“Dis chaos in ons huis vandat ons tweeling gebore is. Ek dink enige ma van ’n drie-maande-oue tweeling voel só, maar dit is asof ek net nie kop bo water kan hou nie. Geld is nie ’n probleem in ons huishouding nie, maar orde is wel.”

Promosie

Troos jou hieraan: Die meeste ma’s van jong babas voel oorweldig en buite beheer. Die belangrikste wat jy nou moet onthou, is om jou gesin jou topprioriteit te maak. As jy te veel dinge wil doen, gaan jou lewe gekompliseerd voel.

  • Moenie die mag van roetine onderskat nie. Dit sal jou en jou kinders se behoud wees. Hou by vaste slaaptyd-roetines en speeltyd-roetines.
  • As jy ’n uitstappie beplan, kry alles die vorige aand gereed. Melkbottels, babapap (sodra hulle vaste kos begin eet), ekstra stelle klere en doeke in die doeksak, speelgoed en wipes. ’n Ekstra stel klere vir jou (ja, ongelukke gebeur!).
  • Hou by julle date nights. As geld nie ’n probleem is nie, behoort julle ’n goeie baba-oppasser te kan bekostig. Dit is só belangrik vir jou en manlief om in voeling te bly met mekaar gedurende hierdie tyd van beproewing.Orde en struktuur in die huwelik is nodig sodat julle steeds tot ’n mate in beheer voel. Chaos veroorsaak stres en só raak die molshope gou berge in ’n huwelik!

Belê in die volgende items/apps:

  • ’n Speelgoedkis/krat/houer: Ons glo ons is in die kol as ons sê dat baba-speelgoed jou hele huis vol lê. Om te voel jy moet heeltyd speelgoed optel en wegbêre, is ’n onrealistiese doelwit. As julle ’n dubbelverdiepinghuis het, hou een krat onder, in die televisiekamer, en een bo sodat jy alles net in die houer kan gooi wanneer dinge té deurmekaar raak.
  • Koop ’n voedselverwerker. Binnekort sal julle moet begin om kos fyn te maak vir die babas. ’n Voedselverwerker maak hiervan kinderspeletjies. Kry sommer nou al babakos-houertjies met deksels waarin jy vooraf-verwerkte kos kan vries.
  • Kry ’n slow cooker. As die ma van twee babas het jy allermins tyd om kos te maak. ’n Slow cooker is jou antwoord! Voeg groente (wat jy met jou voedselverwerker opgekap het) by vleis, olyfolie en aftreksel in jou pot en laat dit heeldag kook vir ’n maklike aandete. Maak dit in grootmaat en vries vir nog ’n paar klaar-gaar etes.
  • Installeer Dropbox op jou rekenaar/slimfoon. As jy ’n rekening skep, kry jy ’n virtuele Dropbox waarin jy enigiets tot en met 2GB kan berg. Jy kan spesifieke Dropbox-lêers maak om met ander Dropbox-gebruikers te deel, andersins kan jy ’n lêer deel deur vir iemand ’n skakel te stuur. Dit is ’n eenvoudige en maklike manier om foto’s met die oupas en oumas te deel.
  • As ’n jong ma met ’n magdom dinge op die brein, sukkel jy waarskynlik om sekere inligting te onthou. Installeer Evernote waarop jy musiek, foto’s en teks kan berg vir latere gebruik. En as jy sukkel om al jou wagwoorde te onthou, kan jy LastPass op jou slimfoon installeer. Dit is ’n stoorspasie wat al jou wagwoorde op een plek bewaar sodat jy slegs een hoef te onthou.

 

Promosie

Deur Annelize Steyn