Dis seker een van ons lesers se algemeenste klagtes: Daar is heelwat minder matras-aksie as vroeër en dié scenario werk nie vir een of albei partye nie. ’n Lae libido kan hoë vlakke van spanning in ’n huwelik veroorsaak. Dus moet jy vinnig speel om dit reg te stel.

Promosie

“Ek is net nie meer lús nie,” vertel Ella*. Ja, haar man is steeds vir haar rasend aantreklik, sy geniet seks wanneer dit wel gebeur en sy kry een (of meer) behoorlike orgasmes sonder veel inspanning, maar om sover te kom om seks te hê, is ’n missie en ’n half. Haar man, Eben*, is nie tevrede met die stand van sake nie. Toe hulle pasgetroud was, was hulle immers een van daardie paartjies vir wie twee keer per dag niks buitengewoons was nie. Nou, 15 jaar later, is twee keer per week ’n uitsondering! En as Ella haar sin kon kry, sou dit nie eens twee keer per maand gebeur nie . . .

Kenners beskryf ’n lae libido as ’n onderaktiewe seksdrang, en dit is ’n toestand waaraan beide mans en vroue kan ly. By vroue is dit ’n komplekse samewerking van verskeie komponente (soos hormone, intimiteit, fisieke gesondheid, emosionele gesondheid, ervarings, geloof, leefstyl en so meer). Dis seldsamer onder mans, maar wel teenwoordig. ’n Lae libido onder mans en erektiele disfunksie is nie dieselfde nie. Baie mans met ’n lae libido kan ’n ereksie kry, maar het die begeerte verloor om seks te hê. Hul spontane oggend-ereksies is ook minder algemeen as vantevore.

Fisieke oorsake sluit in, onder meer, mediese toestande soos obesiteit, hartsiekte en testikulêre beserings, medikasie, moegheid, operasies en leefstyl-gewoontes. Hormoonversteurings  kan ook die sondebok wees, veral wanneer menopouse, swangerskap of borsvoeding ter sprake is. Sielkundige oorsake kan onder meer spanning, ’n swak liggaamsbeeld of selfbeeld, ’n geskiedenis van seksuele mishandeling of vorige negatiewe seksuele ervarings insluit. ’n Lae libido kan egter ook deur verhoudingskwessies veroorsaak word. Wanneer emosionele nabyheid kortkom, is dit moeilik vir heelwat vroue om hul seksuele begeerte op dreef te kry. Wanneer daar onopgeloste woede, swak kommunikasie of ’n vertrouensbreuk was, kan ’n lae libido ’n gevolg hiervan wees.

Promosie

Wanneer jou libido nie is waar jy wil hê dit moet wees nie, begin deur ’n afspraak by jou dokter te maak. Dis ’n vertrekpunt sodat enige fisieke oorsake ondersoek en uitgesluit kan word, indien nodig. Jy kan intussen die volgende oorweeg:

  1. Doop vye in sjokolade! Sekere kossoorte word as seksopkikkers beskou. Sjokolade stel sekere hormone in jou liggaam vry, wat jou bui kan lig. Daar word ook geglo dat ginkgo-biloba, ’n ekstrak van die blaar van die Chinese ginkgoboom, jou in ’n positiewe bui vir seks kan kry.
  2. Roep halt met die wyn. Een glas wyn kan jou op jou gemak plaas en jou belangstelling in seks aanhelp, maar té veel wyn kan manlief se ereksie strem en jou vermoë om ’n orgasme te bereik, strem.
  3. Maak seker dat jy gesond eet en leef. Sekere voedingstowwe en aanvullings kan jou beter laat voel en manlief se spermtelling en sy prostaatgesondheid Sommige kossoorte, soos avokado, neute, mangoes, aarbeie, pampoen en perskes, kan jou libido aanmoedig. Om seker te maak jou dieet is gesond genoeg vir optimale seksuele funksionering, eet gebalanseerd, neem ’n vitamien- en mineraal aanvulling, oefen gereeld en hou jou liggaamsvet laag genoeg.
  4. Mediteer teen stres. Spanning kan jou seksdrang beïnvloed. Vroue is veral vatbaar vir die uitwerking hiervan, terwyl mans soms juis seks as ’n teenvoeter vir stres gebruik. As jy in eersgenoemde groep val, gebruik meditasie en/of gebed om van spanning ontslae te raak.
  5. Hou jou verhouding gesond. As julle gedurig argumenteer, sal jy beslis nie in die bui wees vir seks nie. ’n Terkort aan emosionele voorspel is ook nie goed vir die libido nie. Kommunikasie en nabyheid is nodig – nie net vir emosionele intimiteit nie, maar ook vir seksuele intimiteit.
  6. Wees realisties. Jy voel dalk dat jou maat ’n lae libido het omdat hy/sy nie by jou begeerte vir seks (elke dag) kan byhou nie. Gesels oop en eerlik oor jul behoeftes, begeertes en die seisoen waarin julle tans verkeer. Dit gaan dalk druk by die werk, een van julle is baie besig of julle het so pas ’n baba gehad. Soms moet julle net geduldig wag vir ’n moeilike fase om verby te gaan of jul verwagtinge hersien.
  7. Werk aan die atmosfeer. Soms is die atmosfeer net nie reg vir seks nie – soos wanneer jy bang is jou driejarige stap enige tyd by die kamerdeur in, wanneer jy wag vir jou baba om te huil vir die volgende voeding of wanneer jy ongemaklik voel in die helder kamerlig. Maak dus jou kamer so sensueel as moontlik, maak die vensters oop vir vars lug en vervang die gloeilampe met ’n lig met ’n sagte gloed.
  8. Leer jul sekssnellers ken. Wat dóén dit vir jou en jou maat? Miskien hou hy daarvan as jy hoë hakke dra, miskien geniet jy dit as hy iets stouts in jou oor fluiter. Leer mekaar se seksuele behoeftes ken en as jy steeds in die duister is hieroor, kommunikeer reguit.
  9. Maak ’n afspraak by ’n seksterapeut, indien nodig. As seks meer van ’n “taak” is as enigiets anders, oorweeg of die oorsaak sielkundig of verhoudingsverwant is. As dit is, maak ’n afspraak by ’n seksuoloog wat jul scenario sal ontleed en julle sal help om weer stelselmatig op die regte plek te kom wat jul seksualiteit aanbetref.

