Wanneer ’n mens trou, dink jy seks moet spontaan gebeur. Ons word geleer dat dit iets is wat jy met jou lyf voel (en nie met jou verstand dink nie). En hoewel dit waar is, kan hierdie denkwyse ook groot moeilikheid beteken.

Promosie

Hoe onthou jy  jul eerste seksuele ervaring? Moontlik was dit pure vuurwerke – met opgeboude begeerte wat uiteindelik ’n hoogtepunt bereik het. Dalk was dit onseker, ongemaklik en meganies.

Elke paartjie en elke ervaring van seks is uniek, maar daardie aanvanklike keer (of kere) vestig dikwels ’n patroon van dít wat volg. Hoewel ’n mens slimmer word, soms meer avontuurlustig word en seks meestal verbeter namate ’n paartjie gemakliker raak met mekaar se lywe, kan daar ook patrone ontstaan wat moeilik is om te breek.

Veronderstel manlief het daardie eerste paar keer voorspel begin deur in jou nek te knibbel. Heimlik kon jy nie wag dat hy verder af beweeg nie, want jy is kielierig en die geknibbel is elke keer vir jou ’n marteling! Maar omdat jy sy gevoelens nie wou seermaak nie, het jy gemaak of jy hiervan hou.

Promosie

Vanselfsprekend wou hy verbeter op dít wat hy dink jy geniet en het die geknibbel nog langer uitgerek. Nou vertoef hy ure in jou nek. Hy dink hy bederf jou en jy kan nie wag vir hom om op te hou nie! Agter die skerms wil hy jou bevredig en jy wil hom nie seermaak nie, maar niemand vind baat hierby nie.

Kommunikasie in die slaapkamer is ’n móét, maar waar om te begin? Om te vra: “Hou jy hiervan?” is ’n goeie vertrekpunt, maar om ’n sensitiewe saak in die hitte van die oomblik aan te roer, kan sensitiewe ego’s beskadig.

Ons het vir julle ’n vraelys opgestel. Trek ’n lekker bottel wyn nader, klim (sommer in jul Adam- en Eva-pakkies) in die kooi en werk deur die vraelys. Wanneer een party sukkel om te begryp wat die ander een bedoel, kan julle altyd van demonstrasies gebruik maak.

15 vrae wat elke paartjie vir mekaar moet vra:

1. Wat is jou idee van voorspel?
a) Seks begin met goeiemôre. Die oomblik wanneer ek my oë oopmaak, wil ek weet jy begeer my deur die manier waarop jy my wakker soen.
b) Ek dink dit is emosioneel. Ek wil graag weet jy dink aan my deur gebare – wanneer jy die kar vir my uittrek, ’n mooi SMS vir my stuur, my bel om my van jou dag te vertel.
c) Ek dink voorspel begin sowat 30 tot 60 minute voor seks met streling, aanraking en soene.
d) Voorspel duur vyf minute lank – ná jy my klere afgeruk het!

2. Vertel my van jou gunsteling seksuele ervaring tussen ons twee? Wat daarvan was vir jou spesiaal en sal jy dit weer só wil doen?

3. Wil jy hê ek moet seks inisieer? Indien wel, hoe gereeld?
a) Elke keer.
b) Die helfte van die kere.
c) Een keer elke nou en dan.
d) Nooit.

4. Watter van die volgende dink jy moet ons ’n bietjie ondersoek:
a) Nuwe posisies (net as variasie van wat ons doen).
b) Nuwe posisies (wat wissel van avontuurlustig tot akrobaties!).
c) Seksspeelgoed.
d) Rolspel.

5. As jy ons sekslewe ’n punt uit tien kan gee, wat sal dit wees?

6. Op watter gebied dink jy kan ons verbeter?

7. Hoe voel jy oor fantasieë?
a) Ek dink ons moet eksperimenteer in die rolle van ander persone (soos akteurs).
b) Ek dink ons moet steeds “ons” wees, maar eksperimenteer met rolle soos dié van ’n verpleegster, brandweerman en so meer.
c) Dis glad nie iets waaraan ek dink ons aandag behoort te gee nie.

8. Wat is jou top drie plekke waar jy graag sal wil hê ons seks moet hê?

9. Hoe voel jy oor kwantiteit in ons sekslewe?
a) Ek is heeltemal tevrede met die stand van sake.
b) Ek dink ons kan verbeter, maar ek is nie ongelukkig nie.
c) Ek dink ons kan heelwat beter doen.
d) Ek is baie ongelukkig oor hoe min/gereeld ons seks het.

10. Hoe kan ek vir jou wys dat ek jou seksueel aantreklik vind?

11. Wat sou jou ideaal wees ten opsigte van bogenoemde?
a) Elke liewe dag (ten minste een keer).
b) Vier tot ses keer per week.
c) Twee tot drie keer per week.
d) Een keer per week.
e) Een keer per maand.
f) Minder as een keer per maand.

12. Vertel my eerlik hoe jy oor orale seks voel?

13. Hou jy daarvan as ons dirty talk gedurende seks?

14. Wat dink jy van naspel? Is dit vir jou belangrik?

15. Is daar enigiets nuuts wat jy wil probeer, maar bang is om voor te stel?

Beantwoord elke vraag so eerlik as moontlik. Julle moet ooreenkom dat dit ’n veilige ruimte is waarin elkeen mag sê presies hoe hy/sy voel sonder om veroordeel te word. Dis ook ’n goeie idee om elke jaar hierdie vraelys te hersien om seker te maak julle is op dieselfde plek wat jul fisieke intimiteit aanbetref. Geniet die ontdekkingstog!

Deur Annelize Steyn