Omhels positiwiteit in jou huwelik en jy mag dalk ontdek dat allerhande onontginde kosbaarhede in jou maat opgesluit lê . . .

Promosie

Dit is ons sonskyn-uitgawe! Ons weet baie goed dat die son nie altyd oor jou huwelik skyn nie en dat sommige dae maar bra betrokke voel – selfs met neerslae hier en daar. Die goeie nuus is egter dat jou ingesteldheid ’n groot invloed kan hê op hoe jy oor jou huwelik voel.

Die hippokampus is die area in jou brein wat verantwoordelik is vir geluk en herinneringe. Maar om die meeste te maak van die proteïene en endorfiene wat deur jou brein vrygestel word, oefen! Deur positiwiteit te omhels en die klem te plaas op die mooi in jou maat, is die stryd al klaar halfpad gewonne. Ons help jou om van geluk in jou huwelik ’n prioriteit te maak!

’n Kwessie van ligging?

Promosie

Hoewel hulle sê dat geluk niks te make het met waar ’n mens is nie, maar saam met wie jy is (en ons stem saam), het navorsing bewys dat ligging wel ’n rol kan speel. Die gelukkigste mense ter wêreld woon in Ysland, Denemarke, Swede, Nederland en Australië. Die mees optimistiese mense woon in Nigerië en Mexico, en diegene wat die hoogste graad van tevredenheid toon, woon in Mexico en Puerto Rico. Moet ons jou en manlief nog ’n rede gee vir ’n romantiese oorsese vakansie?

Die son op jou gesig

Gaan stap elke dag saam met manlief – maar nie in die gimnasium nie! Sorg dat julle minstens 20 minute per dag buite deurbring. As julle dit saam kan doen, nog beter. En as stap nie jul ding is nie, wat van tuinmaak of swem? Navorsing bewys dat 20 minute buitekant jou in ’n goeie bui plaas, jou denke verbreed en jou werkende geheue versterk.

Op jou bord!

Die volgende vyf kossoorte kan jou in ’n japtrap gelukkiger laat voel, meen dié wat weet. Inkorporeer dit in jou en manlief se aandete en kyk wat gebeur: Voeg okkerneute en kasjoeneute by jou slaai, vervang jou spinasie met kale, bederf julself af en toe met oesters, en vergewe jouself vir jou daaglikse koppie koffie en blokkie donker sjokolade (www.today.com).

Wyse woorde . . .

“Geluk kan nie na toe gereis word, besit word of verbruik word nie. Geluk is die geestelike ervaring om elke minuut met liefde, genade en dankbaarheid te leef.” – Denis Waitley

Ons sê dit weer en weer . . .

Trou is ’n goeie idee! Getroude mense is 10% gelukkiger as ongetroude mense. In ’n navorsingsverslag waar mans gevra is of hulle baie gelukkig is met hul lewens, het 43% van getroude mans “ja” geantwoord, teenoor 20% van enkellopende mans en 21% van mans in saambly-verhoudings.

Uit die Boek

“Blydskap laat ’n mens se gesig straal; smart maak ’n mens terneergedruk.” – Spreuke 15:13

Herinner jouself

Omring jou met dinge wat jou gelukkig maak: Foto’s van jou en jou man, aandenkings van vakansies saam, mooi aanhalings, ’n liefdesbrief . . . maak ’n foto van julle twee jou screensaver op jou selfoon en jou rekenaar. En speel gereeld die musiek wat op jul troudag gespeel het. Dit alles dien as snellers wat jou kan herinner waarom jy jou maat lief het.

Werk jou agt ure in

Navorsing toon dat mense wat aan ’n slaaptekort ly, sukkel om positiewe idees te onthou en negatiewe idees makliker onthou. Moenie jou slaap onderskat nie! Kruip saans saam in (vroeg genoeg vir ’n bietjie speeltyd ook) en sorg dat jul wekker julle minstens agt ure se slaap toelaat.

Gaan kerk toe

In ’n studie het altesaam 43% van mense wat sê hulle woon weekliks ’n kerkdiens by, gerapporteer dat hulle baie gelukkig is. Altesaam 31% van mense wat sê hulle woon maandeliks ’n kerkdiens by het dieselfde gerapporteer. En slegs 26% van mense wat nooit kerk toe gaan nie, het hulself as baie gelukkig bestempel. Daar is ook bewys dat die vlak van tevredenheid in ’n huwelik hoër is vir mans en vroue wat beide gereeld kerk bywoon en God bestempel as die middelpunt van hul huwelik.

Sien jou geluk raak!

Aristoteles het gesê dat gelukkigheid van onsself afhang. Visualiseer jou geluk! Maak jou oë toe en sien jouself soos jy dink jy sal wees wanneer jy gelukkig is (of dit nou is met daardie rooi spykerhakke of met ’n trouring aan jou vinger). Doen moeite om hierdie visualiseringstegniek elke dag te oefen en jy mag dalk net jou brein truuk om gelukkiger te voel . . .

Maak ’n plan

Volgens www.time.com het navorsers sowat 5 000 mense van 83 lande ondervra en geleer dat drie van die dinge wat ’n mens op jou gelukkigste maak, die volgende is: Seks, oefening en sosialisering! Waarvoor wag jy?

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bron: www.lifehack.org.