Julle is al meer as 40 jaar getroud. Teen dié tyd moet hy weet jy dink hy is aantreklik, jy is lief vir hom en jy waardeer hom. Of moet hy?

Promosie

Julle kinders het al kinders. Julle het die lewe gelééf en kyk lankal verby die uiterlike. Teen dié tyd weet julle dat julle nie getroud is met mooi hare, ’n perfekte vel of ’n six pack nie. Julle ken mekaar deur en deur. Julle voltooi mekaar se sinne, maar soms is daar meer stiltes as woorde tussen julle.

Onthou egter, niemand is ooit oud genoeg vir ’n kompliment nie. Jou man het nodig om te hoor hy is aantreklik, begeerlik, handig, wys, innoverend of wat ook al hier van toepassing is op die maat met wie jy jou lewe deel. Hier is nege dinge wat jou grysaard nooit moeg sal word om te hoor nie:

  1. “Ek voel só gerus by jou, want ek weet jy kán.” Hierdie kompliment is op verskeie situasies van toepassing. Wanneer die finansies ’n bietjie druk, wanneer hy besig is met ’n DIY-taak, wanneer julle ’n moeilike situasie moet konfronteer. Hierdie woorde (of enige variasie hiervan) dra een baie belangrike boodskap oor wat jou man moet hoor: Jy glo in hom. Jy moet jou maat se grootste bewonderaar wees. Jy moet hom wys dat jy dink hy kán, want selfs al vertel die wêreld dit vir hom – hy wil dit van jóú af hoor.
  2. “Ek weet ek kan, want jy staan langs my.” Vertel jou maat dat hy jou aanvul en van jou ’n beter mens maak. Vir enige persoon is dit ’n wonderlike kompliment! Jy kan hierdie kompliment op verskeie maniere verpak, maar wat dit uiteindelik moet sê, is dat jy selfvertroue en innerlike krag het omdat die een met wie jy getroud is jou sterker maak en jou nie inhibeer of verswak nie.
  3. “Jy lyk vandag vir my nog net soos die dag toe ek jou ontmoet het.” Geen man is verhewe bó ’n sogenaamde oppervlakkige kompliment nie. Komplimenteer hom oor sy voorkoms. Maak ’n opmerking oor sy baard, oor die manier waarop sy hemp die kleur van sy oë beklemtoon, oor die gewig wat hy verloor het ter wille van sy cholesterol, oor die nuwe jeans wat hy dra . . . Wees spesifiek en eerlik.
  4. “Ek waardeer die feit dat jy my gehelp het om die pakkies uit te dra.” Hierdie kompliment is een waarvoor talle vroue skugter is. “Ek gaan hom nie komplimenteer hiervoor nie, want hy moet weet dit is iets wat ek élke keer van hom verwag,” is baie vroue se verweer. Maar die feit bly staan: Elke man wil nou en dan vir sy pogings beloon word met ’n kompliment. Selfs al ís dit iets wat hy behoort te doen.
  5. “Jy maak my trots.” Elke man wil hoor dat hy genoeg doen of genoeg is. Dat hy aan jou verwagtinge voldoen. Dat hy jou nie teleurstel nie. Onthou, ’n man koppel baie van sy eiewaarde aan prestasie. As jy hom gereeld kan laat verstaan dat hy aan méér as jou verwagtinge van hom voldoen, sal jy ’n gelukkige man aan jou sy hê.
  6. “Ek het soveel respek vir die manier waarop jy mense hanteer.” Daar is verskillende maniere waarop jy vir hom kan sê dat jy hom respekteer sonder om die spesifieke woord “respek” te gebruik, maar om wél af en toe die woord te gebruik, kan hom net goed doen. Onthou, dit is vir ’n man belangriker om gerespekteer te word as om geliefd te voel. Só wanneer jy dink aan jou behoefte aan liefde, hy het jou respek net soveel nodig.
  7. “Saam kan niks ons keer nie.” Jou maat het nodig om te hoor jy is sy spanmaat. Hy weet dit dalk na ’n huwelik van 40 jaar, maar dit is nodig vir jou om hom hieraan te herinner. “Kry daagliks ’n manier om jou maat te laat verstaan jy is aan sy kant,” sê Shannon Kolakowski, ’n sielkundige en outeur.
  8. “Kom ons lê ’n bietjie laat vanoggend . . . moet ek bo lê of onder?” Enige man hou van ’n vrou wat inisiatief in die slaapkamer neem. Jy het dit dalk gedoen toe julle jonger was, maar moontlik het voorspel en seks later ’n patroon begin aanneem. Daar is min dinge wat hom só goed sal laat voel soos wanneer jy matras-aksie voorstel! En ja, dit is vir hom ’n kompliment.
  9. “Ek is bitterlik gelukkig.” Deur jou eie geluk te kommunikeer, gee jy jou maat seker een van die grootste komplimente wat jy kan. Want aangesien julle saam ’n lewe deel, kan dit nie anders as dat jou geluk iets met hom te doen het nie. Vertel hom hoe gelukkig/tevrede/vervuld jy is en gee hom ’n stywe druk wanneer jy dit doen.

Die gevaarlikste terrein waarop jy ooit in jou huwelik kan beweeg, is wanneer jy jou maat sien as die kompetisie en nie as ’n spanmaat nie. Wanneer jy voel jy moet téén hom kompeteer en nie saam met hom nie. Dit is dan wanneer jy komplimente van hom wil weerhou, omdat jy voel dit neem weg van jou af in plaas daarvan om te besef dit dra by tot julle krag as ’n eenheid.

Promosie

Alle mense is  eenders – jy kan niemand ooit met té veel liefde bederf nie. Laat jou woorde van liefde, waardering en ondersteuning vrylik vloei en bou só ’n man wat dit waardig is.

 

Deur Annelize Steyn
Addisionele bronne: www.goodmenproject.com.