Is jy moeg om te hoor dis alles net in jou kop? Dat jy net ’n kopskuif moet maak vir jou om seks weer te geniet? Ons kyk na die liggaamlike oorsake van ’n lae libido.

Promosie

As jy eerlik moet wees, lê seks baie laag op jou prioriteitslysie. As jy nooit weer seks hoef te hê nie, sal dit ook okay wees. Ja, jy vind jou man nog baie aantreklik. Nee, jy weet nie wat die rede is nie . . .

Daar is verskeie oorsake vir ’n lae libido. Vroue kan belangstelling in seks verloor na die geboorte van ’n baba, voor of tydens menstruasie, gedurende menopouse, wanneer hulle van ’n siekte of operasie herstel, en weens ingrypende lewensgebeure of trauma. Verhoudingspanning is ’n demper van formaat. Daar is egter heelwat dinge wat met jou lyf kan gebeur wat sal veroorsaak dat jou lus vir seks taan.

As medisyne inmeng

Promosie

Sekere medisyne kan newe-effekte hê wat jou sekslewe kan beïnvloed. Welbekende sekslusdempers sluit in antidepressante, bloeddruk-medikasie, psigotropiese middels, kalmeerpille en opiate. Selfs die geboortebeperkingspil kan jou belangstelling in seks beïnvloed.

Sommige nie-steroïed-, anti-inflammatoriese middels (soos aspirien, parasetamol en ibuprofen) verminder ook vaginale smering, wat tot droogheid kan lei. Anti-histamiene en medisyne vir hoë bloeddruk doen dit ook.

Die Pil en anti-depressante is bo-aan die lys van medikasie wat jou belangstelling in seks kan laat taan. Die Pil veroorsaak dat minder testosteroon in jou liggaam beskikbaar is. En jy het genoeg daarvan nodig om die vuur in jou lyf aan te steek.

Wat kan jy hieraan doen?

  • Vra jou dokter of jou medisyne seksuele newe-effekte kan hê. Bespreek enige veranderinge met hom of haar. Jou medikasie kan dan daarvolgens aangepas word.
  • Daar is ander metodes van geboortebeperking, benewens die Pil, soos die Mirena, vir vroue wie se gesinne voltooi is, of diegene wat nie dadelik ’n baba beplan nie. Dis ’n intra-uteriene apparaat (IUA), wat klein hoeveelhede progesteroon vrystel. Dit het nie ’n uitwerking op jou libido nie.

As siekte jou pla

Wanneer jou lyf seer is en jou neus loop, gaan jy beslis nie baie lus voel vir seksuele aktiwiteit nie. PMS mag ook daartoe lei dat jy tydelik jou belangstelling in seks verloor. Maar ernstiger siektes soos lae skildklierfunksie, diabetes, kanker, hart- en longprobleme en seksueel oordraagbare siektes kan ook jou belangstelling in seks ’n knou gee.

Wat kan jy hieraan doen?

Spreek jou dokter as jy dink jou siektetoestand het ’n impak op jou seksuele funksionering.

Wanneer menopouse intree

Sommige studies toon dat seksuele reaksies met die ouderdom verbeter, maar hormonale wanbalanse by vroue tydens menopouse kan tot ’n verlaagde seksdrang lei. Sommige vroue mag nie meer daarvan hou om aangeraak te word nie en omgang mag pynlik raak as gevolg van vaginale droogheid, wat deur ’n vermindering van estrogeen veroorsaak word.

Wat kan jy hieraan doen?

  • Gebruik ’n goeie gehalte silikoon-gebaseerde smeermiddel soos Pjur, wat jy by erkende seksuoloë kan bekom.
  • Gesels met jou dokter oor die moontlikheid van hormoonvervangingsterapie.

As depressie jou takel

As jy depressief is, gaan seks die laaste ding op jou agenda wees. Ons het almal elke nou en dan ’n slegte dag of twee, maar as die weke maande begin word, gaan jou depressie beslis jou libido beïnvloed.

