So baie mense kyk elke jaar na die Comrades maraton en verwonder hulle aan die bo-menslike prestasie, sonder om een oomblik verwonderd te staan oor die ‘Comrades’ wat hulle self elke dag in die lewe deurswoeg! Radiokansel 657AM omroeper, Janine van Niekerk, het pas die 2018 Comrades voltooi, en deel haar uitkyk oor die huwelik as ‘n maraton.
Die Comrades maraton is verder, moeiliker, vreugdevoller en meer betekenisvol as wat jy ooit kan indink, maar dink gerus twee keer voordat jy so iets aanpak. En tog, is dit nie ook waar van die huwelik nie, dit is ‘n ultra-maraton en verg jou alles. Met alles bedoel ek dat die huwelik ‘n goddelike verbond is, nie ‘n wêreldse kontrak wat deur ‘n hof gekanselleer kan word nie, dit is tot die dood toe.
‘n Oorwinning wat jou duur gekos het, waarborg ‘n ander vlak van soet. Tydens ‘n ultra-maraton sien jy mense in allerhande vlakke van pyn langs die pad, maar hulle stop, gooi op en dan stoei hulle verder. Daardie medalje is verseker al die moeite werd.
Wat is ons medalje in die huwelik? Dit is ‘n lewe in oorvloed, heel huweliksvennote, ‘n nageslag wat Hom en Sy weë eer, vrymoedigheid, hoop en vreugde.
Glo my, jy gaan nie die medalje kry as jy nie die maraton se roete volg nie, daar bestaan geen kortpaaie nie. Die Here het ook Sy lewensroete so duidelik in Sy Woord uitgestippel. Dit is hoe Sy huwelik werk:
Eerstens, trou met ‘n gelowige (spring weg by die regte wegspringplek). Geen Goddelike vrede en dekking wat deel van gelowiges se erfenis is, is van toepassing op julle, as jy nie van jou gade kan verwag om dinge volgens God se manier te doen nie. God se manier bring lewe.
Tweedens, vrouens, wees onderdanig aan jou man. Eer hom as die koning, priester en profeet in die huis. Respekteer hom met liefde. Die Here lig die nederiges op, jy hoef nie vir jouself te veg nie, Hy veg vir jou. Sy manier bring lewe.
Manne, wees lief vir haar soos Jesus lief is vir Sy kerk en Homself vir haar neergelê het. Hy het aan die kruis gewys hoe Sy heerskappy lyk – dit DIEN, dit lê Homself tot die dood toe neer. Jy stel jou dikwels bloot aan openbare vernedering, gebrokenheid, disrespek, liefdeloosheid, alles dinge wat moontlik is in die huwelik. Maar toe Jesus daar gehang het, het Hy gesê dit is die moeite werd, vir die vreugde van Sy bruid wat voor Hom gehou is. Dit is Sy liefde wat lewe bring.
Dit is onmoontlik vir twee mense in die huwelik, wat beide hulleself vir mekaar aflê, om mekaar te na te kom. Selfs al is daar foute, is vergifnis moontlik. Selfs al is daar verskille, is trots nie in die pad van liefde nie. Die vrugte van die Gees bring lewe in ‘n huwelik, maar dit kos jou altyd jouself. Altyd. Oor en oor. ‘n Lewenslange Comrades-maraton.
Luister na Janine op Radiokansel 657AM. Elke weeksoggend op Goeie Nuus Tyd, 07:00 – 09:00.
Laai nou die Radiokansel slimfoon toepassings af en luister waar jy ook al gaan: Kliek hier