Wanneer mense hulle 50ste huweliksherdenking vier, besef die meeste sterflinge nie hoeveel harde werk, bloedsweet en trane daarin gegaan het nie. Hoewel sommige paartjies mekaar soos ’n handskoen pas, kom daar steeds ’n tyd in enige huwelik wanneer alles nie klopdisselboom gaan nie.
Hoe nou gemaak? Hoe verwyder ’n mens die wig wat tussen huweliksmaats ingedryf is? Die lewe gaan teen ’n snelle pas voort. ’n Mens moet jou werk, kinders en alledaagse lewe probeer balanseer. Soos met alles in die lewe, verg dit oefening en inspanning. Die antwoord is doodeenvoudig: Doen jou huiswerk. Bestudeer jou lewensmaat en bly in pas met sy/haar ontwikkeling en verandering binne die huwelik.
Keer terug na die begin
Dink terug aan die begin van jou verhouding met jou lewensmaat. Jy het elke brokkie persoonlike inligting soos ’n spons opgeslurp. Julle het soos een gevoel. En nou? Die antwoord is huwelikshuiswerk.
Skerp jou kennis op
Of julle nou ou getroudes of pasgetroudes is, die sinvolle vraelyste en cheat sheets wat op www.thedatingdivas.com beskikbaar is, is ’n móét vir enige huwelik. Druk die cheat sheets uit, vul dit in en ruil dit uit met jou lewensmaat. Dit neem baie min tyd in beslag, en jy sal verbaas wees oor hoeveel kosbare inligting jy op ’n skinkbord kry – van jou gunstelingkosse tot hemp- en broekgroottes word hierop gemeld.
Tydsberekening is die sleutel tot sukses. Kies die regte tyd wanneer dinge rustig en ontspanne is en daar geen heersende konflik bestaan nie. Wees eerlik, hoeveel keer moes jy al jou lewensmaat SMS om uit te vind wat sy/haar broekgrootte of gunsteling-kleur is? Met die cheat sheets tot jou beskikking sal jy nooit weer onvoorbereid wees nie.
Om dinge meer interessant te maak, kan geraai word wat jou eggenoot se antwoord op elke vraag gaan wees en ’n punt vir elke regte antwoord toegeken word. Dit is egter nie ’n kompetisie nie, so moet die eindtotaal nie te persoonlik opneem nie – werk daaraan. Hierdie kan net die regte medisyne wees om die kommunikasiekanale oop te kry.
Gee terugvoer
Dan is daar huiswerkblaaie wat uitgedruk en ingevul moet word. Elkeen sal daarna ’n kans kry om hulle antwoorde te verduidelik. Besige paartjies kan dit net voor slapenstyd aandurf – dit kan nogal interessante slaapkamerpraatjies tot gevolg hê. Hou dit lig en prettig.
Praat haar taal
Goeie kommunikasie is die hoeksteen van enige gesonde huwelik, maar die tweerigtingstraat is besaai met slaggate. Nie-verbale kommunikasie is gewoonlik die streepbal wat die meeste mans se middelpen ontwortel.
Volgens navorsing vorm nie-verbale kommunikasie, lyftaal, liggaamshouding en gesigsuitdrukking 55% van die boodskap wat jy probeer oordra. Stemtoon maak 38% uit en die woorde wat jy uiter net 7%. Maar as jy weet waarvoor om uit te kyk, kan dit kinderspeletjies wees om liggaamstaal te ontsyfer.
Daar kan waarskynlik nog boekdele oor liggaamstaal geskryf word. Die goue reël wat onthou moet word, is dat niks in afsondering of buite konteks beskou moet word nie. Die vermoë om mense te “lees” is nie vir almal beskore nie, maar daar is ’n foutlose oplossing vir diegene wat sukkel om liggaamstaal te ontsyfer. Vra direkte vrae soos “Verstaan ek jou reg?” om die probleem van gemengde seine te voorkom.
Wat egter belangriker as liggaamstaal is, is jou lewensmaat se liefdestaal. Daar is vyf liefdestale: Woorde, dade, geskenke, gehaltetyd en fisieke aanraking. As jy weet watter hartsnaar om te tokkel, gaan jou huwelikspad met minder landmyne besaai wees.
Raak innoverend
Hoewel die cheat sheets en huiswerk-vraelyste op www.thedatingdivas.com deur kundiges saamgestel is om paartjies te help om weer in pas met mekaar te kom, is daar niks mee fout om ’n vraelys te formuleer wat op spesifieke areas van intimiteit konsentreer nie.
Terwyl die hele huiswerkstorie haar belangstelling prikkel, werk ’n vinnige slaapkamer-vraelys in. Sien dit as slaapkamer-prestasie-beoordeling en jou vertrekpunt om ’n minnaar sonder weerga te word. Jou blote belangstelling en inspanning sal regmerkies agter jou naam laat verskyn.
Die kuns van sensuele massering is ’n pyl wat enige man in sy koker behoort te hê. Die kern van ’n goeie sensuele massering is om ’n spesiale atmosfeer te skep. Die tempo van die strelende sensoriese ontdekkingsreis is ook baie belangrik.
Die geestelike konneksie tussen paartjies word soms ook afgeskeep. Bestudeer ook hierdie aspek van jou huweliksmaat en jy sal verbaas wees.
Hier is sewe maniere om geestelik met jou lewensmaat te verbind:
- Bid saam. Verwelkom God in jou huwelik.
- Lees saam.
- Spandeer alleentyd saam in die natuur.
- Deel die groot onbeantwoorde vrae van die lewe met mekaar.
- Gaan saam kerk toe.
- Koester ’n gesin.
- Maak saam ’n geloofsprong.
Dit maak nie saak uit watter hoek ’n mens na die huwelik kyk nie, dit bly harde werk. Die langlewendheid van ’n huwelik word op ’n magdom steunpilare en hoekstene gebou. Goeie kommunikasie, belangstelling en die gewilligheid om te verander en te verbeter, is baie belangrik vir ’n gesonde huwelik. As jy die toets van tyd wil slaag, is huwelikshuiswerk die antwoord tot ewige geluk.
Redakteurs Nota: Kyk ook na Arthur Aron se 36 Vrae – kliek hier
Deur Ettienne van Rensburg