Tussen kinders, werk, rekeninge en ander verantwoordelikhede kan ’n paartjie mekaar maklik verloor. Vind jy jouself deesdae ook heel onder aan jou vrou se to-do list? Ons help die kalf uit die put.
Ja, jy weet jou vrou is ’n uitstekende ma, maar jy kan maar net nie help om ’n bietjie afgeskeep te voel nie. Jy is skoon lus om jou tot tantrums te wend vir ’n bietjie aandag. Ons wys jou egter hoe om weer jou vrou se oog te vang – op ’n gesonde manier.
- Só ’n bek kort jam
Vroue is bekend vir hul multi-tasking vaardighede, maar selfs die vaardigste vrou kan soms van iets of iemand vergeet. Wanneer laas het jy en jou vrou ’n tydjie afgeknyp en met mekaar gesels sonder die kinders? Het julle gesprekke weggekwyn van intieme leer-ken sessies na: “Wat is vir ete?” ’n Sielkundige, Brian Blem, vertel die grootste fout wat mans maak, is om aan te neem hulle weet hoe hul vroue voel en dink. Vra haar en weet dan verseker wat sy van jou verwag. Sy hunker dalk net soveel na jul intieme oomblikke soos jy.
- Flukse Fanie
Moderne vroue is onder baie druk om alles op hulle eie te behartig. Kinders, ’n werk en alles wat daarmee saamgaan, is genoeg om enige iemand uit te put. As jou vrou moeg is van heeldag swoeg en sweet, gaan sy verseker te moeg wees om vanaand in ’n seksgodin te verander. Help haar dus waar jy kan. Begin solank met die kinders se huiswerk terwyl sy die kos maak en voor jy weet, is alles gedoen. Onthou George Thorogood se woorde: “You’ll be glad every night that you treated her right!”
- Verleidelike Frits
Jy is die jagter. Moderne mans skuil maklik agter die verskoning dat hul vroue nie meer seks inisieer nie, maar dis sommer ’n flou verskoning vir ’n man wat te lui is om te vry! Span jou visier in en beplan jou aanval, bekruip haar heeldag (nie op ’n ongesonde manier nie – niemand geniet ’n interdik of ’n vernederende polisiebesoek nie). Gryp haar en soen haar soos ’n wafferse Casanova wanneer sy dit die minste verwag of los vir haar ’n verrassing. Bou die spanning op deur sexy boodskappe te los of in die verbygaan aan haar te vat. Jy sal verseker vanaand die vrugte pluk.
- Panel beat jou huwelik
Het jy al alles probeer, maar sonder sukses? Dink in so ’n geval aan jou huwelik as ’n sportmotor: As jy self al die battery nagegaan het en dit wil nie aansluit nie, neem jy jou kosbare motor na ’n paneelklopper. Net so met jou huwelik. As jy DIY sonder sukses probeer het, gaan sien ’n kenner. Jou huwelik is immers baie belangriker as ’n motor.
Deur Monique Steenkamp
Bronne: Huweliks- en verhoudingsdeskundige Brian Blem, www.lighthousetherapycentre.co.za.