Brenda het ver voor Hannes gestap in die paadjie na my kantoor toe. Sy het heeltemal eenkant op die bank gaan sit, Hannes op die ander punt – so ver as moontlik van haar af. Albei van hulle het gou hul bene gekruis en hul arms was gevou oor hul bolywe – albei effens weggedraai van die ander een af. Hulle gesigsuitdrukkings was strak en gespanne. ’n Mens hoef nie ’n berader te wees om te kon sien dat hulle baie emosionele afstand tussen hulle twee ervaar het en albei baie swaar gekry het nie.
Brenda het begin praat: “Alles het so verander – ons was so close. Voor ons getroud was, het Hannes enigiets gedoen om my gelukkig te maak – hy was liefdevol en niks was ooit te veel moeite vir hom nie. Hy het my regtig baie belangrik en spesiaal laat voel. Deesdae is dit net werk en gholf! Ek is moeg daarvoor om net altyd alleen vir alles te sorg en so onbelangrik in sy lewe te voel.” Dit was duidelik dat Brenda oorloop van hierdie gevoelens wat sy uitgedruk het – sy het al vir baie lank stilgebly oor hoe sy voel, maar het oor ’n lang tydperk meer en meer wrokke opgebou teenoor Hannes. Sy wou teen hierdie tyd al ontplof en was naby breekpunt!
Hannes het weer genoem dat hy nou al vir ses jaar voel iets is nie pluis met Brenda se gevoel teenoor hom nie, maar dat hy dit nie regtig kon verstaan nie – hy werk dan hard, sorg goed vir hulle drie (daar was nou al ’n pragtige seuntjie van twee jaar oud), loop nie rond nie en drink nie tot laataand saam met sy pêlle nie.
“Waaroor kla sy dan? Aan die begin van ons verhouding was sy só ’n warm vrou – sy kon my omtrent nie uitlos nie, ek het nooit gewonder of sy my begeer nie. Nou voel dit vir my of sy net seks het omdat sy reken dis haar plig – dis nogal ’n groot belediging vir my! Verder loop sy in die huis rond met so ’n stywe rug en gluur my aan as ek aanbiedings vir werk op my rekenaar afhandel. O – en as ek terugkom van ’n dag se gholf kan ek maar weet sy is so koud soos ’n vrieskas. Ek weet eintlik nie meer wat om te doen om haar tevrede te stel nie.” Hannes het regtig gevoel dat hulle verhouding reeds só verbrokkel het dat hulle dit nooit weer heel sal kry nie. Hy het vir professionele hulp gegaan as ’n laaste uitweg – eintlik meer om te kan sê hy het probeer ter wille van hulle seuntjie, nie omdat hy gedink het dit sou regtig help nie.
Die kwessie van resentment
Is dit moontlik dat twee mense wat só lief vir mekaar is die dag wat hulle trou, só ver emosioneel van mekaar af kan beland na ’n paar jaar se getroude lewe? Eintlik is dit ’n baie algemene verhaal. Wrokke of resentment gebeur nie in een groot gebeurtenis oornag nie – dit bou in klein korreltjies op oor ’n lang tyd. As elke klein stukkie nie uitgesorteer word nie, word ’n molshoop ’n reuse berg of ’n klein borreltjie lug word soos ’n groot lugleegte op ’n emosionele vlak.
Wanneer ’n mens se verhouding nog nuut is, skei jou brein goedvoel-endorfiene af – dit beteken dat jy net wil gee (in dié tydperk is dit regtig so dat niks te veel moeite kan wees nie!), jou pupille is gedilateer (die liefde is regtig ’n bietjie blind, sien?), jy wil nie eintlik eet nie (jy leef op liefde en passie), hoef nie te slaap nie en wil net kommunikeer en deel (“ons kon tot vieruur in die oggende gesels”, “ons kon regtig oor enigiets met mekaar praat”), dinge is mooier, het meer kleur en jou maat het absoluut geen foute nie (“ek kon nie glo dat ek so ’n wonderlike mens ontmoet het nie!”). So is ons nou maar gebou sodat ons op ’n baie gedrewe manier ’n maat kies.
