Daar is drie woorde, vier truuks en 15 minute wat jou sekslewe van middelmatig na uitmuntend kan neem. Leer dié gewoontes aan, en julle sal albei pronk met ’n glimlag op die gesigte.

Promosie

Sê dié drie woorde

Jy het uitgesien na ’n stil Vrydagaand. Rustig op die bank, met die kinders in die bed en ’n Game of Thrones-marathon. Jou maat het ander planne vir sý Vrydagaand in gedagte gehad. Dít kom jy met groot ontnugtering agter wanneer hy jou pajamatop se knope van bo af losmaak.

Waar laat dit jou? Voor ’n vurk in die pad! Jy kan (subtiel of nié) sy hand van jou boesem verwyder en sê dis waarlik nie deel van jou Vrydagaand-planne nie. Of jy kan aktiveer, deelneem en aanhits!

Promosie

Gaye, die skrywer van die blog Calmhappysexy, meen daar is drie woorde wat jou sekslewe kan verbeter. Jy kan een, twee of al drie in jou huwelik toepas vir top resultate:

  1. Aktivering: Aktiveer jou seksualiteit. ’n Mens raak dikwels so verlore in die harwar van jou dag-tot-dag roetine dat jy aan jouself dink as ’n vrou, ma, dogter, vriendin . . . maar nie as ’n seksuele wese nie. Dit kan help om meer tyd te bestee aan jou sensualiteit, soos om fyn onderklere te dra, lank in ’n gegeurde bad te week en openlik met jou maat oor seks te praat.
  2. Deelname: Die laaste ding wat ’n man wil hê, is ’n vrou wat “toegee” aan seks en gedurende die daad net daar lê en wag om klaar te kry. Dit is nie jou man se werk nie! Dit is ook nie net sy plesier en sy verantwoordelikheid nie. Só om ’n aktiewe rol in seks te speel, is ’n noodsaaklikheid en ’n voorreg. Ja, dit is normaal om soms terug te lê en orale seks te geniet of hom toe te laat om die voortou te neem, maar jy kan steeds deelneem deur te reageer op sy aanraking en met woorde, klanke of aksie te wys waarvan jy hou!
  3. Aanhitsing: Dit sluit aan by die vorige punt. Dit gaan daaroor dat jy so nou en dan dinge moet roer . . . inisieer seks en moenie altyd wag vir hom om dit voor te stel nie. Verras jou maat, probeer iets nuuts, skep die regte atmosfeer (deur byvoorbeeld in jou nuwe onderklere op sexy musiek te dans). Dit verg dikwels net klein aanpassings hier en daar, soos kerse, ’n nuwe posisie of ’n nuwe plek om waarlik dinge op te kikker! Wees jý die een wat dit na die tafel toe bring.

Probeer dié vier truuks

  1. Kry vir jouself ’n mantra, sê Sari Locker, seksafrigter en outeur van The Complete Idiot’s Guide to Amazing Sex. Nie dat ons glo jy het ’n pep talk nodig om van seks te hou nie, maar enige sportpersoon ken die waarde van goeie selfmotivering! Só as jy ’n romantiese aand beplan, begin die oggend al vir jouself iets sê soos: “Ek is ’n sensuele wese” of “Ek verdien goeie seks” of “My maat kan my nie weerstaan nie.” Herhaal dit deur die dag vir jouself (kies natuurlik jou tyd en plek mooi – jy wil nie met ’n rooi gesig staan as iemand jou midde-in jou mantra betrap nie!)
  2. Volgens die webtuiste com kan die reuk van komkommer, liquorice en babapoeier talle vroue se libido ’n hupstoot gee en hul bloedvloei met sowat 13% verhoog. Kort op dié geure se hakke is pampoenpastei en laventel, wat die bloedvloei met sowat 11% kan verhoog. Dalk is daardie komkommerskyfies op jou oë nie so ’n slegte idee nie en dalk moet jy tóg jou ouma se pampoenpastei leer maak.
  3. ’n Duitse studie het getoon dat vroue ’n 30% groter kans op ’n orgasme het as hul voete warm is, meen Dylan Trasher, verhoudingsafrigter en outeur van How to Find and Create Lasting Love. “So onnatuurlik soos wat dit voel, kan jy ’n meer kragtige orgasme kry as jy jou sokkies aantrek gedurende seks, of beter selfs, probeer ’n voetmassering met verhitte olies om dinge ’n bietjie aan te spoor.”
  4. Die laaste ding waarvoor ’n mens lus is, is nóg ’n “taak” of “verantwoordelikheid” op jou lys. Só hoekom kombineer julle nie plig en plesier nie? Navorsing aan die Universiteit van Washington wys dat vroue wie se mans meer in en om die huis help, meer gelukkig is met hul verhouding en gevolglik meer seks wil hê. Meneer, jou hulp met die in- en uitpak van die skottelgoedwasser dien dus as fantastiese voorspel!

Span dié 15 minute in!

In twee studies deur universiteite naby Toronto, waartydens 450 volwassenes ondervra is, is bevind dat die duur van toegeneentheid ná seks verband hou met seksuele tevredenheid en algehele verhoudingstevredenheid. Dus is naspel noodsaaklik as dit kom by die skepping van ’n intieme band tussen paartjies. Almal hou nie ewe veel van cuddle ná seks nie, maar doen dit en jy mag dalk net sien hoe dit jou verhouding (en sekslewe) verryk. (ozy.com)

 

Deur Annelize Steyn