Om heen en weer te vlieg, mag dalk gerieflik wees, maar waar is die romanse van ’n roete padlangs waarop julle met jul gunsteling-musiek kan saamsing, ure lank kan kekkel en kan stop by plekkies met name soos Koekenaap?

Promosie

Toe ons kinders was, was road tripping ’n algemene verskynsel! Ons het nie eens nodig gehad om te wag vir ’n volwaardige vakansie nie – selfs ’n naweeklange wegbreek saam met Oupa en Ouma Loskopdam toe was ’n goeie rede.

My oupa het nie daarvan gehou dat ons in sy kar eet nie en my ouma was ’n meestersjef met padkos-versnaperinge. Ek onthou die reghoekige Tupperware-houer met die hoenderboudjies, frikkadelle en kaastoebroodjies. En die ellelange lys van FAK-liedjies wat ons in die kar gesing het.

In daardie dae was dit nog heeltemal veilig om enige plek langs die pad stil te hou. Vandag nie meer nie. Maar moenie dat dit jou keer nie – road tripping is nostalgies, opwindend en, mits jy dit reg beplan, super-romanties . . .

Promosie

STAP 1: Verdeel die rolle

Dis ’n belangrike eerste stap. Só sien julle toe dat een nie op die ander een se tone trap nie. Wie is in beheer van die padkos? Wie sal die voertuig nagaan voor julle vertrek? Wie bestuur wanneer? Wie bespreek die verblyf? Wie haal die kredietkaart uit? Besluit vooraf – só kan julle misverstande vermy en konflik voorkom.

STAP 2: Beplan die hoe, waar en wanneer

Ons woon in ’n wonderlike land met natuurskoon wat jaarliks derduisende toeriste na Suid-Afrika lok. Jou plek van keuse sal afhang van die tyd wat julle kies om weg te breek.

Wanneer? In die winter is ’n mens geneig om berge toe te wil vlug, waar jy knus langs ’n kaggelvuur onder manlief se arm kan inkruip. In die somermaande is die see ’n gewilde vakansieplek en tussenin (herfs en lente) is dit lekker om bos toe te gaan – waar die klimaat lekker warm is, maar nie uitmergelend nie (jy wil darem energie oorhê vir ’n bietjie romanse). Vir ’n romantiese road trip is die ideaal natuurlik altyd vir paartjies om buite seisoen te reis, wanneer alles stiller is, goedkoper is en daar nie jillende kinders is om die romanse te versteur nie.

Waar? Elke provinsie in ons land bied iets besonders. Dink maar aan die Kaapse fynbos, Namakwalandse blomme, die Laeveld se bos en sitrusplantasies, die Hoëveld met sy bekoorlike dorpies en donderstorms, die stede met hul opwinding en liggies, en Limpopo met sy kremetartbome en diere. Dink aan KwaZulu-Natal met sy subtropiese klimaat en die Vrystaat met sy berge en wegkruipplekke . . . die lys is eindeloos. Vra julself die volgende vrae af wanneer julle deur ’n siftingsproses moet gaan:

♥ Is dit naby genoeg om te reis binne ons tydraam en ver genoeg om soos vakansie te voel?
♥ Is die pad soontoe toeganklik? Die Wildekus is byvoorbeeld een van ons land se mooiste streke, maar ’n mens het in sekere dele ’n 4×4-voertuig nodig om daar te reis.
♥ Voldoen dit aan ons al ons vereistes? Elke reisiger se behoeftes verskil. Stel vas of die roete en bestemming vir julle gaan werk deur die volgende te vra:

Wat is vir ons belangrik wanneer dit by reis kom?

a) ’n Gerieflike en oop pad of stil agterpaaie.
b) Toerisme-aantreklikhede of verskuilde juwele.
c) ’n Lekker atmosfeer of bekostigbare verblyf.
d) Natuurskoon of aktiwiteite.
e) Lekker eetplekke of lekker kuierplekke.
f) Luukse verblyf of basiese verblyf.
g) Privaatheid of sosialisering.

Bespreek elk van bogenoemde met mekaar en stel vas waar julle wil heengaan.

Hoe? Ja, julle sal padlangs reis, maar hoe gaan julle dit doen?

♥ Gaan julle sonder enige planne in jul klein motortjie spring en net ry waarheen die pad julle lei?
♥ Gaan julle ’n fyn uitgewerkte roete hê met voorafbespreekte plekke langs die pad?
♥ Gaan julle ’n tentjie pak of ’n karavaan sleep?
♥ Gaan julle ’n 4×4-voertuig huur?

WEN-WENK: Maak dit romanties deur ’n plek te kies wat vir julle spesiale betekenis inhou, soos die plek waar julle verloof geraak het of waar een van julle grootgeword het. As julle wil, kan een van julle besluit om die ander persoon te verras. As jy onseker is of jou maat van die bestemming gaan hou, gee hom/haar ’n keuse van drie plekke/roetes en beplan en reël van daar af!

 STAP 3: Beplan die stopplekke

Onthou dat die reis baie belangrik is – julle sal vir ’n geruime tyd ’n klein ruimte met mekaar moet deel, en dit kan frustrerend en uitputtend raak as die atmosfeer nie reg is nie. Onthou ook dat die stopplekke net so belangrik is as die bestemming. Kyk dus na jul kaart.

