Ons wys jou hoe om in ’n spesifieke situasie jou liefde aan jou maat te bewys – in sy/haar eie liefdestaal.
Elke huwelik moet soms sterk staan. Die lewe is nie konstant nie en soms slaan ’n golf ons om . . . waarop ons dapper moet reageer en die volgende een trotseer. Miskien het jou maat sy werk verloor, miskien moes jou vrou onder moeilike omstandighede geboorte aan jul kind skenk. Dalk staan julle voor ’n moeilike besluit wat julle saam moet neem, maar julle is só bang julle kies verkeerd. Wees dapper in jul huwelik en wees sterk. Wys só vir jou maat jy staan hom/haar by in hierdie uitdagende tyd . . .
- As jou maat se taal van liefde WOORDE VAN BEMOEDIGING is . . . sê die volgende: “Jy is steeds my nommer een.” Volgens com kan bemoedigende woorde ons help om ons drome te bereik. As jou maat soos ’n mislukking voel, is hierdie woorde genoeg om hom of haar weer dapper te laat opstaan.
- As jou maat se taal van liefde GEHALTETYD is . . . herskep jul eerste afspraak. Jul huwelik gaan dalk deur ’n moeilike tyd. Is jy bang dat jou maat dink jou idee is simpel? Steek jou vrese in jou sak en dink aan wat dit vir jul huwelik kan beteken. Skeduleer ’n “eerste afspraak” en maak of dit die eerste keer is wat julle mekaar ontmoet. Probeer om dit so na as moontlik aan jul eerste afspraak te hou. Gesels oor onderwerpe soos boeke wat julle gelees het of nuwe uitdagings wat julle wil beproef. Probeer om nuwe dinge oor mekaar te leer.
- As jou maat se taal van liefde GESKENKE is . . . bederf hom deur nuwe onderklere aan te skaf en dit (sonder enige skaamte) te dra. Dit gaan dapperheid verg – van jou kant af! Manlief, jy kan haar ook bederf met nuwe onderklere (vir haar!). Ook dit sal dapperheid verg – jy sal in ’n onderklerewinkel moet instap en vertrou dat jy haar (en haar grootte!) goed genoeg ken.
- As jou maat se taal van liefde DIENSBAARHEID is . . . en hy/sy moet alle moed bymekaarskraap vir ’n moeilike voorlegging die volgende dag, help hom/haar om die papierwerk in orde te kry. Bring ’n koppie koffie of tee en laat die kar was sodat hy of sy nie môre daaroor bekommerd hoef te wees nie.
- As jou maat se taal van liefde FISIEKE AANRAKING is . . . gee hom of haar in ’n tyd van uitdagings ’n rugmassering. Dit hoef nie ’n hele gedoente met masseerolie, handdoeke en kerse te wees nie. Vryf sy rug terwyl julle na ’n fliek kyk, druk sy been terwyl julle in die kar sit of masseer haar skouers terwyl sy sit en werk.