Ek het êrens ophou moeite doen. Miskien was dit omdat ons lewens so besig voel so tussen skool toe ry vir hokkie en werk toe jaag vir ’n vergadering. Dalk was ek gedaan ná ek deur my eposse gewerk het of net moeg vir weer dink aan wat ons vanaand gaan eet.
Om moeite te doen of nie, het so half deel van ons troostaal geword. “Kom ons kuier Vrydagaand, sommer net kuier, ons gaan nie moeite doen nie.” So asof dit die kuier moontlik maak, want om nog iets op die “to do”-lysie te hê, is amper ondenkbaar. As ons familie saamkuier, is dit dieselfde. “Ons gaan net braai, kom ons maak braaibroodjies, dis minder moeite.”
Die Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) sê moeite is inspanning. Moeite doen vereis beplanning en tyd. Dit is iets wat ek myself intussen wysgemaak het ek min van het – maar ek wonder so oor die Paasnaweek of dit regtig só is en of moeite regtig soveel tyd neem. Ek besef dat die beste memories nogal moeite geverg het. Daardie spesiale kerkdiens, die spesiale date night, ’n spesiale ete, ’n mooi geskenk – dit wat ek kan onthou, is waar ek of iemand anders moeite gedoen het.
Met die Paasnaweek pas verby, dink ek terug aan ons familie se Paasete. My sussie se dogters is glad nie bang vir moeite nie en só word ’n familiefees gereël. Moeite doen het in hierdie geval beteken om meubels te skuif! Ons het die tafel pragtig gedek en toe ons gaste aankom, voel hulle sommer ekstra spesiaal oor die feesmaal wat voorberei is.
Die kuier trek laatmiddag nog sonstrale en toe die laaste familie groet, pak ons die skottelgoedmasjien en skuif die meubels woerts-warts terug. Ek het die dag só geniet dat ek ’n klein video vir almal gemaak het en dit aangestuur het. “Dit was die moeite werd,” dink ek en dié sinnetjie kry nuwe betekenis.
Dit is voorwaar die moeite werd om moeite te doen. ’n Briefie op jou man se laptop, ’n blom uit die tuin vir haar, vriende oornooi vir ’n rooiwyn- en Monopoly-aand, enigiets wat die sleur van elke dag kan verbreek en kan sorg vir ’n oomblik waarvan jy ’n foto wil neem. Dit verg waagmoed om moeite te doen . . . Doen dit in elk geval! Doen moeite met jou huwelik.
Deur Liezel van der Merwe