Prozac, Zoloft en ander antidepressante bekend as SSRI’s (selektiewe serotonien-heropname-inhibeerders) takel depressie deur jou goedvoel-chemikalie, serotonien, ’n hupstoot te gee. Jy voel dan beter, maar soms ten koste van jou libido. En as dit stres in jou verhouding veroorsaak, is jy dalk kort voor lank terug in die depressie-gat.

Wat kan jy hieraan doen?

  • Dit is baie belangrik om die impak van jou depressie-medikasie op jou libido met jou dokter of psigiater te bespreek. Daar is deesdae heelwat nuwe-generasie anti-depressante op die mark wat nie jou libido of die vermoë om ’n orgasme te bereik beïnvloed nie. Brintellix en Exsira is goeie voorbeelde hiervan.
  • Kry ’n sielkundige wat jy vertrou en werk aan onopgeloste trauma of konflik uit jou verlede.
  • Moenie jou medikasie tydelik los omdat jy jou libido vir daardie naweek wil laat kop optel nie. Dis onverstandig om medikasie te onderbreek en gaan in elk geval nie help nie, want die opgehoopte uitwerking van die antidepressante is steeds in jou liggaam.

Die nadeel van chemoterapie

Chemoterapie kan jou in vroeë menopouse sit. Jou libido kan verdwyn en jy gaan erge vaginale droogheid hê.

Wat kan jy hieraan doen?

  • Gebruik ’n goeie silikoon-smeermiddel.
  • Later kan jy die situasie met jou seksuoloog bespreek aangesien sommige vrouens wel na kanker testosteroon-aanvulling kan kry.

Die uitwerking van dwelms en alkohol

Oormatige gebruik van dwelms en/of alkohol mag tot ’n groter aantal seksuele episodes lei, maar op die lange duur kan dit jou seksdrang nadelig beïnvloed. Dit kan ’n probleem wees as ’n toename in jou alkohol- of dwelmgebruik tot ’n afname in jou libido lei.

Wat kan jy hieraan doen?

Dwelms hou geen voordeel vir jou in nie en sal jou mettertyd nie net van jou huwelik nie, maar van al jou verhoudings beroof. As alkohol jou probleem is, beperk jou inname hiervan. En as jy sukkel met verslawing, kry professionele hulp om die probleem te beveg.

Die kwessie van stres

Omdat stres die veg-of-vlug reaksie aktiveer en dus die bloed na jou kop en weg van jou seksorgane stuur, is stres en seks nie die ideale bedmaatjies nie. Boonop stimuleer stres die afskeiding van kortisol, ’n chemiese stof wat die produksie van “sekshormone” onderdruk.

Wat kan jy hieraan doen?

Om stres te probeer vermy, is ’n onbegonne taak. Die beste manier om dit te beveg, is om gereeld en reg te ontspan. Doeltreffende ontspanning is ’n vaardigheid wat aangeleer moet word. Bemeester ’n tegniek soos joga of meditasie, en jy sal weet hoe om reg asem te haal en behoorlik af te skakel. Die meeste soorte oefening help ook om die afskeiding van streshormone te stuit.

Pyn tydens seks

Fisieke pyn tydens seks kan vanselfsprekend tot ’n afname in libido en selfs seksuele aversie lei. Vaginisme, byvoorbeeld, is die onwillekeurige sametrekking van die pelviese vloerspiere, wat seks pynlik en penetrasie dikwels onmoontlik maak.

Wat kan jy hieraan doen?

Vaginisme en enige ander seksuele pyn-disfunksie kan met die korrekte behandeling genees word. Gesels met ’n terapeut oor behandelingsopsies hiervoor.

 

 

Deur Dr Elmari Mulder Craig, ’n Europees-gesertifiseerde seksuoloog en verhoudingskenner.