10 Droom Wegbreke vir julle Huweliksherdenking
’n Herdenking is meer as net ’n datum—dit is ’n viering van liefde, toewyding en kosbare herinneringe. Of julle nou die eerste jaar saam herdenk of ’n leeftyd van liefde vier, die perfekte romantiese wegbreek kan hierdie spesiale dag onvergeetlik maak. Van luukse lodges in die berge tot knus kuswegbreke waar tyd stadig verbygaan—ons het, in samewerking met LekkeSlaap, 10 romantiese bestemmings gekies vir paartjies wat wil herlaai, ontspan en hul liefde in styl wil vier. Laat hierdie spesiale reis ’n nuwe bladsy in julle liefdesverhaal oopmaak!
Coot Club – Stanford, Wes-Kaap
Op hierdie perseel is daar verskeie eenhede wat van paartjies en kleiner gesinne tot ’n groep van 10 gaste kan akkommodeer. Die eenhede bied rustige vakansieverblyf tussen die natuurskoon op Stanford se Kleinrivier-strandmeeroewer en het alles wat julle nodig het om ’n romantiese wegbreek een vir die boeke te maak: koninggrootte-beddens, ’n swembad, oopplan-leefarea met ’n kaggel en ’n fynbostuin op die oewer. Middagete en aandete is op die perseel by die klubhuis beskikbaar en julle kan die staproete in die nabygeleë Walker Bay Natuurreservaat aandurf.
Exhale Cottage — Montagu, Wes-Kaap
Exhale Cottage is ’n bekoorlike selfsorgkothuis met sonkrag op ’n plaas naby Montagu. Die knus kothuis is ideaal vir paartjies wat op soek is na ’n romantiese toevlugsoord in die natuur, wat privaatheid, rustigheid en ’n asemrowende berguitsig bied. Die hoogtepunt van die kothuis is die stoep met hangnette en ’n houtvuurwarmbad met ’n ononderbroke uitsig oor die mooiste natuurskoon en sonsondergang. Ontspan in die bad of stort buite terwyl die son agter die berge verdwyn. Julle kan ook die 2,5 km lange staproete verken en na die rotspoele stap om af te koel.
Eco Karoo Mountain Lodge — Luckhoff, Vrystaat
Hierdie lodge is ’n Instagram-gunsteling, so jou ander helfte sal beslis beïndruk wees! Dié unieke en eko-vriendelike lodge in die hartjie van die Karoo bied foto-geleenthede om elke hoek en draai en die luukse selfsorgsuites het elkeen ’n buitestort met ’n uitsig en ’n privaat stoep. Die lodge spog met ’n swembad met ’n uitsig oor die eindelose Karoovlaktes, ’n boma en ’n gemeenskaplike kombuis. Boonop is julle troeteldiere is ook welkom!
Berghouse and Cottages — Bergville, KwaZulu-Natal
Kom bly hiér en tiek die Drakensberge van julle emmerskoplysie af. Berghouse and Cottages skuil hoog in die Noordelike Drakensberge en hier kan paartjies behoorlik asemskep met die Amfiteaterberg as agtergrond. Kom skop jou skoene in ’n privaat kothuis uit en krul voor die kaggel met ’n glasie rooiwyn op. As die avontuurgogga byt, kan julle die perdry-, 4×4- en bergfietsroetes gaan verken en as kosmaak nie julle idee van ontspan is nie, is daar ook heerlike etes op versoek beskikbaar.
Klein Riviertjie — Beaufort-Wes, Wes-Kaap
Kom luister na die stilte se geraas by Klein Riviertjie, ’n bekoorlike, ongekunstelde kothuis 80 km vanaf Beaufort-Wes. Hiér kan paartjies die Karoo se vars lug, pragtige landskappe en sterrehemel vanaf die onderdakstoep bewonder. Die slaapkamer spog met ’n AGA-stofie om die ergste koue van die Karoo-nagte te verdryf en die kombuis is met al die nodige geriewe vir ’n maklike, moeitelose selfsorg-ervaring toegerus. Die plaas se stofpaaie is gemaak om hand aan hand verken te word en ná die tyd kan jy en Liefie rustig op die stoep se hangstoele agteroorsit ─ dít alles met ’n prentjiemooi Karoo-agtergrond.
Lookout Safari Lodge — Gauteng
Hierdie lodge is in die Dinokeng-wildreservaat geleë en bied ’n unieke bosveld-ervaring met ’n keuse van selfsorg- en tentchalets, elkeen met ’n braai-area en ’n privaat Jacuzzi. Hiér kan jy en jou geliefde ’n beeldskone uitsig oor die bos en die dam vanaf die uitkykdek bewonder, langs die vuurput gehaltetyd deurbring of in die swembad afkoel.
Mount Savannah Game Reserve – Dream Resorts — Gauteng
Mount Savannah se luukse chalets is die ideale wegbreekplek vir diegene wat van wildkyk en die natuurskoon hou. Die lodge skuil in die Wieg van die Mensdom en daar is ’n boma en ’n plonspoel waar gaste die buitelug ten volle kan geniet. ’n Wildrit is by die tarief ingesluit en julle kan elke oggend voor ’n opwindende dag ontbyt in die eetarea geniet.
Aloe Rock Cabin — Noordwes
Aloe Rock Cabin pronk op ’n wildsplaas, net 40 km van Rustenburg af. Hierdie betowerende kliphut wat op ’n 80 m hoë krans geleë is, is jou teken om daardie langverwagte en welverdiende blaaskans vir jou en jou wederhelf te bespreek. Dompel jouself in die rotspoel, ontspan in die Jacuzzi of geniet ’n wildrit om te seker te maak dat die stad se geroesemoes en bekommernisse wegkwyn.
Marina Views — Wes-Kaap
Vir diegene wat net op soek is na ’n vinnige blaaskans buite die stad, het Muizenberg die antwoord. Elke eenheid by dié gastehuis in Marina da Gama is vir selfsorg toegerus en bied toegang tot ’n privaat stoep met braaigeriewe op die oewer. Word wakker met ’n uitsig oor die kanaal, neem ’n kajak of ’n trapbootjie op die water en geniet ’n skemerkelkie op die stoep ná ’n lang dag van die Moederstad verken.
L’auberge Country Hideaway — Oos-Kaap
As ’n mens uit Gqeberha wil ontsnap, wag daar ’n plattelandse ervaring wat jou sommer laat voel asof jy ver weg gereis het. L’auberge Country Hideaway is troeteldiervriendelik, word met ’n inheemse woud omring en bied gastehuisverblyf in pragtige kamers wat elk sy eie badkamer, Netflix en dek het. Geniet ’n wandel langs die dam, ontspan by die gemeenskaplike lapa of bespreek ontbyt as ’n bykomende bederf.
The Hanging Garden Bushveld Eco-Retreat — Noordwes
Vir paartjies wat ’n intieme wegbreek in die natuur soek, bied The Hanging Garden Bushveld Eco-Retreat in Groot Marico die perfekte kalmte. Hierdie off-the-grid eko-chalet is ’n romantiese toevlugsoord in die Marico Biosfeerreservaat – ’n entjie vanaf die stad se gewoel. Die privaat selfsorg-eenheid spog met ’n knus oopplan-leefarea met ’n kaggel, ’n stoep met ’n sterre-dak en ’n ingeboude braai waar julle die dag kan afsluit. Daar is ook ’n verfrissende plonspoel, skilderagtige staproetes en wildkykgeleenthede by hierdie versteekte juweel.