ’n huwelik net soos jou fisiese, emosionele en geestelike gesondheid. Wanneer een party in die huwelik ongelukkig is, maak dit die ander ook ongelukkig. Dieselfde gebeur dus met jou voedselinname. Indien jy ongebalanseerd eet of jou vergryp aan gemorskos, kan dit dinge soos jou hormoon-, insulien- en energievlakke beïnvloed. Boonop kan dit aanleiding gee tot toestande soos diabetes, hoë bloeddruk, swak bloedvloei, depressie, hartsiektes en skildklierprobleme.
Om met jou liefie tussen die lakens te stoei terwyl jy eintlik in ’n geveg met enige van dié toestande betrokke is, is ’n baie moeilike taak. Om die waarheid te sê, sommige kundiges beweer dat die meeste seksuele probleme verbeter of selfs opgelos kan word indien ons bloot reg eet en gereeld oefening doen.
Die oplossing vir baie seksuele en ander gesondheidsprobleme lê nie in die gebruik van medisyne nie, want dit behandel dikwels net die simptome en nie siekte self nie. Wat jy moet doen, is om terug te gaan na die wortels van die kwaad – jou slegte eetgewoontes.
Hoe weet ek of ek reg eet of nie?
Het jy geweet? Vetsug verlaag jou libido en seksuele prestasie in die slaapkamer. Dus sal die handhawing van ’n gesonde gewig jou nie net aantrekliker laat voel nie, maar ook seksuele voordele inhou. Hoe doen ek dit?
Let op na wat jy eet
Begin deur te kyk na die voedsel wat jy koop. Moenie net produkte in jou kruideniersmandjie gooi nie – lees die etikette sorgvuldig en let op na die voedingstowwe wat teenwoordig (en afwesig) is. Vergelyk al die beskikbare produkte in daardie reeks. Onthou, haastigheid is nie ’n verskoning vir slegte koskeuses nie! Vermy produkte met ’n hoë energiewaarde en wat ryk is aan suiker en versadigde vette. Produkte wat minerale, vitamiene en vesel bevat, is altyd ’n beter keuse.
Werk uit wat jy benodig
Kalorieë
Daar is calorie calculators beskikbaar op die Internet wat jy kan gebruik om uit te werk hoeveel kalorieë jy per dag benodig. Die algemene standaard vir vrouens is sowat 1 940 kalorieë per dag en vir mans 2 550 kalorieë. Besoek gerus mayoclinic.org en sleutel die woorde calorie calculator in die soekresultate in. Dit sal jou neem na ’n bladsy waar jy jou unieke kaloriebehoeftes kan bepaal na gelang van jou geslag, ouderdom, gewig, lengte en vlak van aktiwiteit.
Vitamiene en minerale
Daar is verskeie vitamiene en minerale wat jou seksuele gesondheid kan beïnvloed. Vir die oudersdomsgroep van 19 tot 50 word die volgende hoeveelhede daarvan aanbeveel:
- Kalsium: 1 000mg vir beide vrouens en mans.
- Yster: 18mg vir vrouens en 8mg vir mans.
- Natrium: 1 500mg vir beide vrouens en mans.
- Vitamien A: 2,310 IU vir vrouens en 3 000 IU vir mans.
- Vitamien B3: 14mg vir vrouens en 16mg vir mans.
- Vitamien B6: 1,3mg vir beide vrouens en mans.
- Vitamien C: 75mg vir vrouens en 90mg vir mans.
- Vitamien D: 15 mikrogram vir beide vrouens en mans.
- Vitamien E: 22,4 IU vir beide vrouens en mans.
- Sink: 8mg vir vrouens en 11mg vir mans.
Kry professionele hulp
Ons liggame verskil en dit kan gebeur dat jy al die voedingstowwe inneem wat jy moet, maar dat jou liggaam dit nie optimaal verwerk nie. Of dalk kort jy meer van ’n spesifieke voedingstof as die gemiddelde persoon. Gesels gerus met jou mediese dokter en besoek ’n dieetkundige. Hulle sal jou kan help om jou unieke voedingsbehoeftes te identifiseer en ’n eetplan op te stel wat vir jóú sal werk.
