Swangerskap is ’n nuwe en opwindende, maar uitdagende, tyd in jul lewens as ’n paartjie. Jy help om ’n klein mensie te kweek en manlief staan aan die buitekant, magteloos en dikwels onbewus van hóé jou liggaam werklik gereedmaak hiervoor.

Promosie

Daar is diegene wat glo dat ’n mens jou instink moet vertrou en jou nie te veel moet steur aan Google wanneer jy swanger is nie. Daar is ook dié wat voel dat, hoe meer jy jouself voorberei op dit wat voorlê, hoe rustiger en meer kommervry is jou swangerskap. As jy in die laaste kategorie val – hier is tien moet-weet dinge wat jou kan help om hierdie reis lekkerder en veiliger te maak.

  1. Speel klaar met oggendnaarheid. Kenners raai aan dat jy stadig uit die bed uit opstaan en sommer iets wat gemmer bevat in jou bedkassie hou (iets soos gemmerkoekies of suiglekkers). As jy ’n oulike man het, kan hy vir jou gemmertee in die bed bring. Droë beskuitjies, ontbytpap of springmielies werk ook. Sommige swanger vroue beweer dat hulle koue kos makliker binnehou en dat dit werk om aan ysblokkies te suig.
  2. Maak padveiligheid ononderhandelbaar. Wanneer jou boepie groei, is die versoeking om soms die veiligheidsgordel te los groot, maar moet dit onder geen omstandighede doen nie. Die skouergedeelte van jou gordel moet oor jou sleutelbeen geposisioneer wees. Die skootgedeelte moet onder jou boepie verbybeweeg – so laag as moontlik oor jou heupe – nooit oor jou magie nie. Skuif ook jou sitplek so ver as moontlik agtertoe.
  3. Sny die slegte gewoontes uit. Woorde wat swanger ma’s dikwels hoor is: “Ek het gerook/wyn gedrink/straf geoefen terwyl ek my baba verwag het en daar is niks fout met hom/haar nie.” Vroeër jare het mense nie van beter geweet nie, maar danksy navorsing weet ons vandag dis belangrik om rook, dwelmmisbruik en alkohol uit te skakel tydens swangerskap, want dit word inderdaad gekoppel aan ernstige geboortekomplikasies en risiko’s vir ma en baba. Alkohol wat deur ’n ma gedrink word, gaan die fetale bloedstroom binne met dieselfde konsentrasie as in die ma se bloedstroom en drankgebruik gedurende swangerskap kan lei tot fetale alkoholsindroom. Dit kan lei tot ondergewig en abnormaliteite in ’n baba se sentrale senuweestelsel. Gevolge sluit in: Miskrame, premature kraam en stilgeboorte. Rook beïnvloed die bloedvloei en suurstof wat ’n ongebore baba inneem – wat lei tot groeistremming en komplikasies soos vaginale bloeding, ektopiese swangerskap, premature plasentaloslating en premature geboorte.
  4. Oefen jou bekkenspiere. Dit dien as ’n “hangmat” aan die basis van jou bekken. Hierdie spiere ondersteun jou blaas, vagina en anus. Omdat swangerskap addisionele druk hierop plaas, kan hulle swakker voel en daarom moet jy soms vinniger hol vir die badkamer! Swak bekkenvloerspiere kan egter inkontinensie veroorsaak (wat beteken dat jy effens urineer wanneer jy hoes, nies, lag of oefen). Doen regdeur jou swangerskap bekkenvloer-oefeninge. Sterk spiere sal die geboorteproses ook makliker laat verloop. Babycentre.co.uk beveel aan dat jy agt bekkenvloer-knypoefeninge drie keer per dag doen.
  5. Luister vir jou lyf. Dis nóú belangriker as ooit. Jou liggaam voel dalk uit balans, want jy ervaar ander simptome as gewoonlik. Jy ervaar dalk meer honger en dors as gewoonlik. Soms is jy dalk moeër of vaker as wat jy gedink het moontlik is! Probeer om regtig na jou lyf te luister en jou lyf te gehoorsaam.
  6. Verwelkom die belangstelling. Jy voel dalk goor en is nie lus vir die vreemde tannie in die supermark wat aan jou magie wil vat nie, maar probeer dit in dié lig sien: Almal is saam met jou opgewonde oor die wonderwerk wat in jou groei. Shari E Brasner, outeur van Advice from a Pregnant Obstetrician: An insider’s Guide, sê dat jy jou naastes by jou swangerskap moet betrek. Wees verwelkomend en laat die belangrike mense in jou lewe die afwagting saam met jou geniet. Dis hulle wat ook daar gaan wees vir jou gedurende die moeilike tye in jou swangerskap.
  7. Moet jou nie steur aan jou (absurde) drome nie. Jy is heeltemal normaal! Die swangerskap-hormone doen snaakse dinge en jy kan vreemde goed oor jou ongebore baba droom – wees gerus, dis nie voorbodes nie!
  8. Neem genoeg foto’s. Moenie probeer om jou magie weg te steek nie – inteendeel, vier dit deur jou magie vir die wêreld te wys met ’n stywe rokkie of hempie. Dis net nege maande en jy gaan dit mis sodra hierdie tyd verby is. Neem genoeg foto’s om jou kinders te wys hoe hulle in jou gegroei het wanneer hulle die dag ’n bietjie ouer is. Dokumenteer dus jou magie se groei deur jou maat te vra om elke maand foto’s te neem in dieselfde posisie, in dieselfde klere, op dieselfde plek.
  9. Wees ekstra versigtig oor die higiëne waarmee jy jou kos voorberei, en skakel sekere kossoorte sommer heeltemal uit! Patee, ongepasteuriseerde melk, rou vleis, sagte kase en bloukaas kan listeria, ’n bakterie, bevat, wat ’n gesondheidsrisiko kan inhou vir jou ongebore baba. Jy kan ook salmonella kry deur rou vleis, eiers en skulpvis. Was jou eetgerei, borde en hande nadat jy rou vleis hanteer het. Toksiplasmose word weer deur ’n parasiet veroorsaak. Dis raar, maar kan jou ongebore baba benadeel. Was jou vrugte en groente goed. En moet eerder nie die katsand hanteer nie.
  10. Gesels met jou baba. Dit voel dalk vreemd, maar hoewel jou babatjie nog binne-in jou liggaam is, is hy of sy bewus van sy omgewing – wat in hierdie stadium jý is. Jou baba leer uit dít wat jy ervaar. Vertel jou baba hoe jy voel, wat jy doen en hoe jy daarna uitsien om hom of haar te ontmoet. Lees, dans en sing vir die kleinding wat nog binne-in jou baarmoeder groei.

