Jy en manlief droom al lank van ’n lekker vakansie op ’n tropiese eiland of ’n ekspedisie in die Amasone . Dink net wat kan die warm , klam klimaat en al daardie bedwelmende geure en kleure aan ’n verliefde paartjie met min klere doen! Wel, as julle nie Trope toe kan gaan nie, bring die Trope na jul agtertuin.
Wat is so sexy aan ’n eilandvakansie? Miskien is dit die bruingebrande lywe in klein baaikostuums en die vroegaand-vibe wat so sexy kan wees. Dalk is dit die eksotiese kos, mooi mengeldrankies en die idee aan seks op die strand. Hoe dit ook al sy, ’n eilandvakansie is hoog op die lysie as dit kom by wittebrood-bestemmings. Maar as julle INTIEM-lesers is, is julle wittebrood waarskynlik in die verlede . . . wat beteken dat julle maar met die naasbeste tevrede moet wees – ’n Tropiese date by die huis.
TER VOORBEREIDING
Dis eenvoudig vrolik en veelkleurig! Niks hoef te pas nie vir alles om te pas! Neem jou helderste tafeldoek of piekniekkombers en span dit langs die swembad in (as julle net ’n visdam het, dan maak julle die beste daarvan!). Maak ’n groot bottel water met gesnyde vrugte daarin. Vries druiwekorrels of granaatpitte in ysblokkies om jul drankies mee te versier. Sny vrugte en pak dit in die middel van jul “tafel”. En as julle julle nou regtig wil verbeel julle is op die beach, span die kinders se sandput in! Dink aan hierdie afspraak as ’n bietjie kitch en tong-in-die-kies. Die fokus is op pret en die drag is swemklere. Hier is nie ’n reg of verkeerd nie en everything goes!
SPYSKAART
Voorgereg
Gebakte klapper-garnale met ’n tropiese doopsous en druiwe-mojito.
Hoofgereg
Gebraaide eilandhoender met jou eie teriyaki-sous.
Nagereg
Seks op die strand!
MUSIEK-VOORSTELLE
*Surf Song – Bag of Toys
*Copacabana – Barry Manilow
*Good Vibrations – Beach Boys
*Is this Love – Bob Marley
VOG-VOORSTELLE
Sjef Antoinette sê: My aanbeveling vir wyn is Wildekrans se Sauvignon Blanc 2015 of hulle Chenin Barrel Select Reserve 2014. So nie, gebruik die druiwe-mojito (sien resep).
RESEPTE
Druiwe-mojito
Maak een.
Vir die mentstroop:
250ml water
250ml suiker
10-20 vars mentblare
Vir die mojito:
6-8 mentblare, asook ekstra vir garnering
75g rooi druiwekorrels
½ lemmetjie, in 4 wiggies gesny
60ml mentstroop
60ml wit rum
60ml sodawater
Metode:
- Vir die stroop, plaas al die bestanddele in ’n klein potjie en verhit oor ’n matige hitte tot dit net begin borrel. Plaas die hitte op sy laagste verstelling en prut vir ’n verdere 2 minute. Verwyder die stroop van die hitte en laat dit só om af te koel.
- Gooi die mentblare, druiwe en drie van die lemmetjie-wiggies onder in die glas, asook 30ml van die mentstroop. Druk die mengsel met jou muddler of die steel van die houtlepel.
- Voeg fyn ys in jou glas en roer die res van die mentstroop en rum daarin. Vul tot bo met sodawater en rond af met ’n lemmetjie-wiggie en ’n mentblaar of twee.
VOORGEREG
Gebakte klapper-garnale met ’n tropiese doopsous
500-800g garnale, skoongemaak (dop en dermpie verwyder)
1 eier
60ml water
125ml koekmeelblom
Sout en varsgemaalde swartpeper
375ml droë klapper
250ml Panko-broodkrummels
Vir die sous:
150g vanielje-gegeurde jogurt
60ml fyn pynappelstukkies
30ml droë klapper
’n Knippie sout
Metode:
- Voorverhit die oond tot 180°C. Plaas ’n afkoelrak in ’n bakplaat en bespuit liggies met kleefwerende kossproei.
- In ’n klein mengbakkie, klop die eier en water saam en gooi uit in ’n plat bord. Plaas die meel in ’n plat bord, geur goed met sout en peper en meng.
- Meng die Panko-broodkrummels met klapper en plaas ook in ’n plat bord.
- Klad die garnale effens droog met kombuispapier en plaas in die bord met die gegeurde meel. Skud die ekstra meel af van die garnale.
- Plaas nou in die bord met die eiermengsel en dan in die bord met die broodkrummels en klapper. Maak seker die broodkrummels en klapper bedek die garnale goed.
- Pak die garnale op die afkoelrak bo-op die bakplaat.
- Bak tot goudbruin vir ongeveer 20 minute.
- Terwyl die garnale bak, kan julle gou die sousie aanmekaar slaan deur die jogurt, fyn pynappel, klapper en sout saam te meng.
