Jou gemaksone is ‘n lekker plek. Dis veilig daar, jy voel gekoester. En hoewel dit kléín is en daar nie ‘n uitsig is nie, weet jy wat om te verwag. So, jy bly daar binne. Reg?

Promosie

Karli knip haar toonnaels op die bed. Langs haar sit Jonas en tweet. Dis ‘n doodgewone naweek en Karli en Jonas weet klaar wat beplan is vir die naweek (sonder dat hulle dit met mekaar bespreek het!). Saterdag sal hulle laat slaap, wakker word met ‘n bietjie matras-aksie en gaan stort. Daarna sal Jonas gou na die koffiewinkel reg oorkant die huis stap vir hul Saterdagoggend Americano’s. En daarna sal hulle voor die kassie sit en ‘n nuwe reeks op Netflix takel. Saterdagaand sal hulle vriende vir ete ontmoet en Sondag is dit kerk toe en huis toe, waar die Netflix-marathon voortgesit word.

Niks verkeerd hiermee nie. Roetine ís belangrik in elke huwelik. Dit is tog deels waarin die sekuriteit van ‘n huwelik lê. Om te weet wat om te verwag, en gemaklik te wees by jou maat. Máár, dit raak ‘n probleem wanneer julle só gemaklik raak, dat dit julle verhoed om soms buite daardie gemaksone te trap…

In die artikel How Comfort can destroy your Marriage, skryf dr Steven Fonso: “As jy gemak eerder as groei in jou verhouding hoog op die prys stel, is dit maklik om verveeld en gefrustreerd te raak.  En beide verveling en frustrasie is nie die fondasie vir ‘n florerende en vervullende verhouding nie.”

Promosie

Kenners meen dat die huwelik gekenmerk word deur verskillende fases en dat paartjies die gemaksone betree wanneer hulle 3-4 jaar getroud is. Navorsing onder sowat 2000 Britse, getroude paartjies wys dat paartjies mekaar ná ‘n huwelik van drie en ‘n half jaar vanselfsprekend begin aanvaar. Dis in dié tydperk waar hulle begin om slaap bó seks te verkies en ophou om “Ek is lief vir jou” te sê. Dis ook wanneer jy begin om in ou pajamas te slaap en hy die toiletdeur oop los om met jou te gesels.

‘n Ander studie* het gevind dat die gemaksone intree na 11 maande en 24 dae! Ook dié studie het bepaal dit behels dat jou maat jou sien sonder dat jy moeite doen om goed te lyk. Dit is ook wanneer jy gemaklik genoeg is om delikate kwessies soos ‘n slegte asem of liggaamsreuke met jou maat te bespreek. Die studie het bevind dat  ‘n baie groot hoeveelheid van die 2000 paartjies wat ondervra is, getoon het een party het té vroeg gemaklik begin raak, sodat die gordyn prematuur gesak het en die illusie van die perfekte verhouding dus verlore geraak het. Natuurlik weet ons die perfekte verhouding bestaan nie, maar dit beteken steeds nie dit is nié waarna ons smag nie… Gewoonlik is dit die manlike party wat té vinnig gemaklik raak.

Dis baie belangrik om emosionele intensiteit in jou huwelik te behou. En soms is dit nie nodig dat hy álles weet wat in jou kop aangaan nie!

So, hoe klouter julle uit die gemaksone?

  1. Doen iets nuuts! Enigiets. Iets wat nie noodwendig vir jou lekker is nie. As jy absoluut géén belangstelling in rugby het nie, gaan eendag saam met hom na ‘n Loftus-game toe. En as jy nie jy ‘n kreatiewe haar op jou kop het nie, doen saam met haar ‘n illustrasie-klas.
  2. Binge maar oor ‘n naweek aan Netflix. Ja, ons gee jou toestemming om Karli en Jonas se voorbeeld te volg. Maar net vir één naweek! Navorsing aan die University of Aberdeen wys dat om saam na ‘box sets’ te kyk, groter verhoudingstoewyding en verhoudingsatisfaksie kan beteken.
  3. Besoek elke maand ‘n ander Suid-Afrikaanse dorpie. Een met stofstrate. Die enigste voorvereiste? Nie een van julle mag al ooit daar gewees het nie. Die uitdaging is om die opwinding daar uit te snuffel – selfs al dink die dorp júl besoek is die opwindendste ding wat die dorp in ‘n week getref het!
  4. Kompeteer met date nights. Maak beurte om ‘n date night te beplan en kyk wie kan die meeste kreatiwiteit aan die dag lê. Hou date night ‘n geheim en maak dit jou missie om jou maat te verras.
  5. Swaai dinge om. Dit pas nie almal se sak om gereeld weg te gaan of eksotiese restaurante te beproef nie. As dit voel asof julle in ‘n gemaksone verval, bring bietjie variteit in die slaapkamer. En as dit nie genoeg is nie, doen sommer net vreemde goed! Drink tee in plaas van koffie. Ruil vir ‘n week slaapkamers met een van die kinders. Kyk animasieflieks in plaas van aksiefilms en luister countrymusiek in plaas van rock!
  6. Hersien alle vlakke in jul verhouding. Praat julle genoeg oor diep dinge? Praat julle genoeg oor koeitjies en kalfies? Delf julle in jul emosies? Speel julle genoeg? Vry julle genoeg? ‘n Gesonde verhouding moet ‘n goeie kombinasie van al die bogenoemde wees. As julle voel dat julle iewers bietjie tekort skiet, werk daaraan.
  7. Wees soms ‘n bietjie onverantwoordelik… Julle is ‘n hele paar jaar getroud en daar is kinders in die prentjie. Deesdae dra julle jul stralekransies daagliks. Julle ry nie meer motorfiets nie, drink nie meer shooters nie, julle het nie meer kar-seks nie en julle gaan slaap vroeg. Maar dis okay om soms ‘n bietjie oor die sper-streep te beweeg, mits julle nie jul lewens in gevaar stel nie. Maak so nou en dan die hare los en onthou die sorgeloosheid van jul prille jeug!

Eindelik gaan dit oor ‘n gesonde balans. Julle mág maar gemaklik wees met mekaar, maar moenie dat dit jul huwelik se opwinding steel nie.

Addisionele bronne: www.brightside.me

*https://www.dailymail.co.uk/femail/article-2950402/30-signs-relationship-hit-comfort-zone-distance.html

Artikel deur Annelize Steyn

***

Indien jy meer sulke artikels soek en nie ‘n enkele stukkie raad van INTIEM wil mis nie KLIEK HIER en maak seker jy ontvang ons weeklikse nuusbrief!