Wanneer ons dan onsself verbind of commit aan iemand, verander dinge drasties. Dan moet jou brein weer ’n ander stof afskei, oksitosien – dit is die hormoon wat ons help om bande te vorm, want nou moet verhouding verander sodat ons kan aanbeweeg na langtermyn doelwitte. Dit gebeur gewoonlik wanneer mense trou, saam intrek, saam ’n baba het. Op ’n psigiese vlak verander dinge dan ook dramaties, want dan sê die psige: “Uiteindelik het jy jou aan my verbind en ek kan ontspan daaroor om jou te probeer wen vir my. Ek kan nou maar weer eet, slaap, inligting vir myself hou, wys ek het kopseer, ophou perfek wees. Ek wou regtig alles vir jou gee, maar nou is dit tyd dat ons ook aandag gee aan mý behoeftes – nou wil ek ook hê!” Jou psige gaan dus heeltemal in ’n ander fase in en dis heeltemal normaal en te verwagte dat jy nou ook emosionele versorging van jouself nodig het.
Hoe gebeur dit?
• Jy het dalk onrealistiese verwagtinge oor jou maat, bv: Hy sal my altyd emosioneel versorg, hy sal my altyd 100% verstaan, hy sal altyd net doen wat vir my die heel beste is, hy is perfek, hy sal altyd 100% van my behoeftes vervul, hy sal sommer vanself weet wat ek van hom nodig het.
• Jy het dalk nie genoeg vertroue in jou manier om jou behoeftes akkuraat en sonder uitstel aan hom oor te dra nie en hou daarom terug om te vra vir dinge wat jy nodig het.
• Jy is dalk nie gewoond daaraan om te vra vir dinge wat jy nodig het nie (jy is dalk nooit geleer dat jy mag vra nie, of dit het nooit gehelp as jy gevra het toe jy klein was nie). Jy is moontlik self nie heeltemal in kontak met wat jy nodig het nie omdat jy as kind maar altyd jou behoeftes moes onderdruk.
• Julle praat nie maklik oor moeilike dinge nie. Die moeilike dinge laai dan op, word meer, word meer kompleks en iemand word kwaad omdat dinge nooit uitgesorteer word nie. Hierdie kwade gevoelens word nie uitgespreek nie – wat die gevoelens weer sterker maak.
• As jy ’n vrou is, is jy dalk meer ingestel op emosies en onthou detail van dinge wat verkeerd geloop het beter (dis waar – vrouens onthou emosionele kwessies beter!). Omdat jy nie akkuraat kommunikeer nie, sit jy ekstra hupstoot in jou boodskappe deur middel van ’n tikkie sarkasme of verwyte. Laasgenoemde is ’n wenresep om hom op die verdediging te hê, wat jou weer laat voel of hy jou behoeftes glad nie verstaan nie. Dit kan ’n bose kringloop van misverstande en wrokke skep. (Raad hiervoor volg later.)
Hoe sal jy weet as wrokke die rede is vir die groot emosionele afstand tussen julle?
’n Paar baie diep-rooi vlae om voor uit te kyk:
• Een of albei van julle is minder lus vir seks vir ’n lang tydperk, of jy kon voorheen maklik en deesdae moeiliker ’n orgasme kry. Wrokke is ’n passion killer.
• Daar is ’n gevoel van spanning tussen julle – amper asof iemand enige tyd ’n landmyn kan aftrap.
• Wanneer julle oor moeilike goed praat, raak julle in ’n argument of debat betrokke: “Ja, dit is so, maar my punt is …”, “Ek is jammer daaroor, maar jy moet net verstaan dat …”, “Dit is nie so nie!” Dié gesprekke vat jul nêrens heen nie en dis eerder asof elkeen die volgende rondte probeer wen.
• Jy vang jouself uit dat jy negatiewe gevoelens teenoor jou maat koester: “Ek wens hy kan vir ’n slag voel hoe ék voel”, “Wag, maar – as jy so aangaan sal jy sien wat gebeur”, “Ek besef nou hy dink net aan homself, hy gee eintlik absoluut niks om vir my nie”, “Ag wat, ons moet nou maar vir die res van ons lewens maar net so voortploeter – niks gaan tog verander nie. Hy is soos hy is.”
Help! Wat is die oplossing?
’n Paar wenke:
• As die kloof tussen julle baie diep is, kry professionele hulp – soms is dit baie moeilik om self daardeur te werk, omdat ’n mens so verstrengel raak in ou emosionele wonde, die behoefte om gehoor te word en onbeholpenheid met praat oor moeilike goed.
• Doen ’n bietjie introspeksie:
1. Vra jouself af wat jy eintlik wou hê. Fokus op wat jou werklike behoeftes is en skryf dit neer. Dit mag dinge wees soos: “Ek wou hê my man moet my respekteer”, “Ek wou hê hy moet meer tyd aan my spandeer” en “Ek wou hê dat hy na my luister”.
2. Vra jouself watter negatiewe afleidings jy dalk gemaak het, omdat julle nie die moeilike dinge uitgepraat het nie. Dinge soos: “My man gee nie regtig om vir my nie”, “My man is nie so oulik as wat ek gedink het hy is nie”, “Ek moet al die werk doen hier rond” en “My man verstaan my nie”.
