Uiteet bly een van die gewildste tipes romantiese afsprake vir paartjies. En min dinge kan ’n saamkook-afspraak klop. Jou man met nét ’n voorskoot en besmeer met gesmelte sjokolade? Onweerstaanbaar! Maar eet verkeerd en die afspraak kan lelik skeefloop . . .
“Sharing food with another human being is an indulgent act that should not be indulged in lightly,” sê MFK Fisher. En ja, daar is ’n reuse-verskil tussen ’n Dinsdagmiddag se visvingers en skyfies en fynkos op ’n Vrydagaand onder kerslig. Daar is net so ’n groot verskil tussen ’n Woensdagoggend-kaaskoek saam met ’n vriendin en ’n Saterdagaand se sjokolade-gedoopte aarbeie . . .
Kos is sensueel en romanties. Dit kan fantastiese voorspel wees, maar ook uitmuntende naspel! Veral wanneer julle mekaar met die vingers voer.
Daar is egter reëls en net so fantasties soos wat vyfster-cuisine of ’n warm-uit-die-oond Portugese rolletjie kan smaak, so skeef kan dinge loop wanneer jou gestel nie wil saamwerk nie. Hiervan kan menige paartjies getuig wat straatkos op hul wittebrood getrotseer het en sleg tweede gekom het! Om ’n eet-ervaring romanties te maak (en te hou), maak seker julle hou by die volgende reëls:
Vir ’n aptytwekkertjie . . .
Ná ’n harde weeksdag en vóór ’n romantiese afspraak met manlief is ’n blokkie donker sjokolade (wat minstens 70% kakao bevat) dalk al wat jy nodig het. Volgens ’n studie in die joernaal Nutrients verhoog sjokolade die serotonienvlakke (die brein se goedvoel-hormoon) en verminder dit stresvlakke onmiddellik. Nie dat jy in dié stadium meer angstig hoef te voel voor ’n romantiese afspraak met jou lewensmaat nie, maar dit kan jou wel meer op jou gemak plaas.
As jy moeg is, kan klapperwater jou hidreer (dit bevat elektroliete) en pampoensaad kan jou ’n vinnige hupstoot gee – dit bevat bykans die helfte van die magnesium wat jy daagliks moet inneem. Besprinkel sommer jou sade met ’n halwe teelepel kaneel – navorsing bewys dat dit jou bloedsuikervlakke én gevolglik jou luim kan reguleer. Dus sal jy nie manlief se kop afbyt omdat hy die verkeerde wyn bestel het (maar eintlik omdat jou kollega al weer haar vuil koffiebeker op jou tafel gelos het) nie.
’n Koppie groentee gee jou ook energie (dit bevat kafeïen, wat jou wakker kan laat voel) én dit hou jou asem vars vir twee ure – dis selfs doeltreffender as tandepasta en kougom!
Die moets en moenies van ’n ete-afspraak
Volgens Alex Schiller (alter-ego van Roslyn Hart, ’n self-erkende seks-evangelis), aktrise en skrywer, kan jy die druk van aandete afhaal en enige kos-gevolge vermy deur seks nie te los tot ná ete nie, maar vóóraf in die kooi te spring! “Dit laat die kos beter smaak,” beweer sy.
Sou julle wel besluit om te gaan eet en mekaar vir nagereg te geniet, vermy die kombinasie van bier en parmesan-kaas, wat selfs ’n knoffelasem lekker laat ruik, sê sy. Moet ook nie te veel drink of eet nie sodat jy later rats tussen die lakens kan presteer! Wat jy wel moet oorweeg, is om enige rou kossoorte te bestel – of dit nou oesters of sushi is. Dis sexy kos, beweer sy.
Nie almal stem egter met haar saam nie. Lisa Hayim, ’n geregistreerde dieetkundige en stigter van “The Well Necessities”, sê op Eat this, not That dat rou vleis of vis jou vatbaar maak vir maagongesteldhede.
Wat wel as ’n baie sexy kossoort beskou word, is vye! Dink byvoorbeeld aan ’n gebakte vye-nagereg met heuning en room (dis ook maklik om self by die huis aanmekaar te slaan). Vye word beskou as ’n seksopkikker en ’n erotiese kossoort. Boonop bevat dit verskeie bestanddele soos vitamiene E en sink, wat noodsaaklik is vir seksuele gesondheid.
Wanneer julle besluit om saam te kook
Hoe gemaak as jy beplan om self saam met jou maat kos te maak? Kenners beweer om saam te kook, is ’n wonderlike vorm van kommunikasie. Dit is ’n leerproses en bring ’n paartjie nader aan mekaar.
Op sheknows.com sê die paartjie Lindsey en Peter DiGiovanni dat die kombuis een van hul gunsteling plekke is. “My man en ek bestee letterlik ure van ons dag daarbinne. Kook het op ’n manier sy eie soort intimiteit vir ons geword. Ons het geleer om mekaar se instinkte te vertrou, om spontaan te wees en om kreatiwiteit te waardeer,” vertel hulle. Vir hulle is dit soos ’n stokperdjie wat “baie werk, skoonmaak en toewyding” verg. Julle hoef nie kranige kokke te wees om saam te kook nie.
Kook iets eenvoudig, maar gebruik die beste bestanddele wat jy kan bekostig en bedien dit so mooi soos jy kan – alles onder dowwe, atmosferiese lig of kerslig. Julle kan steak en slaai of ’n pasta met eenvoudige tamatiesous beproef.
Kommunikeer, flankeer en gebruik jou lyf, jou hande en jou mond om met jou maat te “gesels”. Dis baie sensueel om vrugte met jou hande uit te druk, sodat die sap deur jou vingers vloei, of om deeg (brooddeeg of pastadeeg – jammer banters!) te knie.
Ja, kos is sensueel en om dit met jou maat te deel, is ’n intieme ervaring. Dit voed nie net die liggaam nie, maar ook die siel en dit bring wonderlike herinneringe terug – soos byvoorbeeld die keer toe julle litchi’s geëet het onder die wilgerboom of ’n crème brûlée op hul tweede afspraak gedeel het. Moenie huiwer nie – trek die potte nader en laat die liefde prut . . .
Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.shape.com, foodrepublic.com, magazine.foxnews.com.