Verby is die dae toe koerantpapier slegs gebruik is om vis en skyfies mee te verpak! Dit is ’n alledaagse item wat in jou huis rondlê en wat kreatief ingespan kan word om jou maat mee te bederf. Ons wys jou hoe!

Promosie
  1. Skryf vir manlief in kodetaal

Hou hy daarvan om die koerant aan die ontbyttafel te lees? Neem vandag se uitgawe en skryf vir hom ’n liefdesboodskap deur die betrokke letters op die voorblad te omkring. Gebruik kleurpotlode of kleurkryte (een kleur vir elke nuwe woord). Eers sal hy wonder watter kringe op sy splinternuwe koerant is, maar hy behoort dit gou te ontsyfer. As hy nie ’n ontbyt-koerantleser is nie, kan jy vir hom ’n berig uitknip, jou boodskap “skryf” en dit teen die yskas vassit. Jy kan selfs stout wees met jou boodskap en jou jong kinders behoort dit nie te kan ontsyfer nie.

  1. ’n Spesiale idee vir eendag

Wat van ’n spesiale idee wat julle eendag kan saamstel as julle jul 50ste herdenking vier? Met elke herdenking, neem jul trouringe en plaas dit op die voorblad van daardie dag se koerant. Neem ’n foto in swart en wit (of manipuleer dit na swart en wit) en bêre dit. Eendag as julle genoeg van dié foto’s het, maak ’n collage. Dit sal die tydsgees saamvat van alles wat julle al deurleef het.

  1. ’n Mooi manikuur vir date night

Was jou hande en skrop elke nael met seep om dit mooi skoon te maak. Verf elke nael met ’n basislaag en laat dit droog word. Verf nou jou naels met ’n wit, room of nude kleur en laat dit droog word. Maak ’n klein glasie of bakkie vol alkohol of water. Doop elke nael in die vloeistof vir vyf sekondes. Neem ’n klein stukkie koerantpapier (met teks) en druk dit vas teen elke nael voordat jy die papier oplig – die ink sal op jou nael agterbly. Verf ’n deursigtige bolaag op elke nael en siedaar!

Promosie
  1. Die Sondagkoerant se agterblad

Jy weet dalk dat manlief elke Sondag so ’n paar minute langer aan die koerant se agterblad bestee, veral as daar ’n skamel geklede jonge dame daarop pryk! Verras hom dié Sondag . . . Gebruik ’n fotograaf wat spesialiseer in sensuele fotografie om ’n paar mooi foto’s van jou in jou beste onderklere te neem. So nie, vra ’n vriendin wat jy vertrou. Druk nou die foto uit op ’n gewone drukker – as jy blanko koerantpapier in die hande kan kry – selfs beter! Gaan koop nou self die Sondagkoerant en vóór manlief dit in die hande kan kry, plak die foto van jou dáár waar hy die wildvreemde dame gaan verwag . . . wees daar om sy gesigsuitdrukking te geniet!

  1. ’n Manlike bos blomme (of jou eie trouruiker)!

Wat van ’n alternatief vir ’n bos vars rose – een wat goedkoop is, van herwinbare materiaal gemaak is en langer hou! Jy het die volgende nodig: ’n Ou koerant, ’n skêr, ’n warm gomgeweertjie, bloemistedraad en lint. Sny ’n paar sirkels uit die koerantpapier met ’n deursnee van ongeveer 20cm. Maak nou ’n spiraal van elke sirkel sodat elkeen soos ’n slak se dop lyk. Begin nou by die buitenste punt en rol die spiraal op sodat elke spiraal soos ’n roos lyk. Jy kan selfs die buitenste rante bietjie omvou om dit eg te laat lyk. Plaas ’n kol gom aan die onderste punt van die spiraal en plak die blom vas. Neem nou ’n stuk bloemistedraad. Buig die punt dwars en plak dit teen die basis van die blom. Maak ’n hele ruiker van al jou spirale en bind hulle saam met nog draad, voor jy dit versier met ’n mooi lint.

  1. ’n Bedkassie met ’n verskil

Wag julle steeds vir bedkassies met flair om julle spaarkamer ekstra spesiaal te maak? En het julle vragte en vragte ou koerante in ’n pakkamer? Neem al die ou koerante, vou dit dubbel (soos die koerante in supermarkte verkoop word), pak dit op ’n stapel en bind ’n mooi swart fluweellint daarom. Siedaar! Jy het jou bedkassie.

  1. Vir ’n innoverende geskenk

As die finansies knap is, kan jy dié idee probeer vir ’n geskenk vir manlief: Glasmatjies. Neem groot velle koerantpapier, smeer dit met gom en rol dit op deur by een hoek te begin (jy rol dus in die skuinste op). Maak ’n paar rolletjies op dié manier. Jy kan besluit of jy dit nou ’n effe kleur wil verf en of jy dit só wil hou. Neem nou elke “buis”, smeer een sy vol gom en begin dit weer na binne rol – soos ’n spiraal. Laat dit droog word en jy het ’n coaster vir glase.

  1. ’n Uitnodiging vóór die sportnuus

Neem ’n ou koerant en knip woorde uit verskillende berigte om ’n stoute uitnodiging saam te stel, byvoorbeeld: “Wil jy graag hê ek moet jou wys hoe goed my nuwe bikini aan my lyk? Kom saam en ek sal jou ook wys hoe goed daardie einste bikini op ons slaapkamervloer lyk . . .” Plak die woorde in volgorde op ’n stukkie karton en los dit vir hom rég voor die sportseksie. Die kans is goed dat hy nie vandag by die sportberigte gaan uitkom nie en eerder sy eie sports in die slaapkamer sal wil gaan maak!

  1. Gaan jý die vrawerk doen?

Is julle nog ongetroud? As dit tyd is vir trou en jy moeg gewag is vir die perfekte oomblik, skep die perfekte oomblik. Bespreek advertensiespasie in die koerant – ’n volblad- of halfblad-advertensie sal natuurlik die meeste trefkrag hê, maar dit gaan jou ’n paar rande uit die sak jaag. As jy steeds hou van die idee, maar nie soveel geld tot jou beskikking het nie, wat van die classifieds in jul plaaslike koerant? Neem die koerant, rol dit op, draai ’n lint om en gee dit saam met ’n nota wat spesifiseer watter bladsy jou maat moet lees.

  1. Maak jul eie voorbladnuus!

Maak nuus deur jul eie liefdesverhaal in ’n koerantberig-formaat te laat druk. Neem ’n koerant en kyk van watter formaat julle hou. Vra ’n joernalis om dit vir julle in die regte styl te skryf of besoek die Internet om te lees hoe ’n goeie berig saamgestel word. Neem die “berig” en ’n mooi foto van julle na ’n grafiese ontwerper en vra haar om ’n kunswerk hiermee te skep. Die “datum van die koerant” kan byvoorbeeld die dag wees waarop julle ontmoet het. En die hoofopskrif iets soos: “Paartjie vind mekaar uiteindelik – ná drie jaar.” Laat druk die “berig” en raam dit vir ’n kunswerk in die huis.

 

Deur Annelize Steyn