In dié artikel wys ons jou hoe om in ’n spesifieke situasie jou liefde aan jou maat te bewys – in sy/haar eie liefdestaal.
Elke huwelik beleef van tyd tot tyd spanning, maar stres het al só ’n normale deel van ons daaglikse lewens geword dat ons immuun kan raak teen die simptome en waarskuwingstekens, sê Judy Ford, outeur van Every day love: The delicate art of caring for each other. Sy sê ook dat stres aansteeklik is en dat paartjies wat stres beleef, meer baklei. Moenie toelaat dat spanning julle onderkry nie en wys jou liefde op dié maniere aan jou maat gedurende stresvolle tye . . .
- As jou maat se taal van liefde WOORDE VAN BEMOEDIGING is . . . sê die volgende: “Ek weet dinge is vir jou moeilik, maar: ‘God het ons die genade gegee om dít wat ons nie kan verander nie met kalmte te aanvaar, die moed om te verander wat verander moet word en die wysheid om die twee van mekaar te onderskei.’” – Reinhold Niebuhr. Luister wanneer jou maat nodig het om teenoor jou af te pak.
- As jou maat se taal van liefde KWALITEITTYD is . . . kies te midde van hierdie moeilike tyd een Saterdagoggend om hom/haar heeltemal van die probleem te laat vergeet. Neem hom/haar uit vir ’n sjokolade-melkskommel. Volgens navorsing stel sjokolade goedvoel-hormone in die brein vry wat soortgelyk is aan dié wat deur marijuana vrygestel word!
- As jou maat se taal van liefde GESKENKE is . . . verras hom/haar deur ’n paar nuwe liedjies op iTunes te koop en af te laai deur ’n nuwe speellys te skep met die naam “Net omdat ek lief is vir jou”. Volgens ’n studie deur die Britse joernaal Heart, is stadige musiek ’n uitstekende stresverligter.
- As jou maat se taal van liefde DIENSBAARHEID is . . . help jou maat om voor te berei vir môre. Niks is meer stresvol as om onkant betrap te word nie, en hoewel ’n mens nie alles kan beheer nie, kan jy sekere dinge doen om ’n dol oggend te voorkom (wat net tot verdere stres bydra!). Gaan maak die voertuig vol brandstof, maak jou maat se lessenaar skoon, help om die kinders gereed te kry vir skool en pak vir jou maat ’n gebalanseerde kosblik werk toe in.
- As jou maat se taal van liefde FISIEKE AANRAKING is . . . spring in die kooi! Daar is soveel redes waarom seks jou stres kan verlig. Dis lekker, maar dit werk ook op die endokriene stelsel en seks produseer endorfiene en verlaag streshormone. Boonop bevorder dit intimiteit, so waarvoor wag jy? Navorsing het ook bewys dat drukke en soene stres kan verlig, so werk dit beslis ook by jul sekssessie in.