As ‘n verhoudingsterapeut en ‘n kliniese seksuoloog, help ek paartjies op ‘n daaglikse basis deur hartseer en verhoudingskwessies …

Promosie

Sommige van my kliênte werk deur infertiliteit, ander sukkel om te kommunikeer en sommige sukkel met die nagevolge van ‘n buite-egtelike verhouding. Sommige paartjies worstel met seksverslawing en probleme met libido. Al hierdie kwessies kan ‘n wig tussen paartjies (wat eens so gekonnekteerd gevoel het) dryf. Eindelik wonder hulle of hulle ooit die maat wat hulle mee getroud is, werklik ken. Daarom raai ek my kliënte aan om ‘n “posbeskrywing” te doen vir die maat waarna hulle op soek is.

‘n Posbeskrywing

Ons almal het ‘n idee van hoe ons ‘ideale maat’ lyk. As ons met iemand uitgaan, vergeet ons soms om die posbeskrywing na te gaan om te sien of ons maat aan die kriteria voldoen. Te veel van ons sal eerder ‘iemand’ hê as wat ons ‘niemand’ het nie. Tog, wanneer ons eers getroud is, kan dit lei tot ernstige konflik as ons maats nie aan ons verwagtinge voldoen nie. Moet nooit ‘n verhouding binnegaan met die hoop dat jy jou maat kan verander nie – dit sal slegs lei tot ongelukkigheid vir beide van julle. Wag eerder vir iemand wat by jou ‘posbeskrywing’ pas.

Promosie

Gediskonnekteerd

As jy worstel met die idee dat jy gediskonnekteerd van jou maat voel, maar nie kan vasstel hoekom nie, kyk na die eienskappe wat vir jou die belangrikste is. Het jou maat hierdie eienskappe? Het jou maat óóit hierdie eienskappe gehad? As jy dink dat jy en jou maat hulp nodig het om weer gekonnekteerd te voel, moenie skaam wees om vir hulp te vra nie. Leer hoe om jou behoeftes aan jou maat te kommmunikeer – dit is die eerste stap tot die herbou van jul verhouding.

Hier is my top 6 eienskappe vir die ideale maat. Die maat is …

  1. Versorgend. Wanneer jy siek is of onder hewige druk by die werk verkeer, het jy iemand nodig wat jou verantwoordelikhede vir ‘n rukkie sal oorneem – of dit is om maaltye voor te berei, om huishoudelike take te doen, om die kinders se huiswerk te hanteer of om jou in die bed te sit met Vitamiene C en ‘n warmwaterbottel. Ek wil graag hê my maat moet oor my koer wanneer ek sleg voel. Ek het ‘n maat nodig wat vir my tee in die bed sal bring, sal seker maak ek neem my medisyne en my sal toelaat om dinge rustig te vat tot ek herstel.
  2. Sagmoedig. As jy iemand is wat diere liefhet, of by ‘n liefdadigheidsorganisasie uithelp, het jy nodig om iemand te kry wat jou deernis vir ander (mense of diere) deel. Dit is iets wat jy aan die begin van jul verhouding reeds moet uitklaar. As ‘n diereliefhebber, merk ek altyd op hoe mense van hul diere praat en hoe hulle hul diere behandel. Dit wys my hoeveel sagmoedigheid hulle in hulle het.
  3. Betroubaar. Staan jou maat agter jou? Ek vertel my kliënte om hulle te verbeel dat hulle oorlog toe gaan en omdraai om te kyk of die res van die weermag agter hulle staan vir ‘backup’. Jy moet oortuig wees dat jou maat vir jou daar sal wees – dit maak nie saak wát gebeur nie. Dat hulle agter jou sal staan – deur oorlog en deur vrede.
  4. Dit is iemand wat reg van verkeerd kan onderskei. Dit gaan alles oor hul waardestelsel. Paartjies het dikwels verskillende waardestelsels, maar onbetroubaarheid kan ‘n deal breaker wees. As jy jou maat leer ken, vind uit wat hulle dink belangrik in ‘n verhouding is. Vind ook uit hoe sy/haar vorige verhouding geeïndig het. Dit sal jou ‘n goeie idee gee van hoe waardig hulle vertroue in ‘n verhouding ag.
  5. ‘n Bedagsame maat is iemand wat jou opinie waardig ag en jou sal ondersteun, selfs al stem jy nie met hom/haar saam nie. Iemand wat dinge sal doen wat hulle weet vir jou belangrik is, selfs al verstaan hulle dit nie altyd nie. Hulle dink dalk dat blomme ‘n mors van geld is, maar verstaan dat dit jou geliefd laat voel, so hulle bestel dit om jou lekker te laat voel.
  6. Iemand wat jou goed genoeg ken om nie wrokke teen jou te hou vir dinge wat jy kwytraak as jy in ‘n slegte bui is nie. Of wanneer jy iets vergeet het, of wanneer jy hulle op ‘n manier seermaak nie. Dit is die soort persoon wat verstaan dat almal foute maak en niemand perfek is nie. En hulle is vir jou selfs liewer as gevolg van jou foute.

Artikel deur Leandie Buys

  • Leandie Buys is ‘n verhoudingsterapeut en kliniese seksuoloog van Port Elizabeth. Vir meer inligting epos haar by: info@leandiebuys.co.za of skakel haar praktyk by: (041) 379 5851. Besoek ook haar webtuiste by leandiebuys.co.za

***

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!