Die verwantskap tussen voedsel en seks
Is jy gereed om jou pad na ’n gesonder sekslewe te eet? Só kan jy jou njam in die kombuis en in die kooi kry.
Verhoog jou sirkulasie
Omega 3 vetsure help met die funksionering van jou senuweestelsel, neurologiese funksies en bloedsirkulasie. Sorg dat jy en manlief altyd gereed is vir aksie met kanola-olie, tuna, salm, pekanneute en amandels. Voedsel ryk in L-arginine is ook doeltreffend vir die verhoging van sirkulasie. Probeer gerus hawermout, suiwel, knoffel, ginseng, kekerertjies, uie, volgraan, eiers, boontjies en sade.
Soete liefde
Pynappels maak dat jou, sowel as manlief, se love juices soeter smaak.
Kry meer opwekking
Dalk is dit hoekom appels die verbode vrugte genoem word? Appels bevat polifenole en anti-oksidante, wat bloedvloei na die geslagsdele stimuleer, en help ook met die produksie van smeermiddel.
Libido-ontploffing
Sink: Lae vlakke van sink word gekoppel aan ’n swak libido by vrouens en ’n lae spermtelling by mans. Gebruik dus sink om jou libido die hoogte in te laat skiet! Jy kan dit kry uit skulpvis (veral oesters), volgraanbrood, bruinrys, donkergroen blaargroentes, maer rooivleis en kalkoen.
Sojaprodukte: Onverwerkte vorms van soja (soos sojabone) kan seksuele aktiwiteit verhoog, sowel as help om borskanker te voorkom.
Hou jou hormone in balans
Jy weet maar alte goed hoe dit voel as jou hormone holderstebolder is: Jy is kort van draad, huilerig, moeg en bowenal, glad nie lus vir seks nie! Een van die dinge wat jou hormone mislik kan maak, is die inname van te veel slegte vette en te min goeie vette. Hoe werk dit?
Versadigde en transvette (trans-vetsure) is minder gesonde vorms van vette. Hulle kan jou risiko van hartsiektes verhoog deur jou slegte cholesterol te vermeerder. Te veel versadigde vet kan met verloop van tyd jou are verstop en die bloedvloei na jou geslagsdele belemmer. Dus kan dit seksuele prestasie sowel as plesier verminder.
Poli-onversadigde vetsure en mono-onversadigde vette is gesond vir jou en jou hart. Jy het dit ook nodig om te help met die produksie van die hormone testosteroon en estrogeen, wat ’n direkte invloed op jou seksdrang het.
Gesonde reproduksie
Probeer julle vir ’n pienkvoet? Maak hierdie vier stowwe ’n belangrike deel van julle dieet:
Foliensuur: Dit verbeter spermgehalte en verminder die risiko van geboortedefekte. Bronne sluit broccoli, spinasie, spruitkool, ertjies en aspersies in.
Vitamien C: Dit kan vrugbaarheid bevorder, veral by mans. Vitamien C verhoog spermgehalte, maar kan ook help om jou bui te verbeter en jou seksuele selfvertroue verhoog. Sitrusvrugte is goeie bronne hiervan.
Beta-karoteen: Hierdie voedingstof word veral uit groente soos wortels verkry. Dit help om die swemvermoë van manlief se spermselle te verhoog.
Mangaan: ’n Tekort aan mangaan kan veroorsaak dat ’n vrou minder vrugbaar is. Plaas dus gerus die volgende produkte op jou inkopielys: spinasie, rosyne, pynappels, bone en neute.
Deur gesond te eet en na jou liggaam om te sien, verbeter jy nie net jou algemene gesondheid en lewensverwagting nie, maar bevorder jy ook jou sekslewe. Dit is mos nou al die pad ’n wen-wen situasie. Maak gesonde eetgewoontes die een voorneme vir 2015 wat jy nie gaan breek nie. Komaan, jy kan dit doen!
Bronne: naturalnews.com, webmd.com, holisticwisdom.com.