GESONDHEIDSWENK:

VIR HAAR: Doen jou kegel-oefeninge: Kegels kan jou weer bewus maak van die spiere wat saamwerk wanneer jy ’n orgasme bereik. Oefen hierdie spiere deur te maak asof jy jou urienevloei wil keer. Trek jou bekkenspiere styf . . . en ontspan. Doen hierdie aksie ’n paar keer per dag. Niemand sal eers weet nie!

VIR HOM: Is jou middel-omtrek meer as 102cm? Laat jou testosteroonvlakke toets. ’n Normale testosteroonvlak gee jou oomph! As jy egter gewig rondom jou maag opgetel het, of as jou seksdrang of energievlakke afgeneem het, kan jou testosteroonvlak dalk te laag wees. Praat met jou dokter hieroor of laat jou testosteroonvlakke toets. Vir meer inligting hieroor, besoek: www.owntheoomph.co.za

EET DIÉ VIR ’N LIBIDO-HUPSTOOT

Dié resep uit Your best life deur dr Michael Mol en John Berry bevat eierwitte, wat laag is in kalorieë en vet, maar hoog in proteïene. Dit bevat ook selenium, vitamiene D, B6 en B12, en minerale soos sink, yster en koper. Die resep bevat ook piesangs en neute, wat as seksopkikkers beskou word.

Gesonde “brownies” (bedien 4)
Bestanddele:
6 organiese eierwitte
1 teelepel vanieljegeursel
2/3 koppie appelpuree
2/3 koppie heuning
1 eetlepel botter
1 ryp piesang
2/3 koppie kakaopoeier
2 koppies gespelmeel (“spelt flour”)
½ koppie pekanneute, gekap (of enige neute van jou keuse)
Metode:
Voorverhit die oond tot 140°C.
Skei die eiers en klop die eierwitte tot dit sagte pieke vorm.
Meng al die nat bestanddele saam in ’n bak, vou dan die eierwitte in.
Meng al die droë bestanddele saam.
Kombineer die nat en droë bestanddele in ’n groot bak en vou dit sagkens saam.
Smeer ’n bakplaat met botter en roer die mengsel in.
Plaas in die oond en bak vir 20-25 minute. Verkoel en sny in blokkies.

OEFEN SAAM!

Oefening is voordelig in elke opsig – ook in die slaapkamer. “Om te oefen, sal jou buigbaarheid, kardiovaskulêre fiksheid (want ons almal weet hoe vinnig jou hart kan klop gedurende oefening in die slaapkamer) en spierkrag bou,” sê Virginia Kinkel, eienaar en afrigter by Bodymass Gym.

Oefening sal jou help om sexy en ferm te voel in jou eie vel. Boonop verhoog dit jou bloedsirkulasie. Dit help ook om van gifstowwe in jou liggaam ontslae te raak. Oefening stel hormone en endorfiene vry wat jou laat goed voel. En gewigsverlies deur oefening kan jou help om van oortollige vet ontslae te raak – wat jou natuurlik soveel beter laat voel oor jouself. ’n Fikse lyf is een wat meer geneig is om stamina te hê (ja, vir daardie marathon-sessies!), dit lei tot beter ereksies en beter bloedvloei – wat weer sorg vir fantastiese orgasmes!

As julle sukkel om jul skedules só te beplan dat julle saam in die gimnasium uitkom, wat van ’n oefenboek? Couples workout: Boosting your marriage, libido, better health, good sex and a long, happy life together deur Eric Newman kan ook in Kindle-formaat gekoop word. Dis ’n gids vir paartjies wat jou presiese instruksies gee vir elke oefening wat julle saam kan doen (met gedetailleerde teks en foto’s om seker te maak julle doen dit reg). Dit bevat opwarmingsoefeninge en 50 unieke en prettige oefeninge vir paartjies.

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.todaysparent.com, www.wikihow.com, netdoctor.com, www.thrillist.com.

*Skuilname is gebruik