 JUL GESONDHEIDSWENK: Jou aptyt gaan toeneem. Eet die regte kossoorte om toe te sien dat jy aan al jou liggaam se behoeftes voldoen. Wanneer jy dus ’n keuse moet maak tussen ’n pakkie skyfies en ’n blikkie dieetkoeldrank of ’n piesang en glas melk, kies laasgenoemde. Dit is dalk effens hoër in kalorieë, maar bevat die regte voedingswaarde sodat jou baba optimaal sal ontwikkel en jy gouer na die geboorte sal herstel.

JUL GESONDE RESEP: As jy peuselrig voel, beproef die volgende resep uit die boek Your Best Life deur dr Michael Mol en John Berry:

Promosie

Krakerige geroosterde kekerertjies (chickpeas)
2 blikkies kekerertjies, gedreineer
2 eetlepels olyfolie
1 teelepel gerookte paprika
1 teelepel sout en peper
1 teelepel fyngemaalde komyn
1 teelepel koljander
1 teelepel heuning

Meng alles saam en rooster dit op ’n bakplaat teen 200°C vir 30 minute lank.

JUL OEFENWENK: Swangerskap is ’n goeie tyd om te oefen. Julie Tupler, die stigter van Maternal Fitness, ’n New York City-gebaseerde maatskappy, sê: “Maagspiere rek en verswak gedurende swangerskap, so dit is belangrik om jou maagspiere te versterk om jou te help om die druk gedurende die kraamproses te hanteer, om rugprobleme te voorkom en om jou liggaam te help herstel. Oefeninge help ook om jou energievlakke hoog te hou en jou stresvlakke laag.” (parenting.com)

Leigh-Mari Wallace van Kruger Biokineticists in Pretoria beveel die volgende oefening aan: Oefen saam met jou maat deur opstote op ’n bal te doen. Dit oefen jou biseps en pektorale spiere, wat goeie krag bied in jou bolyf om ná die geboorte ’n pasgebore baba te dra. Gebruik ’n oefenbal of selfs ’n stoel as jy nie ’n bal het nie. Plaas beide jou hande op die oefenbal met jou palms wat na vorentoe wys. Buig nou jou elmboë terwyl jy met jou bors afbuk na die bal toe tot jou bors die bal aanraak. Druk nou weer weg vanaf die bal. Jou maat kan gewone opstote doen terwyl jy die bal gebruik. Onthou om jou agterstewe in lyn te hou met jou ruggraat soos wat jy ná en weg van die bal af beweeg.

 

Deur Annelize Steyn

Addisionele bronne: www.parenting.com, www.babycentre.co.za, www.healthline.com, www.parents.com, www.everydayfamily.com.