Broodjie in die oond? Jy hoef nie die bakkery se deure te sluit nie. Hou hierdie 20 dinge in gedagte vir veilige en genotvolle seks tydens swangerskap.

Promosie
  1. Die eerste drie maande van swangerskap is nie altyd prettig nie. Jy is moeg, naar en jou hormone speel yo-yo. Seks is die laaste ding op jou brein. Gee jou liggaam kans om die veranderinge te verwerk vóór jy en manlief weer die bedvere laat kraak.
  2. Mans vind hul vrouens se nuwe rondings onweer­staanbaar, so moenie verbaas wees as manlief sukkel om sy hande van jou af te hou nie.
  3. Jou borste is nou baie sensitiewer. Vir sommige vrouens is dit ’n huge turn-on, maar ander voel dit is meer seer as lekker. Waarsku jou maat om sagkens met die twins te werk.
  4. Die bloedvloei na jou vagina is meer en jy mag vind dat dit makliker is om orgasmes te kry. Vaginale droogheid mag egter ook voorkom, so hou maar ’n smeermiddel met ’n waterbasis byderhand.
  5. ’n Bietjie bloeding na seks is normaal – dit is as gevolg van die beskadiging van onskadelike uitgroeisels wat soms tydens swangerskap in die vaginale kanaal voorkom. Indien jy egter hewig bloei en pyn en kontraksies vir langer as 30 minute ondervind, bel dadelik jou dokter.
  6. Seksueel oordraagbare siektes of infeksies kan skadelik wees vir jou baba en selfs premature labour veroorsaak. Indien jy vermoed dat jy of jou maat só iets onder lede het, kry onmiddellik mediese behandeling.
  7. Op 28 weke skop die melkproduserende hormoon prolaktien in. Dis goeie nuus vir jou baba, maar slegte nuus vir jou seksdrang, want prolaktien verlaag jou libido.
  8. Jy mag dalk anders “smaak” tydens orale seks. Dit is die swangerskaphormone se skuld. Die kanse is goed dat manlief dit nie eers gaan agterkom nie. Maar sou hy dit onaangenaam vind, laat hy ’n peperment-lekkertjie eet voor die tyd.
  9. Jou maat moet glad nie in jou vagina blaas nie – dit is nie goed vir jou of die baba nie. Orale seks is andersins veilig.
  10. In die laaste weke van swangerskap mag seksuele stimulasie jou borste laat lek. Dit is natuurlik en geen rede tot kommer nie.
  11. Manlief se seksdrang kan skielik verlaag. Dit is nie omdat hy jou nie aantreklik vind nie, maar gewoonlik uit kommer of vrees vir jou en die baba se gesond­heid. Besoek julle huisdokter of ginekoloog om julle albei se vrese van die begin af aan te spreek.
  12. Ná ’n orgasme mag jy vind dat jou baba óf doodstil lê óf bonkers gaan in jou maag. Dit is as gevolg van die onskadelike sametrekkings van jou uterus. Sommige babas vind dit sussend terwyl dit ander stimuleer.
  13. Die sendeling-posisie raak moeilik sodra jou baby bump nie meer so klein is nie. Probeer seksposisies wat toelaat dat jy bo is of wat bloot manlief se gewig weg van jou uterus af hou.
  14. Jou seksdrang gaan wissel. Een aand gaan jy soos ’n vyf-keer-na-mekaar seksgodin voel en ’n ander aand gaan jy jou ouma-pajamas uit die kas haal en hoop manlief sien jou nie raak nie.
  15. Indien jy voorheen ’n miskraam of plasenta-verwante probleme ondervind het, vind eers uit by jou dokter of dit veilig is om seks te hê tydens swangerskap.
  16. Seksspeelgoed mag steeds gebruik word, mits dit skoon is en nie ongemaklik voel nie.
  17. Nou is die tyd om nuwe vuur in julle sekslewe te blaas. Laat manlief toe om jou nuwe rondings te verken deur jou hele lyf te was in die stort of blind­doek hom tydens voorspel.
  18. Dit is moontlik om seks te hê tot jou water breek – mits dit ’n laerisiko-swangerskap is.
  19. Jy word egter aanbeveel om dit rustig te vat tydens die finale weke van swangerskap aangesien sperm­selle kontraksies kan stimuleer.
  20. Benader julle seksuele situasie met humor. Maak eerder grappies oor jou maag wat in die pad is as om knorrig of verleë oor jou voorkoms te voel. Jou swangerskap is net tydelik – maak die beste van hierdie unieke geleentheid.

 

Deur Thalia Brüssow
Addisionele bronne: askamum.co.uk, webmd.com

Promosie