Dit is ‘n baie lekker pret-element van elke suksesvolle huwelik. Maar ook ‘n noodsaaklikheid, want seks het ‘n wonderkrag wat die kweek van intimiteit behels…
As jy en jou maat Hollywood-fliek karakters was, was dinge heel ongekompliseerd. Julle sou moontlik tientalle bedmaats gehad het voor julle mekaar ontmoet het en eksklusiwiteit sou nie só belangrik wees nie. Met elke seksuele ervaring, sou seks goedkoper en minder belangrik raak, tot dit later verminder is tot ‘n blote fisieke tydverdryf met geen emosionele bande hoegenaamd ter sprake nie.
Maar as lesers van INTIEM glo julle waarskynlik aan die Christelike definisie van ‘n huwelik en erken julle seks as ‘n gawe van God. Wat dinge nogal kompliseer. Want sien, seks ís nie net fisiek nie. Dit is veel meer as net ‘n lyflike joyride…. Seks het fisieke, intellektuele, emosionele en sosiale voordele en hoewel dit beslis vervullend en bevredigend vir elke party kan wees, kan dit ook ‘n huweliksverhouding versterk en die band tussen twee partye hegter maak.
Het jy geweet dat seksuele bevrediging verband hou met algemene lewensgehalte? Hoe meer seks jy het, hoe beter voel jy oor jou gesondheid en jouself. Dit behou die vonk en onderhou begeerte tussendeur die harwar van die daaglikse realiteit waarmee ons te doen kry. Dit is daardie een element wat jy en jou maat se verhouding uniek maak.
Ja, daar is waarskynlik baie mense vir wie jy innig lief is, maar net een met wie jy daardie super spesiale intieme band het.
Vir mans en vroue is die effek van seks effe verskillend, hoewel dit eindelik op dieselfde neerkom. As daar intimiteit tussen ‘n man en ‘n vrou in ‘n huwelik heers, is die kanse baie goed dat daar geluk tussen hulle heers, want intimiteit in ‘n huwelik skakel baie probleme uit. Baie mans meen dit is ‘n barometer vir die huwelik. As daar nie seks is nie, is daar nie liefde nie, meen die Adams. Die bekende skrywer, John Gray (Outeur van Men are form Mars, Women are from Venus) sê: “Oor die algemeen, as ‘n man se emosionele en passievolle behoefte aan liefde nie vervul word nie, word hy geboei deur seks, terwyl ‘n vrou geneig is om deur romanse vasgevang te word.”
Ongelukkig vind baie seksuele aktiwiteite plaas met min of geen intimiteit nie. As daar nie intimiteit is nie, sal ‘n vrou ‘n groot leemte in haar hart ervaar, maar as dit teenwoordig is, sal sy maklik liefdevol teenoor haar maat voel.
Daar heers ‘n vreemde verband tussen seks en intimiteit. Soms vermy ons seks, omdat ons intimiteit begeer. Of ons begeer seks omdat ons intimiteit vrees. Paartjies dink dikwels dat om nuwe tegnieke te beproef en seksspeelgoed aan te skaf, hulle sekslewe kan verbeter maar, meen Zoë Kors op www.elephantjournal.com, om te fokus op die fisieke elemente van seks kán ‘n paartjie verder weg vanaf ware intimiteit dryf.
Hoe bring jy intimiteit in jou sekslewe? Volgens Zoë kan jy die volgende beproef:
1. Moenie praat nie
‘n Mens is geneig om te dink aan intimiteit as die deel van geheimhouding en dit ís intiem om jou diepste gedagtes en begeertes te deel. Maar mens is geneig om agter jou woorde weg te kruip en gesprekvoering te gebruik as ‘n manier om weerloosheid te vermy. Ons vertel mense wie ons is, in plaas daarvan om hulle te wys, meen sy. Ware intimiteit met ‘n minnaar gebeur in die stil oomblikke tussen woorde. Probeer dus om tyd te maak vir stilte in die slaapkamer, sonder om ‘n woord te sê.
2. Moenie fokus op die eindbestemming nie
Maak tyd om orgasme-vrye seks te hê, want, deur te fokus op die eindbestemming, mis ‘n mens dikwels die mooi oomblikke langs die pad. Besluit dus een dag om orgasme heeltemal van die tafel af te skuif. So gee julle mekaar die geleentheid om teenwoordig te wees en elke oomblik te waardeer vir die konneksie wat dit bring, sonder dat jou aandag enigsins afgetrek word.
3. Neem julle tyd
‘n Quickie is nie jou antwoord tot intimiteit nie. Ja, dit is pret en soms is dit al waarvoor julle tyd het, maar maak ook tyd vir lang, uitgerekte seks waarin julle net werklik op mekaar fokus. Dit is moeilik want ons leef in ‘n gejaagde samelewing waar seks net een van die tientalle dinge is wat jy moet afhandel in ‘n beskikbare ure… maar neem af en toe tyd om regtigwaar net verlore te raak in die oomblik en daardie oomblik in ure te laat insmelt.
4. Trek mekaar se klere uit
Raak van mekaar se klere ontslae, soos wat jy ‘n spesiale geskenk sou oopmaak. Dit is tog wat julle liggame vir mekaar is, so dink aan ‘n present wat met ontsag en spesiale papier en lint vir jou toegedraai is. Maak beurte om mekaar se klere item vir item uit te trek en soen mekaar se lywe tussendeur. Doen dit só dat julle gemaklik is hiermee deur die ligte te verdof of ‘n flikkerende kerslig in die vertrek te hê. Wys só aan jou maat dankbaarheid vir hierdie mooi lyf wat jy die voorreg het om te kan geniet.
5. Kyk in jou maat se oë
Gewoonlik hou ‘n mens jou oë toe gedurende seks want voortdurende oogkontak wys weerloosheid. Daarom, om jul oë juis te gebruik as deel van intieme spel, is kragtig! Kyk mekaar in die oë gedurende seks. Probeer om nie oogkontak te verbreek nie, selfs wanneer dit natuurlik voel om dit te wil doen…
Wanneer seks op die regte manier ingespan word, kan dit jul intieme band versterk, maar dis nie ‘n gegewe nie. Doen moeite daarmee om op ‘n emosionele vlak te konnekteer terwyl julle seks het en jou huwelik sal gedy.
Addisionele bronne: www.finehomesandliving.com; www.healthyplace.com; www.elephantjournal.com