Die huwelik is inderdaad nie net maanskyn en rose nie – só besef elke paartjie waarskynlik in hul eerste jaar reeds.

“Jy lyk vir my af, wat is fout?” vra jy vir jou vriendin wat nou al drie minute lank na haar koffie staar sonder om ’n woord te sê. “Ag, dis ek en Kabous. Ons gaan deur ’n fase . . .” Jy knik met die wete dat jy en manlief ook al deur só ’n “fase” was en nog ’n hele paar sal beleef.

Want die huwelik is meer oseaan as dam. Vol getye. Laaggetye, hooggetye, springgetye en ebgetye . . . en solank jy bewus is van die fases, sal julle okay wees.

In haar boek The nine phases of marriage: How to make it, break it, keep it, meen Susan Shapiro Barash dat elke vrou wat trou en kinders kry, nege baie definitiewe fases sal beleef. In haar navorsing onder 200 vroue uit verskillende omstandighede oor hul huwelike het sy bevind dat:

  • Altesaam 80% van vroue hul huwelike afskop met die idee dat dit gebaseer is op romantiese liefde.
  • Altesaam 70% van vroue mettertyd hul ongelukkigheid en ontevredenheid (emosioneel, seksueel en finansieel) oor hul huwelike uitspreek.
  • Altesaam 60% van vroue voel hulle het vir die verkeerde redes getrou.
  • Altesaam 65% van vroue sê dat as hulle oor kon kies, hulle nie weer met hul maats sou trou nie.

Susan sê dat as ’n vrou mooi na haar rol in elke fase van haar huwelik kan kyk, sy haar ontnugtering kan beperk en ’n manier kan vind om in daardie fase ’n beter band met haar man te bou.

Fase #1: Die hoopvolle bruid

Soos jou ouma gesê het, dít is die fase waarin jy op liefde en water leef. Of, soos jou ouma nié gesê het nie, op seks en sweets. Julle surf die see koel en kalm, want julle geniet die drie bestanddele van ’n gelukkige huwelik: Passie, intimiteit en toewyding. Die uitdaging van hierdie gety?

NEEM AKSIE: Julle floreer op passie en romanse en alles wat van Valentynsdag ’n kommersiële sukses maak, maar werk ook aan ’n vriendskapsband.

INTIEM-WENK: Huweliksvoorbereiding help ’n paartjie om die huwelik nugter binne te tree. Hierdeur word jy voorberei op die realiteite van die huwelik wat jou ná die tyd kan verras, sóú jy nie hierdie roete stap nie.

Fase #2: Die perfekte vrou

Vóór julle troue was hy ’n kranige kok wat jóú bekendgestel het aan die veelsydigheid van Quinoa. Hy het spur-of-the moment vakansies beplan en vir jou koffie in die bed gebring. Maar jou Prins Charming het in Shrek verander: Hy roep jou van die bank af en vra of jy asseblief vir hom ’n bier sal bring . . . en gee jy om om gou garage toe te ry vir ’n sak charcoal – hy het vergeet om te kry en die game is boeiend! Jou man voel hy het sy deel gedoen en sy toewyding gewys deur langs jou voor die kansel te staan. Jy voel ongewaardeerd.

NEEM AKSIE: Besluit: Wat gaan jy in stilte verduur . . . en wanneer gaan jou stem styg tot by daardie noot wat selfs vir Corlea Botha stom sal laat?

INTIEM-WENK: Julle settle nou in die huwelik in en dit is normaal om te besef jou man het ook foute (al het jy nie so gedink nie!) Hy beleef waarskynlik dieselfde. En terwyl dit belangrik is om nie groot issues te laat broei nie, is dit ook belangrik om te onthou: Don’t sweat the small stuff . . .

Fase #3: Die kindergesentreerde hen

Daar is ’n klein asempie in jou huis wat ál jou aandag steel. Skielik is manlief nie meer so interessant nie. Hy het immers sy doel gedien en die resultaat lê in haar ingevoerde wiegie vanaf Swede. Selfs sy dimples beïndruk jou nie meer nie, want hier lê jou vlees en bloed en haar perfek-gevormde sellulietbeentjies het meer kuiltjies as waarvan hy ooit kan droom! Hy voel afgeskeep. Jy versorg jou baba met sóveel toewyding dat jy nalaat om jou huwelik te versorg.

NEEM AKSIE: Onthou, julle is twéé ouers en één span. Jou maat het ook jou aandag nodig. Betrek hom by die grootmaak van jul baba en maak spesiale tyd nét vir hom.

INTIEM-WENK: Maak minstens een keer per maand tyd vir date night. Los die kleinding by iemand betroubaar (verkieslik ’n grootouer) en stel manlief gerus dat julle dit binnekort weer ’n weeklikse instelling sal maak. Neem julle voor om tydens dié afspraak glad nie oor die nuweling te gesels nie.

Fase#4: Die een-bed-maar-twee-drome scenario

Dis so tien jaar later en jy doen ’n happy dance wanneer manlief sê hy gaan op ’n visvang-trip. Ja, jy wil getroud bly, maar daar is verwyte in jou agterkop en die konflik oor finansies en kinderopvoeding begin om jou te vang. Hy wil jou dogtertjie soos ’n mini-non aantrek, terwyl jy weet die arme kind ly onder haar oorbeskermde pa. Jy raak ongeduldig met sy peperduur smaak. En voor jy jou oë uitvee, word klein jakkalsies groot bere!

