Elke man sê soms vir sy vrou haar boude lyk nié groot in die stywe broek nie. Dit is een van daardie wit leuentjies wat jy glo jou vergewe sal word omdat die doel die middele regverdig. Maar dan is daar die ander leuens.
Daar is die wittetjies en dan is daar die groot rooies! Soms vertel jy hulle en soms glo jy hulle bloot! Sekere onwaarhede kan amok maak in jou bed en uiteindelik daartoe lei dat jou huwelik sneuwel. Ons kyk na vyf van hulle . . .
Leuen nommer 1: “Deur te maak asof ek dit geniet, beskerm ek my huwelik.”
Jy is dalk ’n sensitiewe ou. Só sensitief dat jy met minder tevrede sal wees omdat jy glo jou eerlikheid sal jul huwelik skade berokken! Daarom swyg jy wanneer vroutjie dáár streel, in plaas van dáár. Jy flous jouself. Daar is niks onsensitief daaraan om jou vrou in die bed te lei en vir haar te wys of te vertel waarvan jy hou nie. Inteendeel, deur stil te bly, mislei jy haar en is sy onder ’n vals indruk dat sy jou gelukkig maak! Hoe langer jy stilbly, hoe vetter voer jy die leuen.
Leuen nommer 2: “My persoonlike stokperdjies beïnvloed nie my huwelik nie.”
Jy weet van watter “stokperdjie” ons praat, né? In die stilligheid surf jy op die Internet en bekyk jy vroutjies in skamele drag . . . tot daardie skamele drag ook later waai (en elke keer soek jy ’n groter kick!). Jy dink dalk pornografie is heeltemal onskadelik vir jou huwelik, maar wees op jou hoede. Daar is nie plek vir ’n derde party in jou huwelik nie. Pornografie is baie skadeliker as wat jy dink en dit steel die intimiteit in jou huwelik!
Leuen nommer 3: “Seks is vir mans belangriker as vir vrouens.”
Uit hierdie wanopvatting vloei allerlei probleme. Deur eerstens te dink dat jou vrou nie seks belangrik ag nie, maak jy ’n fout. Jou vrou begeer seksuele intimiteit – dalk nie noodwendig so gereeld en op presies dieselfde manier as jy nie, maar dit is waar compromise inkom. ’n Wanopvatting wat uit hierdie mite spruit, is die idee dat jóú seksuele behoeftes belangriker is as jou vrou s’n. Seksuele verwagtinge kan moeilikheid in jou huwelik maak. Gesels dus oor jul onderskeie seksuele verwagtinge.
Leuen nommer 4: “My vrou gaan my nooit vir my seksuele sonde kan vergewe nie.”
Jy het in ’n onbesonne oomblik (wat dalk langer geduur het as ’n oomblik) jou vrou verkul. Die waarheid is uit. Dis seer en diep wonde en julle probeer aan jul huwelik werk, maar dit neem tyd. Die skuldgevoelens vreet jou op, dit voel asof jou vrou die “oorhand” het en jy nooit jou “skuld” sal kan vereffen nie, en dit voel of die intimiteit tussen julle nooit herstel gaan word nie – veral nie in die slaapkamer nie. Wees gerus – baie huwelike herstel ná affairs. As julle sukkel om hierdeur te werk, besoek ’n huweliksterapeut en stap die geduldige pad na herstel.
Leuen nommer 5: “Wat buite die slaapkamer gebeur, het niks met ons sekslewe te doen nie.”
Moenie jouself mislei nie – dit het álles met jou sekslewe te doen. Al ooit die gesegde “Seks begin by goeiemôre” gehoor? Dit beteken dat selfs die manier waarop jy jou vrou wakker soen, as voorspel (of nie) kan dien vir later die dag. Dat jul optrede deur die dag uiteindelik die atmosfeer en intimiteit binne-in die slaapkamer bepaal. Moet dus nie onder ’n wanindruk verkeer nie, en begin vroeg reeds. Deel komplimente uit, stuur ’n bos blomme werk toe en soen haar behóórlik voor jy by die deur uitstap.
Uiteindelik is eerlikheid in die slaapkamer (en daarbuite) onontbeerlik. Jy dink dalk ’n ou leuentjie is onskadelik en troos jou met “Wat die oog nie sien nie, maak die hart nie seer nie”, maar in werklikheid mislei jy net jouself. Eerlikheid is nodig vir wedersydse vertroue in jul huwelik, so spill die beans . . . selfs oor die stywe broek as dit moet!
Deur Annelize Steyn