Dis ’n goeie idee om dit op die outydse manier te doen. Druk ’n harde kopie van die kaart uit en merk al die stopplekke waar julle graag wil stilhou. Neem julle brandstofverbruik in ag en kyk sommer deur middel van ’n Internet-soektog watter goeie garages op jul roete is.

STAP 4: Beplan die speellys

Enige road-trip-kenner sal vir jou sê dat musiek baie belangrik is as dit kom by ’n reis padlangs. Dit kan ’n lekker aktiwiteit vir date night wees om ’n speellys vir jul road trip saam te stel. Dit kan liedjies wees wat julle albei geniet of wat sentimentele betekenis vir julle het (soos die liedjie waarop julle jul eerste dans gehad het of wat gespeel het gedurende jul eerste ontmoeting). Maak dit pret deur om die beurt ’n liedjie te kies.

Dít is hoe jy ’n speellys op iTunes opstel:

  • Kliek op “File” en kies die “New”-knoppie, waarna jy “Playlist” kies. Só kan jy dit ’n naam gee. Gaan nou terug na jou biblioteek en drag & drop die liedjies vanuit die biblioteek in die speellys op die linkerkantse menu.

STAP 5: Maak padkos

’n Behoorlike road trip is nie volledig sonder padkos nie. Julle kan later langs die pad stop, maar maak julle eerste ete ’n ete uit die koelboks. Lekker idees:

  • Maak jou eie “trail mix” deur jul gunsteling droëvrugte, neute, sjokoladesplinters, granola en pretzels te meng en in pakkies te verpak.
  • Hou die inhoud van die koelboks koel deur sappies en water te vries om later te drink.
  • Raak nostalgies en pak koeksisters, koffie en beskuit, dadelvingers en Hertzoggies in.
  • Of hou dit eenvoudig (as jy nie handige Hanna is nie) en koop klaargemaakte eetgoed by ’n afdelingswinkel. (onthou ook klam lappies vir ná die tyd).

STAP 6: Maak spontaneïteit deel van die pret

Om ure aaneen te bestuur, kan baie vervelig raak. Doen lawwe goed deur by tweedehandse winkels te stop en die ou klere aan te pas. Stop by ’n koffiewinkel waar julle nog nooit was nie of laat die bloedsirkulasie weer vloei deur mekaar om ’n vreemde skool se atletiekbaan te jaag!

Probeer om op elke dorp waar julle stilhou een “tipiese” ding te doen, en iets heel onverwags of belaglik. Byvoorbeeld: Drink kersielikeur op Ficksburg (tipies). Soek walvisse op Upington (belaglik!). Dit sal beslis vir ’n giggel of twee sorg!

“Skryf” ’n storie. Die reëls werk só: Jy begin deur die eerste lyn van die storie te vertel. Byvoorbeeld: “Eendag, lank gelede, was daar ’n prinses wat niks van liquorice gehou het nie . . .” Waarop die ander party die volgende sin moet “skryf”. Julle sal giggel – dis gewaarborg. Julle kan ook lawwe vrae vir mekaar vra om die pad korter te laat voel en meer oor mekaar te leer. Hier is ’n paar idees:

  • As jy moet kies tussen om aandete vir ’n leeu te wees of heelaand lank na Dolly Parton te luister, wat sal dit wees?
  • Het jy ooit ’n crush op ’n onderwyser/es gehad? Vertel bietjie meer.
  • Van watter Afrikaanse liedjie hou jy, wat jy nooit in ’n geselskap sal erken nie?
  • Wat was jou gedagtes die eerste keer wat jy my ouers ontmoet het (pasop net vir hierdie enetjie, as skoonouers ’n sensitiewe tema in julle huis is, moet jy hierdie outjie liefs vermy!).

WEN-WENK: Beplan, maar moenie té fyn beplan nie! Dis goed om voorbereid te wees, maar ’n “road trip” verloop nie altyd volgens plan nie. Sommige paaie is toe en dan moet ’n ompad gery word. Soms maak ’n restaurant toe en soms speel die weer nie saam vir ’n buitelug-aktiwiteit nie. Julle “road trip” moet van só ’n aard wees dat onvoorsiene gebeure julle nie gaan ontstel nie. Julle wil jul bestemming bereik – hóé julle daar uitkom, maak nie regtig saak nie, solank dit groot pret is en julle as paartjie nader aan mekaar bring.

STAP 7: Skep herinneringe!

Wat ook al julle doen, skep herinneringe. Kry ’n selfie-stok, ekstra geheue op jou selfoon of kamera, en neem ’n dagboek saam. Dokumenteer alles sodat julle dit later vir die kinders kan wys (dié wat reeds daar is en dié wat nog moet kom).

Dit is nou alles behalwe dít wat julle definitief nie met hulle gaan deel nie – want deel van ’n romantiese road trip is natuurlik die romanse. Só maak genoeg tyd om af te wyk van die deurgetrapte paadjie vir ’n kaalbas-swem, klim mooi kranse uit vir asemrowende sonsondergange, steek vuurtjies aan vir ’n Karoo-tjoppie of vir hitte op ’n koue Vrystaat-aand. En soen, vroetel en vry die tyd verby . . .

 

Deur Annelize Steyn