- Bedien warm met jou vinnige doopsousie en onthou tog om mekaar te voer . . .
HOOFGEREG
Gebraaide eiland-hoender met jul eie teriyaki-sous
4 hoenderborsies, ontbeen
1 murgpampoentjie, in die lengte in kwarte gesny
4 klein of 2 groot rooi en geel soetrissies, heel
10 suikerertjies (mange tout)
1 klein pynappel, in die lengte in skywe gesny
1 klein rooi ui, in dun skywe gesny
125ml Macadamia-neute effens gekap (opsioneel)
Vir die rys:
500ml water
375ml klappermelk
10ml bruinsuiker
5ml sout
500ml jasmyn-rys
Vir die teriyaki-sous:
(Jy kan hierdie sous klaargemaak koop by die meeste supermarkte, maar dit is soveel lekkerder tuisgemaak.)
125ml sojasous
30ml rysasyn
15ml sesame-olie
75ml bruinsuiker
15ml heuning
2,5ml gemaalde gemmer
1 knoffelhuisie, gemaal
10ml mielieblom, gemeng met 10ml koue water
1,25ml brandrissie, gekap (kan ook gedroog gebruik word)
Metode:
- Maak die klapperrys deur die water, klappermelk, suiker en sout in ’n groot pot met die deksel op tot kookpunt te bring. Sodra die water kook, roer die rys in en bring weer tot kookpunt – steeds met die deksel op. Sodra die rys kook, verlaag die hitte onmiddellik na die laagste verstelling en prut vir 20 minute. Verwyder van die hitte en los in die pot met die deksel op om te stoom vir ’n verdere 10 minute, voor jy die rys met ’n vurk vlok.
- Terwyl die rys kook, maak gou die teriyaki-sous. Gooi al die bestanddele in ’n klein potjie en plaas oor ’n matige hitte. Bring tot kookpunt, maar roer ook af en toe. Laat die sous vir ’n minuut kook. Verwyder van die hitte.
- Gooi ’n kwart van die teriyaki-sous oor die hoender en los om te marineer vir minstens 15 minute.
- Jy kan jou braaier of jou stoof gebruik. As jy gaan braai, kry jou braaier gereed vir direkte hitte. ’n Gasbraaier werk baie goed vir hierdie resep. As jy nie die krag of geduld het vir een van bogenoemde nie, moet asseblief nou nie die resep uitlos nie. Gaan grawe jou riffelpan onder uit die kas uit en gebruik sommer jou stoofplaat.
- Gooi ’n klein bietjie olyfolie oor die groente, asook oor die pynappel. Braai die groente aan elke kant vir slegs ’n paar minute en hou eenkant. Braai nou die pynappel vir ten minste 2 minute aan ’n kant en hou ook eenkant. Dit is nou die hoenderborsies se beurt, braai vir ten minste 3-5 minute aan ’n kant of tot perfek gaar maar nie droog nie (dit hang ook maar af van die dikte van die hoenderborsies). Verwyder van die hitte en laat vir so ’n paar minute om te rus voor jy dit in skywe sny.
- Vir bediening, plaas ’n bietjie klapperrys in elkeen se opdieningsbakkie, versprei ’n bietjie van die groente, pynappel en hoender bo-op die rys. Gooi ’n bietjie van die teriyaki-sous oor (nie te veel nie) en besprinkel met die neute.
NAGEREG
Ons het vroeër seks op die strand genoem en nou gaan ons jou vertel hoe om dit te doen! Magies vol, ogies wawyd oop!
Uiteraard bly die kinders by ouma en oupa. Julle kamp uit in die tuin en ons gaan vanuit die veronderstelling dat julle erf omhein is en julle jul tropiese date dus nie ten aanskoue van die hele buurt geniet nie!
En as julle een van daardie oulike strandstoele het waarvan die pote net ’n paar sentimeter van die grond af is, kan dit julle veel meer opsies vir interessante posisies gee (maak net seker die stoel is sterk genoeg vir die aksie!). Die ideale tyd vir hierdie date is laatmiddag – julle kan nog die hitte benut, maar daarna is die skemertyd ook ideaal vir wat julle van plan is om te doen.
In die tuin het julle gelukkig nie die nadeel van sand wat oral kan inkruip nie, maar julle het wel gras en goggas! Daarom is die ideale posisies dié waar julle agterstewe van die grond af gelig is. En die wenposisie hiervoor? Doggy style! As julle nie hiervoor kans sien nie, glip in die swembad, waar staande seks doodmaklik is (dit is eintlik jul enigste opsie, as jy mooi hieroor dink). As dit is wat julle van plan is om te doen, hou die smeermiddel naby, aangesien die water enige natuurlike vog vinnig uitdroog, en julle het nie deur al hierdie moeite gegaan vir ’n quickie nie . . .
Bron: www.afterhours.lifehacker.com.