3. Vra jouself nou (wees baie eerlik!) hoe realisties hierdie afleidings van jou regtig was – dalk het jy die probleem erger in jou kop ervaar, omdat julle nie gepraat het daaroor nie?
4. Wat was jou emosies oor hierdie afleidings? Het jy bang, kwaad, hartseer, alleen, skaam, verwerp of verward gevoel?
5. Hoe het jy opgetree teenoor jou man as gevolg van hierdie afleidings en emosies? Het jy weggetrek of hom vermy? Het jy hom aangeval of was jy sarkasties? Het jy oor en oor probeer verduidelik hoe jy voel?
6. Vra jouself nou wat jy regtig vir julle wil hê – wat is jou kernbehoeftes? Die doel van ’n huwelik is tog om ’n lekker, gesonde verhouding te hê tussen twee mense wat baie van mekaar hou. In Brenda en Hannes se geval het sy geantwoord: “Ek wil baie graag hê ons moet weer naby aan mekaar voel. Ek wil graag voel of ek vir Hannes waarde het en of dit wat ek doen raakgesien word. Ek wil graag voel dat hy my regtig verstaan en dat daar meer romanse is in ons verhouding.” Hannes het weer gesê: “Ek wil graag voel sy sal ook na my luister en my behoeftes verstaan. Ek wil ook graag hê dat sy moet raaksien wat ek vir ons gesin doen en dat ek dit doen as ’n liefdesgebaar.” Ander paartjies sê: “Ek wil hê ons moet meer tyd saam spandeer/meer grense hê tussen ons en ons ouers/’n beter verhouding hê met ons ouers/meer kuier saam met vriende/meer opwindende seks hê.”
• Wanneer jy jou eie gevoelens beter verstaan en jy die een is wat daaroor wil praat, kan jy beplan wanneer jy hierdie dinge met jou man gaan deel. Kies ’n goeie tyd (dit hoef nie die perfekte tyd te wees nie!) vir ’n moeilike gesels/gesprek/dialoog.
• Dit help as ’n paartjie ooreen kan kom oor reëls vir só ’n gesprek – moenie aanval op enige manier nie en moenie verdedig op enige manier nie! Probeer net op die punt af verduidelik, probeer dan net luister en hoor. As een van julle begin verdedig, mag jy sê: “Jammer, ek het begin verdedig/aanval – kan ek asseblief oor begin?”
• Sê vooraf hoeveel tyd jy nodig het en hou dit kort en bondig (marathon emosionele sessies put jou maat uit!).
• Hou veral by wat jy regtig nodig het – dit hou die gesprek by die kernkwessie.
• Mik vir verbetering, nie perfeksie nie! As julle effense verligting of nader aan mekaar voel, effens makliker oor moeilike onderwerpe praat, bietjie minder moeilike kwessies vermy, is julle waarskynlik op die regte pad. Moet net nie weer êrens ophou en die moeilike onderwerpe vermy, sodat die wrokmonster weer kan groei nie.
Brenda kon leer dat as sy anders kommunikeer, wel uitkom met die dinge wat haar pla en op die punt af vra vir wat sy van Hannes af nodig het, hy wel kon luister na haar. Hy het elke keer ooreengekom om met een klein stappie ’n kompromie te tref om haar behoeftes te bevredig. Dit het ’n groot verskil gemaak toe sy begin praat (sonder om aangeval te word) en hy wel luister (sonder om te verdedig). Sy het weer gevoel hy verstaan haar behoeftes nou weer en dis weer veilig naby aan hom. Hulle kon keer dat klein wrokke groei tot reuse wrokke en kon weer naby aan mekaar kom. Emosionele konneksie is natuurlik ook ’n passie-opwekker en hulle sekslewe het ’n ongekende vlam gekry!
As dit júlle is, moenie die wrokmonster voer nie, maar doen iets aan julle situasie om te keer dat hy die oorhand oor jul huwelik kry.
Artikel deur Dr Wilmé Steenekamp
***
Wil jy seker maak dat jou huwelik hou?
Is jy gereed om in jou huwelik te belê?
Is jou moeg vir ‘n lou-warm huwelik?
Besef jy hoe kosbaar jou huwelik is en dat jy voortdurend daaraan moet werk?
Dan is dit nou die tyd om INTIEM / Marriage Capsule 7 stap uitdaging in jou huis te nooi!
Maak 2019 JOU jaar! ‘n Beter huwelik is binne jou bereik KLIEK NET HIER!