NEEM AKSIE: Jou man voel dalk asof hy jou nooit tevrede kan stel nie. Voorkom teleurstelling deur nie sulke hoë verwagtinge te koester nie en net te vloei saam met die gety wat hierdie fase bring.  

INTIEM-WENK: Hou die kommunikasiekanale oop en maak seker een van jul onderwerpe van bespreking is rolverwagtinge. Verwag hy van jou wat jy nie bereid is om te bied nie? Praat oor die klein jakkalsies voor hulle in groot wolwe ontaard!

Fase #5: Die afstand wat jy nie verwag nie

Jou kinders word groot en jy word boring (in hulle oë). Jy voel soos ’n huishulp, kok, taxi . . . slaaf. Altesaam 60% van vroue sal in een of ander stadium van hul huwelik ’n affair aanknoop, sê Susan, en die kanse is goed dat dit nou sal wees. Dis ’n tydelike oplossing met dramatiese seer gevolge. Die kruks van die saak is: Jy mis daardie nabyheid tussen jou en jou man.

NEEM AKSIE: Wees bewus van jou emosies en die feit dat jy net hunker na ’n affair omdat jy die intimiteit tussen jou en jou man mis. Doen moeite met jul sekslewe en verras jou maat met sexy gebare.

INTIEM-WENK: Bewaar jou huwelik in dié tyd baie bewustelik teen affairs deur seker nie emosionele nabyheid met ander mans toe te laat nie, en reik uit na jou eie man. Maak tyd vir diep gesprekke om in voeling met mekaar te bly.

Fase #6 Die middeljare-egskeiding

Dis ’n baie delikate fase, want as jy jou huwelik in Fase 5 nie versorg het nie, bevind jy jouself in Fase 6 en wonder: Hoekom is my huwelik so leeg? Vir die eerste keer voel jy werklik sielsongelukkig en lyk egskeiding soos die enigste uitweg. Jou onvergenoegdheid kan die laaste strooi op die kameel se rug wees.

NEEM AKSIE: Gaan sien ’n terapeut op jou eie voor jy ’n afspraak maak vir huweliksberading.

INTIEM-WENK: Sluit by ’n liefdadigheidsprojek aan. Deur te sien in watter situasies minderbevoorregtes hulle bevind, sal jy n beter perspektief kry op alles wat jy tot jou beskikking het – veral die ondersteuning van jou maat. Só help jy ander én jouself tegelykertyd.

Fase #7: ’n Tweede kans – van voor af

Sowat 15 tot 30 jaar in jul huwelik in, het jy deur Fase 6 geworstel, weer na jou man en huwelik gekyk en besef: “Can’t live with him, can’t live without him”, meen Susan. Jy glo in die huwelik, en kyk nugter na die nadele van egskeidings en tweede huwelike. Jy is boonop te gemaklik om te skei, maar dit is ook die punt waar jy nie bereid is om so voort te gaan nie: Of julle gaan renegotiate óf ’n tweede huwelik raak ’n aanloklike opsie.

NEEM AKSIE: Gaan sit om ’n tafel en praat jul huwelik deur. Sê wat jou pla en wat jy graag wil sien verander in jul huwelik. Julle kán dit laat werk, mits julle nou hard aan ’n aksieplan werk!

INTIEM-WENK: Oorweeg huweliksberading. Dis nodig om ‘n objektiewe perspektief op jul huwelik en jul probleme te kry.

Fase #8: Balans

Teen dié tyd, met ’n hele paar dekades agter die blad, ken julle mekaar goed. En op ’n dag word julle ouma en oupa. Die hele balans verander en alle kunsmatige koestering word vervang deur outentiekheid. Dís die lewe. Dís wie julle is. Wees genadig met mekaar en ondersteun jou maat soos julle aanpas by die veranderinge in jul lewens.

NEEM AKSIE: Draai weer jou fokus na jou maat. Kry stokperdjies wat julle saam kan beoefen en vergewe mekaar.

INTIEM-WENK: In dié stadium is dit belangrik om nie só op die kleinkinders te fokus dat jou man weereens afgeskeep voel nie. Dit is nou die tyd en geleentheid vir avonture! Pak een saam met jou maat aan!

Fase #9: Compassionate liefde

Julle goue herdenking is om die draai en jy het die waarde van vergifnis geleer. Die vrou in Fase 9 is amper “adellik vrou”. Jy het aangepas by al die fases in jou huwelik en weet waaroor die lewe gaan.

NEEM AKSIE: Maak nou staat op mekaar soos nooit vantevore nie, maar behou ook jul individualiteit. Julle is mekaar se vangnet, só fokus op die hede en die toekoms en moenie ou koeie uit die sloot grawe nie.

INTIEM-WENK: Dra jul wysheid oor jul huwelik aan ’n jonger paartjie oor. Julle het al die ervaring in jul guns – deel dit met jonger paartjies wat daarby kan baat vind. Deur jul lewensreis en ervaringe te herroep, sal julle herinner word aan hoekom julle in die eerste plek lief geword het vir mekaar…

Jul huwelik beleef die fases waarvan Susan praat dalk nie so spesifiek nie. Dalk is julle gelukkig genoeg om nooit op die punt van twyfel of versoeking te kom nie. Maar die een les wat ons almal egter hieruit kan leer, is dat jy dit nie kan waag om aan te hou surf met die gedagte dat alles sal uitwerk nie. Elke getroude paartjie moet bedag wees op elke moontlike brander wat hul huwelik kan onderdompel. Weet die huwelik verg bewustheid en voortgesette harde werk . . .